Kristel gesels oor die soet en suur van Lemoenseisoen

’n Facebook-floppie!

Facebook maak vir ’n mens ’n hele nuwe wêreld oop. Die geheim is egter om nie heeltemal in hierdie virtuele wêreld te verdwaal nie. En ook om nie jou verbeelding vrye teuels te gee nie. Iets waarin ek nie aldag slaag nie.

So ‘ontmoet’ ek toe vir *Bettie, vrolike Bettie met die pittige sêgoed en die onnutsige gesiggie. En ek geniet haar ‘posts’ baie. Nie lank nie of ek lees ook iets wat haar man, *Jan, op Facebook kwytraak. Jan antwoord op ’n geloofsvraag wat iemand anders gevra het – en hy doen dit met die nodig erns en insig, sinvol sonder om prekerig te raak. Ek hou dadelik van Jan en bewonder die wysheid wat hy in sy antwoord openbaar. Jan, sien ek toe ek nader ondersoek instel, is ’n predikant. Natuurlik, ja! Nou verstaan ek. Dié man praat nie net uit sy hart nie, daar is ook die nodige boekekennis in sy kop.

In die stilligheid wonder ek oor hierdie paartjie, die vrolike Bettie en die sedige Jan. Dit kan dalk net werk, besluit ek, veral as daar ’n balans gehandhaaf word. En tog . . . tog . . .wonder ek oor Bettie se lewe as Mevrou-dominee. Hoe gemaklik sy, met haar malkoppie-geaardheid, daarin pas om gemeentesake te hanteer en al die toue bymekaar te hou wat daar van ’n predikantsvrou verwag word. Sy wat juis op die oog af so allesbehalwe sedig, vroom en vroed lyk.

Die enigste manier om antwoorde op my vrae te kry, is om ’n storie daaroor te fabriseer.

Aanvanklik wou ek Jan die held maak, maar dan was daar geen storie nie. Ek besluit dus om van die arme Jan, van wie ek in die ‘werklike’ lewe baie hou, die antiheld te maak. En daar gaat ek – Bettie word Suzy en Jan word haar predikantsman wat haar nie aldag lekker verstaan nie.

En Bettie . . . of altans Suzy begin teen die prikkels skop, wil haar horisonne verbreed en begin vir Dante del Marco werk en die storie neem sy loop.

Alles goed en wel . . . Behalwe dat ek, toe Lemoenseisoen reeds in produksie is, vir Bettie in lewende lywe ontmoet. Net so skerp en slim en oulik soos ek verwag het. Die ene ‘cute’ gesiggie, grappig en vermaaklik en ’n babbelbek met heelwat te sê.

“Sy hoort op die stage!” is hoe ’n gemeenskaplike vriendin haar beskryf.

Maar . . . helaas! Ek kon wel ’n lekker storie hieroor skryf, maar ek het die kat behoorlik aan die stert beet. Want Jan bestaan wel en hy en Bettie het dieselfde van, bly ook op dieselfde dorp, ken mekaar en is facebook-vriende. Maar . . . in die heilige eg, of enige ander eg, is hulle beslis nie verbind nie. Facebook het my gefop en ek het hopeloos tussen my feite verdwaal geraak.

Don’t judge a book by its cover, not even facebook! Die virtuele wêreld is nog lank nie die ‘werklike’ lewe nie.

*Skuilname is gebruik om doodonskuldige lewende karakters se goeie name te beskerm.

Kommentaar (5)

  1. AntwoordBets Smith
    Wat 'n comedy of errors! en so maklik. Nou is ek eers nuuskierig oor Lemoenseisoen.
  2. AntwoordSusan
    Ek dink ek moet maar na Lapa toe ry om vinnig my hande op die een te sit. Die boekwinkels vat te lank om dit op die rak te sit, en jy het my vrek nuuskierig oor hoe die een gaan verloop.
  3. AntwoordElsa Winckler
    Wel, mens weet nooit Kristel, dalk kom Bettie en Jan tog iewers bymekaar uit - enigiets kan mos gebeur! Storie klink heerlik!
  4. AntwoordMadelie Human
    Nou't jy ons behoorlik nuuskierig, Kristel!
  5. AntwoordJolandé
    Dis wat mens 'n goeie skrywer noem! Ek dink dis baie slim, al was dit toevallig en sien saam met almal uit na die boek!

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>