Liefde met ’n glimlag – Louise Minnaar

Dis darem nooit lekker om tandarts toe te gaan nie, dink Anandi en maak haar solank op die stoel tuis. Ou dokter Ferreira het na die hele gesin se tande omgesien. Sy hoef nooit in al die jare vorms in te gevul het nie. Dis skielik vreemd om te dink sy moet iemand anders toelaat om in haar mond te kyk.

“Goeiemiddag, ek is dokter Paul Conradie,” sê ’n sterk stem.

Anandi besef dat sy haar oë toegemaak het en sit verskrik regop.

“Middag, Dokter. Ek is Anandi Wegner.” Haar stem is krakerig, hoor sy spytig. En toe kyk sy vir die eerste keer behoorlik na die man wat in die deur staan. As sy geweet het die mans in die stad lyk só, het sy lankal gekom. Hy het waarlik ’n groot, wit glimlag wat haar knieë lam maak. Dis ’n goeie ding dat sy reeds gaan sit het. Die breë skouers en sonbruin, sterk voorarms rond die prentjie perfek af.

“Waarmee help ek vandag, Anandi?” Haar naam klink sommer anders as hy dit sê.

Dit is amper of iemand ’n emmer koue water oor haar uitkeer. Hierdie beeld van ’n man moet nou in haar mond kyk. Hoe wens sy dat hy nie haar tandarts was nie, maar eerder ’n koffie-afspraak. Hoe wreed is die wêreld nie? Vir ’n oomblik oorweeg sy dit om om te draai en uit te loop, maar dit sal seker kinderagtig wees en boonop het sy ’n ondersoek nodig. Sy moet maar net so normaal as moontlik probeer optree. Sy sal dit oorleef.

“Net ’n ondersoek, asseblief, Dokter.”

Sy moet dit net oorleef.

Hy knik, klaarblyklik onbewus van haar innerlike konflik. “Lê solank vir ons terug, dan kan ek kyk.”

Sy hande is warm toe hy haar kop effens nader aan hom trek. “Maak oop.”

Anandi gehoorsaam, maar wens dat die aarde haar moet insluk. As sy maar net nie hierdie pad gery en toevallig die tandarts se bord gesien het nie. Hoekom het sy nie eers uitgevind wie is dokter Paul Conradie nie? Dit klink dan soos ’n middeljarige man, met ’n vrou en twee kinders en drie honde en ’n strandhuis in Hermanus waar hy elke vakansie gaan leeglê. Nie ’n jong dokter met sensitiewe hande en ’n baie aantreklike gesig nie.

Koop Liefde met ’n glimlag hier!

LAPA Uitgewers: https://bit.ly/2IUAX0G

Amazon: https://amzn.to/2MdZR8A

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>