Haar sprokiesprins − Corne van Rooyen

“Ek is klaar,” sê sy ná ’n paar minute, bly dat haar stem normaal klink.

Werner knik net.

Met bewerige bene, gloeiende wange en ’n hart wat nog wild in haar binneste klop, loop sy agter hom aan.

Dan praat hy skielik: “Billie, jy moenie alleen hier kom swem nie,” sê hy ernstig.

“Hoekom nie?”

“Dis gevaarlik. Hier loop baie mense bedags verby en sien hulle jou soos ek jou nou hier gekry het . . .” Hy bly stil en skud sy kop as hy dink aan wat kan gebeur. “Asseblief, moenie alleen hierheen kom nie.”

Dan heers daar weer ’n ongemaklike stilte tussen hulle.

Toe hulle naby die huis kom, maak Werner keel skoon.

“Ek is jammer oor wat daar langs die rivier gebeur het,” sê hy. “Oor die soen, ek moes jou nie gesoen het nie.”

Belinda voel hoe ’n swaar klip in haar maag gaan lê. Hoe kan hy verskoning vra vir iets wat so ongelooflik wonderlik was? Dis nie asof sý jammer is dat dit gebeur het nie.

“Hoekom het jy my gesoen?” kan sy nie help om te vra nie.

“Ek weet nie,” sê hy eerlik. “Ek weet eerlikwaar nie wat oor my gekom het nie.”

“Vergeet dit, Werner. Ons albei was vasgevang in ’n . . . oomblik,” sê sy ongeërg, al is dit nie regtig hoe sy voel nie. “Sien jou,” sê sy en loop haastig huis toe toe hy in die rigting van sy bakkie beweeg. Sy hou net aan met loop en weet nie eens of Werner haar teruggegroet het nie.

Die oomblik tussen haar en Werner langs die rivier was onvergeetlik. Sy weet dit het nie veel vir hom beteken nie, maar vir haar was dit wonderlik en die oomblik tussen hulle is vir altyd in haar geheue afgeëts. Sy haal diep asem voordat sy by die agterdeur instap waar haar ma en Reneé besig is met aandete.

“En waar loop jy rond?” vra Reneé nuuskierig.

“Ek was by die rivier,” antwoord sy en gaps ’n stukkie pynappel uit die bak voor Reneé.

“En in jou onderklere geswem,” sê Erika en kyk met opgetrekte wenkbroue na haar.

“Miskien,” antwoord sy laggend.

“Eendag is eendag, dan gaan iemand jou nog uitvang,” terg Reneé. “Iemand het!” sê Reneé toe Belinda blosend wegkyk. “Wie?” vra sy nuuskierig.

“Niemand,” antwoord sy en loop deur se kant toe.

“Jy weet ek gaan aanhou vra totdat jy my sê wie dit is, nè?” vra Reneé.

“Ja, dis hoekom ek eerder loop,” antwoord sy laggend, stap by die deur uit in die gang af na haar kamer toe.

In haar kamer val Belinda op die bed neer. Werner het haar gesoen! Sy kan dit nou nog skaars glo en wat ’n soen was dit nie. Sy voel soos ’n tiener wat vir die eerste keer gesoen is, dink sy en kry lag vir haarself. Hy het haar nou wel verskoning gevra, maar hoekom het hy dit gedoen? kan sy nie help om te wonder nie. Dalk voel hy tog ook iets vir haar, dink sy hoopvol. Hokaai, Belinda, maan sy haarself. Sy mag nie veel kennis van mans besit nie, maar sy weet wel dat dit nie noodwendig iets beteken as ’n man jou soen nie. En dan is daar nog die feit dat sy net in haar onderklere voor hom verskyn het, en Werner bly ook maar net ’n man. ’n Baie warmbloedige een daarby, dink sy toe haar hart weer woes tekere gaan by herinnering aan wat by die water gebeur het.

Sy kry skaam as sy dink hoe gewillig sy in sy arms was. Dis nie hoe sy is nie. Die oomblik toe hy haar aanraak, het sy geen beheer oor haar liggaam gehad nie, dink sy geskok en skud haar kop verward. Sy verstaan nie wat oor haar gekom het nie.

Sy sal die soen nou wel altyd onthou, maar dit is beter as sy dit net afskryf as ’n oomblik van malligheid, anders gaan sy vir haarself baie hartseer veroorsaak as sy iets meer daarin sien as wat dit werklik was. Ja, dis beter so.

“Billie, kom eet!”

“Ek kom,” antwoord sy. Hoe gouer sy die soen in haar geheue wegbêre, hoe beter, dink sy en gaan sluit by haar gesin aan.

Bederf jouself met Haar sprokiesprins: https://bit.ly/2Kf3Rp4

Ook beskikbaar as e-boek: https://bit.ly/2HWpxpk

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>