Alice se Ierse sprokie – René van Zyl

Die vars lug is heerlik koel op haar longe en sy is steeds oorbewus van die man hier agter haar op die tuinpaadjie.

“Ek voel regtig sleg oor ek jou neus gebreek het,” sê sy om die stilte te oorbrug.

“Ek sal leef. Ek dink darem nie dis gebreek nie, net effens vergruis.”

“Ek is gewoonlik nie so lomp nie.” Natuurlik is sy.

“Ek het darem gesien jy doen ’n indrukwekkende rivierdans,” grinnik hy.

“Dankie. Baie jare se klasgeld is dus nie gemors nie.”

Hulle kom by die groen deur na die groot huis se voorstoep en sy maak dit oop.

“Hoekom is jy so onnodig stram teenoor my?” vra hy uit die bloute.

Sy is effens uit die veld geslaan. “Ek dink nie ek is nie. Dalk is ek net professioneel. Omdat jy een van my ouers is.”

“Nee, dis nie dit nie. Jy hanteer my soos iets wat jy met ’n skokstok op ’n afstand moet hou.”

Aanval is seker die beste verweer.

“Dis oor jy so loop en frons wanneer jy na my kyk. Alles wat ek doen, is blykbaar vir jou vreemd of vieslik en boonop het jy vir Cindy wat my soos ’n kakkerlak uitkyk asof ek nie goed genoeg is om jou kinders op te voed nie.”

“Cindy is in ’n ander klas, ek gee toe, maar dit beteken nie ék dink jy is nie goed genoeg nie.” Hy klink verras deur haar skielike woordevloed.

Die wyn maak haar dapperder as wat sy is. “Kom ek wys jou iets van myself. Dan praat ons weer.” Sy trek weer die groen deur op knip en sleep hom aan sy mou saam met haar dieper in die tuin in na waar ’n grootbekpadda van sement lustig water in ’n groter poel spoeg. Groen liggies verlig die varings en rotse rondom die poeletjie en verleen daaraan ’n magiese atmosfeer.

“Kyk, die brulpadda is my paddaprins. Eendag gaan ek hom nog soen en hy gaan in ’n aantreklike jongman verander wat my van my voete af gaan swiep.” Sy beduie na ’n tengerige figuurtjie met vlerke tussen die varings. “Daar sit my skaam varingfeetjie. In daardie wilgerboom, sien jy die huisie wat daar hang? Dis die wilgerfeetjie se plek. Sy kom min uit. Slegs as die wind erg waai, want sy is ’n bietjie bang vir mense.” Sy sleep hom aan die mou na ’n welriekende laventelbos toe. “Sien jy hier tussen die blomme? Dis my pers feetjie. Sy is die stoute een wat saans toktokkie speel teen my ruite. En hier sit my ses kabouters in die rotstuin. Hulle skrop heeldag vir edelgesteentes. Ek wag dat hulle vir my die grootste diamant in die wêreld hier uitkrap.”

Alice skep asem en besef skielik sy is heeltemal laf. Nee, belaglik. Verdomde wyn wat haar kop aantas. “Om maar net ’n paar van my bonatuurlike inwoners vir jou te wys.” Sy kyk skuins op na Sean se gesigsuitdrukking. In die groen lig van die tuin lyk hy vreemd ontspanne en selfs geamuseerd. Hy dink seker sy is totaal met die maan gepla. Dit grief haar skielik.

“Sien jy nou wie ek is, Sean O’Connor?” sê sy kwaai. “Ek is presies wat jy van my gedink het toe jy my ontmoet het. Die een ding wat ek nie in my tuin het nie, is ’n heks. Dis ’n lelike ding. Jy moet net oppas dat daai Cindy nie jou kinders soos Hansie en Grietjie se heks in ’n hokkie toesluit en lewendig verslind nie. Dis al wat ek wou sê.”

Hy knik en dit lyk of hy sy lag moet inhou.

“Dankie vir jou diepe insig, Alice Arendse. Ek verstaan wat jy probeer sê.”

“Wel, dan is dit goed so. Ons verstaan mekaar.” Haar kop dink nie nugter nie. Wat verstaan ons nou eintlik? “Dankie vir die speel van die pype, Sean O’Connor. Dit word hoogs waardeer.”

Hy staan net en kyk vir haar.

“Jou voorouers sou trots wees,” sê sy onnodig net om iets te sê in die stilte. Die groen lig speel vanaand toktokkie met haar sintuie. Sy voel lighoofdig.

Sean is blykbaar nie haastig om te gaan nie.

“Jy is ’n unieke skepsel, Alice Arendse,” sê hy met ’n grinnik.

“Ek het weer gedink ek is besonder aantreklik en elegant, veral in my fluweelrok. Dit sou gaaf wees as jy dít eerder opgemerk het.” Sy weet nie waar sy die moed vandaan kry om so met hom te praat nie. Ai, die euwel van rooiwyn.

“Elegant en aantreklik is jy beslis. Dis moeilik om ’n mens se hande van jou af te hou.”

Sy frons nou. Het hy nou net gesê wat hy gesê het? Of het die wyn na haar kop toe gegaan?

“Nou hoekom wil jy jou hande van my afhou?” vra sy en wil haar tong afbyt. Sy is nooit so voorbarig of selfs flirterig nie. Wat doen sy?

“Goeie vraag.” Hy trek haar skielik nader met sy hand om haar nek en soen haar lank en hard, asof hy haar ’n les oor goeie maniere wil leer.

Alice se kop draai. Nee, die hele tuin draai om haar. In stadige aksie. Dis hoe die regte Alice moes voel toe sy in daardie gat na Wonderland toe afgetuimel het. Holderstebolder en gedisoriënteerd. Genugtig.

Toe hy sy mond uiteindelik van hare wegneem, moet sy aan hom vashou om nie haar balans te verloor nie. Sy kyk vir ’n oomblik net vir hom en weet nie wat om te doen nie. Of wat om van die soen te maak nie.

“Ek is jammer. Dit was onvergeetlik. En onprofessioneel. En ongevraagd,” sê Sean. Hy los haar skielik en gee ’n tree weg van haar af.

“Presies. Ongevraagd. Dit kan nooit weer gebeur nie. Dankie.” As haar kop net helder wou dink en as haar mond net die regte woorde kon vorm. “Ek bedoel. Dankie dat jy my kom vermaak het. Ek bedoel met jou doedelsak. Die doedelsak, bedoel ek.”

“Dis ’n plesier. Ek geniet dit om jou te vermaak. Met my doedelsak.” Hy klink nou self of hy nie heeltemal nugter is nie. “Maar jy is reg. Dit sal nie weer gebeur nie.”

“Nou goed. Dan verstaan ons mekaar. Totsiens, Sean O’Connor.”

“Totsiens, Alice Arendse.” Hy soen haar hand soos ’n regte ridder en verdwyn in die donkerte.

Sy begin giggel en draf terug huis toe waar die gaste soos ’n klomp henne kekkel. Háár mense, wat haar verstaan en haar op haar wentelbaan hou. En haar nie van haar voete laat tuimel en laat beheer verloor soos die baardman nie. Sjoe, maar wat ’n soen! Sy sal moet kophou op hierdie vakansie in Ierland. Sean O’Connor laat haar vreemde goed doen. Geen wyn nie.

 

Alice se Ierse sprokie is nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: https://bit.ly/2LxRJQ2

Ook beskikbaar as e-boek: https://bit.ly/2Hws1sO

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>