Angelique en die boekanier – Dina Botha

angelique-en-die-boekanier

“Ek het gedink dat Juffrou dalk vanoggend sal wil ry.”

Angelique lag. Soms dink sy Gaston ken haar beter as haar eie huismense. Hy is die enigste een wat verstaan as sy skielik ’n gier kry om Rosie uit die nedersetting te neem en met haar op die vlakte net agter die Kasteel te gaan ry. Dan onthou sy skielik iets anders – iets wat sy geruime tyd al wil doen.

“Saal haar solank op, ek wil net iets in my kamer gaan haal.”

Dit duur nie lank om te kry waarna sy soek nie. Sy haal twee rokke uit haar kas – ’n ligbloue en ’n grys katoenrok. Sy bondel hulle ineen en stap daarmee by ’n verbaasde Graatjie verby.

Gaston lyk ook nuuskierig, maar sy weet hy sal nie uitvra nie. Hy help haar in die saal.

“In watter rigting gaan Juffrou ry?” vra hy doodluiters, maar Angelique weet dat haar antwoord vir hom belangrik is.

“Na Voetheuwel se kant. Ek . . . ek het iets om in die see te gooi,” lag sy voordat sy Rosie in die rigting van die straat stuur. Toe sy omkyk, het Gaston reeds weggestap. Sy weet egter dat hy nou ’n perd gaan opsaal en haar op ’n veilige afstand gaan volg. Dis al jare sy gewoonte om haar op te pas. Dit het begin die dag toe sy en Christina by die Van Olgens ingetrek het. Hy het met haar bagasie by die huis opgedaag en vir Jan van Olgen gesê dat hy in opdrag van haar pa vir Angelique werk. Hy was so beslis dat Jan hom in beheer van die stalle aangestel het. Waar hy aanvanklik net tot die einde van daardie jaar sou aanbly, is hy nou al drie jaar in hul diens. Met verloop van tyd het hulle egter tot ’n kompromie gekom – sy gee voor dat sy hom nie sien nie en hy sweer hoog en laag dat hy nie naby haar was nie.

Toe sy die laaste huise van die nedersetting bereik, gee sy Rosie vrye teuels. Die kragtige perd skiet dadelik vorentoe en Angelique lag uitbundig toe die wind haar haarnaalde een vir een uitpluk en wegsmyt. Sy stuur Rosie in die rigting van die see, en op die kruin van Voetheuwel bring sy haar tot stilstand. Sy gly van haar rug af en haak die leisels aan ’n tak vas. Dan haal sy die rokke van die perd se rug af en begin versigtig in die voetpaadjie al langs ’n afgrond afstap.

Die see is effens onstuimig. Sy kan van die sproei teen haar gesig voel. Die branders wat met onbeskryflike krag teen die rotse breek, doof enige ander geluide uit. Die wind pluk-pluk aan haar rok en ’n oomblik wil sy omdraai, maar dan druk sy deur. Wat sy wil doen, is belangrik.

Sy laat haar blik oor die landskap gly. Alles lyk vanoggend vir haar anders, helderder. Die see is blouer, die lug lyk skoner en die gras is groener. Selfs die stukkie wit strand wat onder haar tussen die rotse uitsteek, is verblindend wit. Miskien het dit te doen met die wete dat sy nou amptelik volwasse is, of . . . moontlik het dit iets te doen met die soen wat sy gisteraand van die vreemdeling ontvang het – sy weet nie. Aan dié man wil sy eerder nie dink nie. Sy het amper die hele nag nie geslaap nie. Kort-kort het sy gevoel hoe haar gesig warm van verleentheid word, maar terselfdertyd het sy haar ekstase

in sy arms onthou. Wat haar nog meer hinder, is dat sy amper glad nie aan Adriaan gedink het nie.

Angelique skud haar kop en probeer die muisneste wegkry. Sy stap verder af in die paadjie, hoewel sy weet dat dit gevaarlik raak. ’n Fratsgolf kan haar baie maklik van die lysie afslaan.

Sy vat die eerste rok en bondel dit op. Sy onthou die belofte wat sy aan haarself gemaak het die aand toe Christina vir Willem ontmoet het. Sy het gesweer dat sy eendag elke grys en blou rok in haar besit persoonlik in die see sal gooi. Sy weet sy gaan dalk ’n bietjie oorboord, maar sy ervaar intense bevrediging toe die eerste rok al fladderend in die see beland. Sy lag vir haar eie verspottigheid en die grys rok volg die bloue. Die wit skuim verswelg die rokke amper onmiddellik.

