Langnaweke, finansiële jaareinde en ’n afskeidspartytjie! – Zhan-Mishal

April, of eerder die maand van langnaweke soos ek dit ken, was die kortste maar tog die besigste maand van my internskap tot dusver. Dit is wonderlik om te weet jy kan jou week met ’n dag of twee kortknip en langnaweek hou, maar ek het vinnig geleer dat vakansiedae en langnaweke eintlik net in die uitgewersbedryf meer beplanning en werk beteken. Hoe so? Wel ons span medewerkers, die drukkers en koeriers hou natuurlik ook langnaweek en ek moes wakker wees om al die produksieskedules vir ons Niefiksie-department se projekte aan te pas om hiervoor voorsiening te maak.

Ek kan wel met trots rapporteer dat ek my eerste boek deur ’n volledige produksieproses geneem het en dat julle van Mei-maand af ons jongste Grootdrukblokraai-boek op die rakke sal sien pronk. My kopie is reeds gekoop, dit sal die perfekte Moedersdaggeskenk vir my ouma maak.

Nog ’n goeie tyding wat ek met julle kan deel is dat LAPA op ’n uitstekende finansiële jaar-einde kon afsluit en dat ons ouditeure ons met glimlagge vaarwel gewens het. LAPA Uitgewers werk baie nou saam met die ATKV en twee van hul top direksielede het lekker saam met ons kom partytjie hou en feesvier. Ons is bederf met fliekkaartjies, springmielies en koeldrank-geskenkbewyse vir twee mense en vinnig het almal begin gons oor ‘date-night’-idees.

Ek het nie ’n kêrel nie en gaan fliek graag alleen, op dié manier hoef ek niemand af en toe fluisterend te antwoord nie. Ek kan ontspan en fokus op die film. Dus gaan die geskenk vir my ’n dubbele bederf wees. Die film, Wonderlus, draai nou in teaters en dit is beslis op my moet kyk-filmlys.

Op ’n minder geesdriftige noot verlaat een van ons kollegas ons aan die einde van April. Marlies Haupt was meer as net ’n Fiksie Uitgewer en RomanzaKlub-spanleier. Sy was my mentor en ook iemand wat ek gou as vriendin beskou het. Almal in die kantoor gaan haar positiewe geesdrif en groot glimlag mis, ek gaan veral na ons koffie-oggende en geselsies in die kombuis verlang. Marlies het altyd reg gestaan om my vrae te beantwoord en was ook geduldig as ek soms drie keer my kop by haar kantoor ingedruk het om dieselfde vraag te herhaal. Tog is ons opgewondenheid vir Marlies se nuwe werk en die avonture wat haar afwag veel groter as ons hartseer vir haar afskeid.

Wanneer mens eers deel raak van die LAPA-familie vergeet ons jou nie sommer nie en ons weet Marlies sal nog ’n groot rol in elkeen van ons se lewe speel. Marlies het tot my groot geluk ingestem om my steeds te mentor vir die tydperk van my internskap en vir die tydperk wat daarop volg. Sy het al diep spore in my hart getrap en sal ook die begin van my loopbaan se pad help teer, hiervoor is ek meer dankbaar as wat woorde kan beskryf.

Die einde van April is ook die halfpuntmerk van my internskapperiode. Dit is amper ongeloofwaardig hoe die tyd verby gevlieg het. Hier by LAPA Uitgewers is ek gelukkig en sien ek uit na elke nuwe werksdag en sy leergeleenthede en werksuitdagings. Dus lig ek nou ’n denkbeeldige glas sjampanje vir die totsiens sê van ’n dierbare kollega en ook op die volgende drie maande van my internskap. Ek het ’n gevoel die beste lê nog vir my voor!

Groete tot volgende maand

Zhan-Mishal

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>