Wil jy bederf word?

Ballerina en die lummel – Bets Smith

Ballet is alles in Karmi Schoeman se lewe. Plek vir mans is daar nie, veral nie getroude mans met dwalende oë nie. Dat die lummel van ʼn Jaco Liebenberg haar interesseer, krap net haar planne deurmekaar.

Alice se Ierse sprokie – René van Zyl

Toe ʼn sesjarige tweeling by die kleuterskool inskryf, raak Alice dadelik op hulle verlief. Die wewenaar-pa, Sean O’Connor, wat lyk soos ʼn beneukte Viking-afstammeling, is egter die probleem. Hy en sy perfekte aanstaande glo slegs aan die harde realiteit en nie in Alice se sprokies nie.

Kaalvoetnooi – Corné van Rooyen

Elzani het nie net koffie op Xander se hemp gemors nie, maar ook sy motor gestamp en sowaar, hier staan hy ’n derde keer voor haar. Dié keer dreig sy hom met ’n mes. Met drie “ongelukke” agter die rug, kan hulle dalk nou uiteindelik op die liefde fokus?

Lisa se hartsgeheim – Lizelle von Wielligh 

Lokteks: Lisa oortree die belangrikste vereiste van haar skynverhouding met Roodt − sy raak verlief, en later lief vir hom. Hul skynhuwelik is haar ouers se reddingsboei, dus bêre sy haar liefde weg. Maar Roodt begin ook sy eie reëls verbreek.

Geliefde Rebel – Frenette van Wyk

 

Malaika is stomgeslaan toe sy hoor haar aartsvyand is voortaan die eienaar van die plaas waarop sy haar rehabilitasiesentrum vir donkies bedryf. Net so verras is sy toe sy weer vir Baron sien, haar jeugliefde wat haar so liederlik in matriek behandel het.

Sy het ses maande grasie voordat Heloïse haar van die plaas afskop; sy is vasbeslote om elke oomblik daarvan tot voordeel van haar donkies in te span, veral haar geliefde Rebel.

Sy gaan haar ook nie aan Baron steur nie; die verlede is immers verby en Wayne praat buitendien troustories. Maar hoekom kuier Baron so baie by haar? Dis tog seker nie om die donkies se onthalwe nie, want van wanneer af sluit ’n besoek aan haar diere in dat hy haar soen dat haar bloed in vuurtonge deur haar are bruis?

Toe haar toekomsdrome die een ná die ander in as opgaan, lyk haar toekoms baie duister. Sy kan seker Wayne se huweliksaanbod aanvaar, of is daar dalk ’n alternatief? Een waaraan sy net in haar wildste drome kan dink?

Onvergeetlike oomblikke – Dina Botha

Gewilde en suksesvolle romanseskrywer Dina Botha se immergroen Romanzas, Sy rooikopbaas, Liefste Willemientjie en Liefdeskrale verskyn in haar eerste omnibus, Onvergeetlike oomblikke. Dina is veral bekend vir haar sin vir humor asook haar fyn karakterisering.

Sy rooikopbaas:

Voor Sandra haar oë uitvee, sit sy met ’n manlike “sekretaresse” – Ryk Willemse. Maar haar firma word skielik bedreig, Oumsie soek verbete vir haar ’n man, en sy begin wonder: Is sy ’n verstokte oujongnooi, mannetjiesagtig, ’n rooikopheks?

Liefste Willemientjie:

Wilmien het lankal vergeet om aan haarself te dink. Ná haar ouers se dood moet sý sorg, voog van haar vyf broers en suster wees, boer. En boonop maak Rhys du Randt weer die vrou in haar wakker.

 Liefdeskrale:

Platsak moet rykmansdogter Esté oorleef, haarself bewys. Sonder haar ontwerpersklere, -skoene, sportmotor. Schalk Brink word haar baas, ’n man wat vroue vir brekfis opeet. En Esté moet net keer. Sy vlam mag haar nie ook skroei nie.

Doodsake op Karibib – Isa Konrad

Inspekteur Conrad Dorfling is terug!

 

Isa Konrad laat die sonderlinge speurder van Karibib, Conrad Dorfling, weer krap waar daar ’n lyk is.

Sommer gou-gou ontdek Dorfling twee goed, nee drie:

  • Die lyk is oud. Dit gaan moeite kos om uit te vind wat aangaan.
  • Alet Gouws is terug in Karibib. Hoekom weet hy nie, maar hy is nie seker dat dit goeie nuus is nie.
  • Die hele polisiestasie weet skynbaar van sy en Alet se afskeidsoen …

Conrad weet nie wie se lyk dit is nie, maar hy is dankbaar dat dit ’n geraamte is, ’n doodloopsaak dus. Hy kan nie twee moorde in twee weke onder sy neus laat gebeur nie.

En boonop krap Alet se teenwoordigheid hom om. Hy het regtig gedink daardie soen was vaarwel. Sy is ’n mooi vrou en Con se vorige huwelik het rampspoedige gevolge gehad …

Alet het per ongeluk ’n getuie in sy vorige moordsaak geword. Namibië is nie haar wêreld nie, haar lewe en haar man is in Kaapstad.

Hoekom het sy skielik teruggekom Karibib toe? Alet het hom laat glo sy was op pad om van haar man te skei.

Intussen warm sy doodloopsaak op. Binnekort is hulle op soek na ’n tweede lyk, en binne in sy eie lyf bewe die geraamtes in hulle kaste.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>