Dié keer en vir altyd – Elsa Drotsky

Isabeau skud haar kop met ’n blik wat nie ’n aks voor sy spottende uitdrukking wyk nie. “Jy het tog nie ’n vertoon van preutsheid verwag nadat ek ’n vorige keer op eie inisiatief in jou bed aan die slaap geraak het nie?” herinner sy hom bytend dat selfs nie eens sy met haar gebrek aan ervaring vir holruggeryde grappies van dié aard val nie, hoe duidelik sy ook al voel dat die gloed in haar wange ’n ander storie vertel. Dit was immers die grootste verleentheid dat sy op sy bed aan die slaap geraak het nadat sy maar net daar wou wag tot hy uit die badkamer is om oor haar gedrag vroeër die aand om verskoning te vra.

“Jou kamer, Senorita,” laat hy haar met ’n effense glimlaggie verstaan waar hy nou voor ’n toe deur vasgesteek het, en vat haar hand om haar vingers om die koelheid van ’n sleutel te vou. “Myne is langsaan,” beduie hy met die ander hand. “Behalwe ’n telefoon, is dit so maklik as om te klop of te roep wanneer daar probleme is waarmee niemand behalwe die uwe jou kan help nie. Ons eet vanaand in die eetsaal. Om dan vroeg te gaan slaap, is nie ’n slegte plan nie. Maar ek sal jou ten minste iets van Maputo moet wys. Daarom het jy nou twintig minute kans vir hande was, neus poeier en wat ook al gedoen moet word voor ons mekaar in die portaal kry.”

“Verwaande mansmens,” mompel sy toe hy haar net daar los en sy haar kamerdeur op eie stoom moet oopkry. “Senhora, verbeel jou.” Intussen behandel hy haar soos niks anders as ’n kind nie.

“En moet nou net nie grens nie,” veg sy hardop teen die trane wat skielik in haar ooghoeke brand. Om prakties te bly is een van die maniere wat haar nog altyd deur oomblikke van onsekerheid gehelp het. Voor sy binne die minute wat haar beskore is onder die stortkraan invaar, moet sy haar rok vir vanaand ophang, in verwagting dat die praktiese nommertjie so kreukeltraag gaan wees soos op die etiket aangedui is. Aandete in die Polana gaan eenvoudig vir haar nie elke ander dag se eetgeleentheid wees nie.

Neil kyk op waar hy deur ’n koerant sit en blaai toe die hysbak se deure in die portaal met ’n suising oopskuif. Isabeau is op die plek aangenaam bewus van die goedkeuring waarmee hy sy langsame opsomming van haar voorkoms maak terwyl hy opstaan. Die gemaklike stapskoene wat sy by ’n denimbroek en wit T-hemp aangetrek het, is perfek vir die geleentheid. In die eerste plek is dit nie om die indruk te gee dat sy aandag wil trek nie. Terwyl sy teen dié tyd weet hoe goed klere vir elke geleentheid haar liggaamsbou pas.

Omdat tyd beperk is, haal hulle ’n taxi tot by die Rovuma Hotel wat aan die Rua da Sé geleë is. Met niks meer as geld en selfone iewers onopsigtelik in broeksakke nie, val hulle langs mekaar in die pad na die Katolieke katedraal. Siësta is verby en op die sypaadjies is dit besig. Sy bly nogtans op ’n aangenamer manier van Neil se nabyheid bewus as wat die woeligheid om hulle haar irriteer. Soos sy byvoorbeeld nou met ’n warm, vloeiende ontvanklikheid weet van hulle skouers en arms wat raak en op die plek ook gloeiend bewus is van sy hande om haar arms of elke keer wanneer hulle op haar heupe kom lê om haar deur die mensegemaal in ’n spesifieke rigting te stuur. En dit is opnuut ’n bron van polsende genot toe sy ontdek hoe traag sy hande daar wegglip wanneer daar weer ruimte is om langs mekaar in te val.

 

 

 

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>