Alles begin met ’n soen – Dina Botha

“Martiné, kan jy gou buite na iets kom kyk?”

Dis die eerste keer dat Stefan aan haar slaapkamerdeur klop en sy vind dit vreemd. Hy het ook net geklop, vinnig gepraat en toe begin wegloop.

“O, en bring jou Avis-motor se sleutels saam,” sê hy oor sy skouer.

“Wat gaan aan?” vra sy en volg hom die gang af. Hy lyk en klink so ernstig dat sy bekommerd raak. Hopelik het die kar niks oorgekom nie, want sy het al gehoor dat dit weke se moeilikheid kan veroorsaak.

Stefan loop deur die huis en by die voordeur uit sonder om haar ’n antwoord te gee. Buite en kort op sy hakke steek Martiné in haar spore vas. ’n Vinnige blik oor die groepie mense wat langs die vywer staan, verklap dat dit omtrent al die huiswerkers is. Toe maak hulle plek vir iets agter hulle en Martiné kyk teen ’n plat silwer motor vas. Dieselfde fabrikaat waarmee Amanda ry. Om die motor se kajuit is ’n groot rooi lint gebind.

Stefan loop nader en hou ’n sleutel na haar uit.

“Wie s’n is dit?” vra sy dom.

“Dis joune. Jou pa het gesê dat ek vir jou ’n motor moet koop. Jy kan nie vir altyd met ’n gehuurde kar rondry nie. Hier, neem jou sleutel.”

Voordat sy pertinent kan sê dat sy dit nie gaan aanvaar nie, word sy uit alle oorde gelukgewens. Die huiswerkers is namens haar so opgewonde dat sy die sleutel huiwerig neem toe Stefan dit weer na haar uithou. Steeds het sy geen intensies om dit te aanvaar nie.

“So ja, julle, terug werk toe! Juffrou Rénard wil seker ’n entjie met haar nuwe motor gaan ry,” jaag Maria die huiswerkers aan. Uiteindelik bly net Martiné en Stefan oor.

“Dit was nie jou pa se idee gewees nie, ek weet dit sommer.”

“Dit was wel. Ek het ’n paar aande gelede met hom gesels en ons het terloops oor jou planne vir ’n nuwe motor vir jou ma gepraat. Hy het gedink dit sal goed wees om eers self so ’n motor te ry voordat jy die spesifieke model vir haar aanskaf.”

Suspisie skiet deur haar. “Ek dag hy is te siek om te praat.”

“Hy is, ek doen meestal al die praatwerk. Ek vertel hom elke aand wat in die huis en in die maatskappy aangaan. Hy wil elke dag weet waaroor ek en jy gepraat het en wat presies jy gesê het. Soms moet ek woord vir woord herhaal waaroor ons twee gesels het. Veral die goed wat jy oor jou persoonlike lewe te vertel het.”

“Toe noem jy aan hom dat ek dink Amanda se motor is mooi?”

“Presies.”

“Jy het dit nie dalk laat klink of ek vir een geskimp het nie, want dan moet jy dit dadelik gaan regstel.”

Stefan vat Martiné aan die skouers. “Dis nie nodig om so op die verdediging te bly nie. Jou pa kan honderd sulke luuksemotors bekostig, en as hy vir jou een wil gee, laat hom begaan. Dit laat hom goed voel om te weet hy kon iets vir sy dogter doen. Hy het min genoeg kans in sy lewe gehad om jou te bederf.”

Haar inherente trots stoei erg met die opgewondenheid wat in haar nesgeskop het. Laasgenoemde wen. “Nou goed, ek gaan nie die motor aanvaar nie, maar ek gaan daarvan gebruik maak. Net tot ek hier weggaan.”

“Daaroor kan ons later besluit. Mag ek die eerste een wees wat saam met jou ry?”

Martiné glimlag terug. “Jy mag. Kom!”

Stefan haal die lint af en los dit by die voordeur. Sy skuif agter die stuur in en hy langs haar. Sy pas gemaklik in haar sitplek, maar hy met sy lang bene en breë skouers sit sy hele sitplek vol. Altans dis hoe dit vir haar lyk.

“Soos jy kan sien, is die motortjie net vir twee mense bedoel,” merk hy op toe hy sy veiligheidsgordel vasmaak.

“Nee, ek dink weer dis ideaal vir een. Jou sitplek is bedoel vir ’n meisie se handsak en inkopies, nie ’n passasier nie.”

Die hekke skuif oop en Martiné draai in die straat af. Stefan stel voor dat sy in die rigting van die snelweg ry, waar sy die motor se spoed en versnelling kan toets. Martiné voel soos ’n kind met ’n nuwe speelding en dis amper ’n uur later toe hulle weer voor die huis stilhou. Sy kyk laggend na Stefan en sê: “Hoe sê ’n mens dankie vir so ’n groot geskenk?” Toe hou sy vinnig haar hand op. “Maar ek …”

“Jy gaan dit nie aanvaar nie, ek weet,” val Stefan haar in die rede. “Maar jy kan my maar bedank. Ek sal dit aan jou pa oordra,” sê hy tergerig.

“O, ek … nou ja, baie dankie.” Martiné steek haar hand uit, maar besluit daarteen. Sy leun nader aan Stefan en wil hom ’n klapsoen op die wang gee. Hy draai egter sy gesig en haar soen land op sy mond. Haar oë rek verskrik groter, maar voordat sy kan wegtrek, is Stefan se hande op haar boarms. Hy trek haar nader en haar soen talm op sy warm lippe. Hulle oë ontmoet en voordat sy skeel begin kyk, sluit sy hare eerder. Stefan draai sy kop effens en die soen wat net eers ’n ligte aanraking was, verdiep in ’n ordentlike liefkosing. ’n Heerlike warmte spoel deur Martiné se lyf en vul elke hoekie en gaatjie van haar wese. Vaagweg is sy bewus van die feit dat sy hande op haar boarms van posisie verander het. Hulle het om haar lyf tot agter haar rug gekruip. En hulle is glad nie rustig nie. Oop dringende handpalms ondersoek die kurwes van haar rug en haar skouers net om agter haar nek bymekaar te kom en te verseker dat sy nie kan wegtrek nie. Nie dat sy dadelik sulke idees koester nie. Daar is iets heerlik soets aan sy liefkosing en sy wil dit nie stop nie.

Uiteindelik dring dit tot haar deur dat hulle soos twee tieners in ’n motor sit en soen. Enigeen kan deur die venster kyk en hulle sien. Wie weet wat die reaksie gaan wees as dit op die lappe moet kom?

Is jy ’n RomanzaKlublid? Spaar maandeliks tot 40% op jou Romanzas!

Sluit hier aan: https://www.lapa.co.za/Romanza/Romanza-klub

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>