Proestukkie: Resep vir liefde – Dina Botha

Chris lyk soos iets uit ’n modetydskrif. Vandag het hy ’n rooi polkakoldas by sy grys snyerspak aan. Sonder om op te kyk beveel hy: “Sit, juffrou.”
Hy maak die lêer voor hom oop. Dan lig hy hom agter die lessenaar op en kyk haar vir die eerste keer voluit aan. ’n Fronsie vorm op sy voorkop terwyl hy sy hand uitsteek.
“Het ons al ontmoet?”
“Nee … ek bedoel ja. Amper …”
Hy frons dieper. “Het ons, of het ons nie?”
Duidelik het hy nie geduld met tonggestremde mense nie, dink Chantal en verwens haar skielike onvermoë om haar te laat geld.
“Ons het mekaar … raakgeloop, of altans ek het. Ek was die meisie wat jou … um … meneer amper omgestamp het.”
“O,” sê hy en die kreukel op sy mooi voorkop verdwyn. Hy kyk na die lêer voor hom.
“Ek lees jy werk al amper vier jaar vir die koerant.”
Sy knik, want wat verwag hy van haar om te sê as hy die voor die hand liggende feite uitstippel.
“Sien jy die koerant as ’n langtermynberoep?”
Weer knik sy net.
“Dan sal jy jou sokkies drasties moet optrek.”
“Ekskuus?” vra sy, nie seker of sy hom reg verstaan het nie.
“Ek het deur jou laaste berigte en artikels gewerk en ek dink jou kosrubriek is die verveligste wat ek nog gesien het. Lees iemand ooit jou resepte of … is enigiemand verveeld genoeg om dit uit te toets? Dis … verbeeldingloos en wat my betref ’n vermorsing van papier. Die ruimte kan heelwat beter aangewend word vir advertensies.”
Chantal is doodseker haar gesig is spierwit, want Chris se kop beweeg nader en dan weer verder. Sy konsentreer hard om van haar skok te herstel.
“Wat sê meneer? Dat … my rubriek … gaan wegval?” Sy voel nie so flou dat sy nie die volle reperkussies kan snap nie. As haar rubriek by die deur uitvlieg, volg sy dalk kort op sy hakke.
“Dis nie wat ek sê nie, maar die moontlikheid is nie uitgesluit nie. Jy sal aan iets moet dink om dit te red. En as ek sê red, bedoel ek jy sal blitsvinnig met ’n hele paar vars idees vorendag moet kom. Ek gee jou tot …” hy kyk na sy tafelkalender, “volgende Vrydag kans om ’n voorlegging aan my te doen.”
Vrydag is die dag voor die einde van die maand. Dit beteken hy kan haar op Saterdag nog maklik ’n kalendermaand kennis gee. Haar mond voel skielik weer droog.
Chris maak die lêer toe en sit dit eenkant. Hy kyk haar ’n rukkie nadenkend aan asof hy haar nou eers opsom.
“Dankie, dis vir eers al. Vra asseblief dat juffrou Van Heerden my kom spreek.”
Sy voel soos ’n slaapwandelaar terwyl sy sy kantoor verlaat. Niemand het nog ooit so reguit gesê wat hy van haar werk dink nie. Die feit dat hy heeltemal reg is, maak dit egter nie makliker nie. Tot dusver het dit haar gepas. Daar is min uitdaging en min druk. Sy kon deur die dag die bietjie navorsing en skrywery maklik kafdraf en saans, as sy by haar huis kom, genoeg energie hê om aandag aan haar tweede beroep te gee. ’n Beroep waarvan bitter min mense weet en een wat sy hoop Chris nooit van sal uitvind nie. Nou skielik word albei bedreig. Verloor sy haar pos as joernalis by die Jakaranda, sal sy by ’n ander koerant dalk minder aandag aan haar geheime skryfwerk kan gee. Al genade is dat sy volgende Vrydag Chris Rheeder se asem met haar voorlegging moet wegslaan.

Kommentaar (5)

  1. AntwoordBets Smith
    Dit klink na 'n interessante storie: glad nie die tradisionele begin nie, Dina. Ek gaan hom sowaar lees sodra hy die lig sien.
  2. AntwoordMadelie Human
    Is besig om hom te lees. Kry hom gerus, dis Dina Botha uit die boonste rakke.
    • AntwoordBets Smith
      Is ek alweer agter die tyd?
  3. AntwoordAnnetjie van Tonder
    Dit lyk omtrent na lekkerlees. Mooi so, Dina.
  4. AntwoordArien Lubbe
    Ek dink ek moet 'n slag gaan pos uithaal en begin lees.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>