Jou tyd is die beste geskenk – Felicia Snyman

blog-vier

November is ’n aardige maand. Dit is so naby aan die einde van die jaar dat jy die Nuwejaar sien aankruip soos ‘n kuiergas in die Karoo. Tog, is dit ook nog so ver tot die einde dat jy ’n Kilimanjaro van take oor het om te voltooi. Dit is asof die jaar heeltemal te lank raak en jy aan ’n ongeneeslike siekte van angstigheid begin ly. Die werksomgewing verwag van jou om bloed uit ’n klip te tap en daardie laaste paar sperdatums met oorgawe na te kom.

Selfs die weer ruk heeltemal hand uit. Ons beweeg tussen koue, bewolkte dae; bloedige warm dae; en vier-seisoene-in-een-dae rond. Selfs jou klerekas wil nie meer enige samewerking bied nie. Jy staan konstant tussen die keuse van warm- of koelklere; vet- of maerklere; en werk- of afsluitingsfunksie-klere.

Dit is gewoonlik die besigste tyd van die jaar. Soos ’n byekorf wat met rook gespuit en op die aarde losgelaat word. Binne winkelsentrums word dit totaal en al mal. Mense hardloop blindelings rond agter winskopies en verpligtinge aan. Die feesgety word reeds bemark dat die klokke klingel, maar jy het nog nie eens kans gehad om laasjaar se geskenke te geniet nie.

november-wedding-bouquet-bridal-bouquets-fall-flowers-arrangements-00008

In hierdie einste November voel dit asof ek konstant angsaanvalle beleef. Elke dag by die werk pak die stres my beet soos ’n natgelekte toffieappel wat aan mens se hande vaskleef. Dit is angswekkend! Daar is oomblikke wat ek net moet kalmeer en asemhaal. Selfevaluasie is in hierdie mallemeule broodnodig. Ek het myself streng aangespreek: Sit terug, haal asem en ontspan.

In my oomblik van waansinnige kalmte het ek besef dat dit alles as gevolg van beheer is. Ons, as mense, wil alles beheer! Ons het te veel ysters in die vuur. Te veel balle in die lug. Dit is wat angstigheid veroorsaak.

Die waarheid is dat ons almal soms ’n bietjie onvas op ons voete is. En dit is oukei! Ons hoef nie in beheer te wees van elke sekonde van die lewe nie.

Vat een minuut om koffie te drink saam met fantastiese mense, al is jou werkstresvlakke buite beheer.

Vertel een storie wat jou maak wie jy is, sodat jy mense met goeie herinneringe oor jou los.

Woon daardie een middel-van-die-week geselligheid by al gaan jy môre voel soos ’n nul op ’n kontrak.

Belangrikste van alles spandeer tyd met jou mense.

Stuur daardie een Whatsapp-boodskap vir jou nefie aan jou pa se kant wat eintlik ’n bietjie vreemd is.

Bel jou ma terug al gaan sy raas, omdat jy te laat gaan slaap en te veel gedrink het (volgens haar subjektiewe opinie, natuurlik).

Vat daardie een rit na gatkantsrand toe om jou vriende se baba te sien.

Wees daardie een vriendin wat iemand nodig het en waardeer die een vriendin wat tyd neem om na jou sinnelose gebabbel te luister.

Neem een oomblik om, as jy nog gelukkig genoeg is om grootouers te hê, na hulle stories te luister, advies te kry en resepte te leer.

In die gejaagde lewe is die beste geskenk wat jy vir enige iemand kan gee jou tyd. Dit alles begin by een mens − jy!

Jy kan Meer as ooit van Felicia vir vandag teen 45% afslag koop: http://bit.ly/2fLHIzj

 

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>