Sy sien ’n skip wat net-net op die horison verskyn en skielik onthou sy iets anders uit daardie tydperk in haar lewe. Haar hand gaan na die kettinkie wat sy soms nog om haar nek dra, hoewel dit jare al nie meer vir haar sentimentele waarde het nie. Sy het lankal aanvaar dat sy hom nooit weer gaan sien nie. Vandag is die eerste keer in ’n lang ruk dat sy selfs sy bestaan onthou. Miskien is dit tyd om ook van daardie verspotte kinder- droom afstand te doen. Ná drie jaar kan sy in elk geval nie eens meer onthou hoe hy gelyk het nie.

Sy trek die kettinkie onder haar klere uit en kyk na die medaljon. Dit het haar nog altyd gefassineer dat daar twee embleme, een aan elke kant, van die medaljon gedruk is. Sy ken egter nie een van die families nie en weet dus nie aan wie dit oorspronklik behoort het nie. Sy haal die kettinkie van haar nek af en kyk vir oulaas daarna. Sy voel effens hartseer om daarvan ontslae te raak, maar vou dit nogtans vasbeslote in haar handpalm toe. Sy trek haar arm ver terug om dit diep in die see te gooi.

Dan stok haar asem in haar keel. ’n Staalband sluit om haar pols en sy swaai geskok om. Sy verloor amper haar ewewig en haar voete gly op die los klippe. Klein klippies skiet van die voetpaadjie af en val onder haar in die water. Die sterk hand hou haar egter veilig vas.

Angelique is nie seker wie sy verwag het om te sien nie, maar dis definitief nie die vreemdeling van die bal nie. Sy staar hom geskok aan en sukkel om ’n sin te formuleer. Toe kry sy haar stem terug, hoewel dit skaars hoorbaar bo die branders se geraas is.

“Wat soek jy hier?”

Sy voel hoe hy die kettinkie tussen haar vingers uittrek en dit in sy sak druk. Dan neem hy haar arm en dwing haar om die paadjie terug na die kruin te stap. Toe hulle uiteindelik bo is en die geraas minder, praat hy vir die eerste keer.

“Ek moet jou eerder vra wat jy daar onder doen, mejuffrou Van Olgen? Beplan jy om selfmoord te pleeg, of voer jy maar net een of ander onbekende of heidense ritueel uit?”

Sy verstaan nie dadelik wat hy bedoel nie, maar toe bloos sy onder sy donker blik. Sy kan hom tog nie van haar kinderagtige belofte vertel nie. Sy skud sy hand van haar arm af en sê met al die waardigheid wat sy kan bymekaarskraap: “Dis nie ’n heidense ritueel nie. Dis … iets wat al die Van Olgen-vroue doen as hulle … um …. volwassenheid bereik.”

“Gooi hul klere in die see?” vra hy skepties.

Sy weet dat hy nou met haar spot en haar hart klop vinniger. Gisteraand was hy vir haar aantreklik, maar in die helder daglig is sy oë nog blouer en sy vel nog blasser. Sy kan ook nie help om na sy verleidelike mond te kyk nie. Sy sluk en kyk vinnig weg voordat hy dalk iets in haar oë lees.

Sy stap na Rosie en sien dat hy sy perd aan dieselfde boom vasgemaak het. Haar oë rek. Hoewel sy baie lief vir Rosie is, sal sy beslis nie ’n eerste prys op ’n skou wen nie. Die graaf se perd, aan die ander kant, is ’n lieflike dier – pikswart, en sy spiere goed gedefinieer. Haar hand gaan werktuiglik na die perd uit, maar vir ’n tweede keer gryp Dante haar pols.

“Moenie! Monsieur is baie wild!”

Angelique huiwer ’n oomblik en trek haar hand weg. Sy gaan naby hom staan en druk haar hand in haar roksak. Sy hou altyd ’n suikerklontjie of twee in haar sak vir Rosie. Die perd beweeg weer senuagtig toe sy haar hand uitsteek, maar sy praat saggies met hom sodat Dante nie kan hoor nie.

Dante kyk verbaas toe hoe sy perd die suikerklontjie uit haar hand eet. Sy sit haar hand onder sy nek en klop hom saggies teen die blad. Die wilde trek verdwyn uit Monsieur se oë en Dante ontspan.

“Dis indrukwekkend, Mejuffrou. Jou skoonheid betower nie net man nie, maar ook dier,” sê hy lakoniek.

superromanza

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>