Fasade van die hart – Mari Roberts

Fasade van die hart verskyn in Mari Roberts se eerste Romanza-omnibus, Onvoorspelbare harte! Nou beskikbaar by LAPA Uitgewers.

Beate kyk gesteurd op toe die kelner ’n lywige spyskaart na haar uithou, maar glimlag dan dankbaar vir hom. Sy blaai daardeur en soos gewoonlik is elke gereg op die spyskaart watertandlekker.

Sy is so honger dat sy glad nie kan kies nie en begin weer van voor af alles deurlees.

“Die appelkoosspringboksaal is glo heerlik.”

Die haartjies in Beate se nek kriewel toe die diep stem agter haar praat. Langsaam lig sy haar kop, hark die donker kuif uit haar oë en stut haar ken op haar hand toe Derrick, sonder om te vra, oorkant haar plaasneem.

“Jy is steeds so arrogant soos vroeër,” merk Beate lui op, skielik bewus van die intieme atmosfeer van die restaurant toe die kerslig vreemde patrone oor sy gesig tower.

“Omdat ek by jou kom sit?” vra hy spottend en wink ’n kelner nader. “Waarom sal ek alleen sit as ek jou geselskap kan geniet?”

Sy swyg toe die kelner langs hulle verskyn. Terwyl Derrick met hom praat, verluister sy haar aan die rustigheid van sy stem toe hy twee glase vrugtesap en ekstra ys bestel.

“Jy is baie eie om sommer aan te neem dat ek vrugtesap sal drink,” merk sy droog op toe die kelner weggestap het. “Ek sou dalk iets sterkers verkies het.”

“En jy het nog net so ’n skerp bekkie soos destyds.” Hy leun gemaklik agteroor en beskou haar met versluierde oë. “Ons werk môre en kan dus nie een sterk drank drink nie. Netnou sien jy my vir een van die blouwildebeeste aan.”

“Nie maklik nie,” korswel Beate terug sonder om ’n spier in haar gesig te trek. “Jy kon egter eers gevra het wat ek verkies.”

“Ek kon seker, maar jou enigste ander opsie sou ’n gaskoeldrank gewees het.” Hy glimlag stadig en Beate se maag draai ’n volle drie honderd en sestig grade toe hy haar met sy geelbruin oë uitdaag. “Maar jy het destyds gasdoeldranke verpes, dus het ek aangeneem dat jy dalk eerder ’n glas vrugtesap sal verkies.”

Beate kan net na hom staar, te verbaas dat hy iets onbelangrik soos haar koeldrankvoorkeure onthou het. Sy moet op haar lip byt om nie iets simpels kwyt te raak nie en die ongevraagde blydskap in haar te ignoreer.

“My smaak kon verander het,” stry sy uit beginsel.

Derrick leun nader sodat sy die fyn geur van sandelhout kry en tot haar ergernis voel sy hoe haar wange warm word.

“Ek twyfel.” Sy oë vonkel onnutsig toe hy vra: “Jy was nog altyd baie beginselvas. Ek wed jy is steeds mal oor oranje en hou van vrugte-en-chutney-skyfies.”

Laggend skud Beate haar kop. “Jy verstom my met jou oplettendheid.”

Derrick knik hoogs tevrede. “Bettie, jy is enig in jou soort.”

“H’m.” Beate kyk skerp na die blonde reus oorkant haar. “En jy hou steeds daarvan om die wêreld ’n ligte skuddinkie te gee, ongeag wat die konsekwensies gaan wees.”

Toe hy met opgetrekte wenkbroue na haar kyk, vervolg sy: “Jou ongenooide slapery in my kamer vandag.”

“Jammer, man.” Hy lyk egter glad nie jammer nie, maar toe hy na haar kyk, is sy blik versluier. “Het ek onbewustelik probleme vir jou by iemand geskep?”

“Nee, maar dis ’n klein gemeenskappie dié en ’n storie het ’n manier om lelike stertjies te kry.”

“Met ander woorde jy is bang vir jou reputasie,” terg Derrick met iets soos tevredenheid in sy stem.

Beate skuif onrustig op haar stoel rond. “As iemand wil weet, kan jy mos sê ek het op ’n aparte bed

geslaap,” word sy hulpvaardig raad gegee, wat ’n ergerlike tongklik by haar ontlok.

“Wie gaan dit glo?” wil sy verontwaardig weet. “Hoekom het jy nie in jou eie chalet gaan slaap nie? Die bed in my kamer was tog baie ongemaklik en hopeloos te kort vir jou lang bene.”

Derrick is skielik ernstig. “Ek was bekommerd oor jou en wou net ’n rukkie daar lê, maar toe ek my kom kry, is dit vieruur in die middag en die kamer dolleeg.” Sy stem daal ’n fraksie.

“Hoe voel jy nou?”

“Die knop is nog gevoelig, maar ek het gelukkig nie hoofpyn nie.” Beate glimlag skeef, bewus van die heerlike hitte in die omgewing van haar maag oor sy sorgsaamheid. “Dankie vir jou besorgdheid.”

Derrick haal sy skouers op. “Nee wat, ek sou dit vir enigeen gedoen het.”

Sy slaan haar oë neer, onverklaarbaar teleurgesteld dat hy dit nie gedoen het omdat sy spesiaal is nie.

Ruk jou reg, raas sy met haarself en kyk op toe die kelner twee lang glase met yskoue lemoensap en ’n bakkie met ys op die tafel neersit voor hy hul bestelling neem. Hierdie keer laat Derrick toe dat sy vir haarself bestel.

“Goeie smaak,” is sy enigste kommentaar toe sy die appelkoosspringboksaal, wat hy vroeër voorgestel het, bestel. “Ek moes maar weer namens jou bestel het.”

Beate bloos bloedrooi. Die man sal hom darem wat verbeel, besluit sy ontstig.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>