Lisa se hartsgeheim – Lizelle von Wielligh

“Voordat ek by die werksaanbod kom, is daar eers iets wat ek moet weet: Is daar iemand spesiaals in jou lewe? ’n Vaste kêrel of iemand aan wie jy binnekort verloof wil raak? Ek weet dit is ’n baie persoonlike vraag, maar ek moet dit ongelukkig eers weet.”

Sy frons effens. “Nee, daar is niemand nie.”

“O, dis goed,” knik hy verlig. “Dan is daar nog iets: Voordat ek by my aanbod kom, wil ek eers jou versekering hê dat dit wat vandag tussen ons bespreek word, niemand – en ek bedoel niémand – se ore mag bereik nie; of jy nou my aanbod aanvaar of nie.”

26 lisa se hartsgeheim

Sy voel hoe haar maag op ’n knop begin trek. Hoekom die vreeslike geheimhouding? En waarom moet sy ook nie ’n vaste kêrel hê nie? Wat behels sy aanbod dan? Sy knik. “Jy het my woord.”

Hy knik, dieselfde erkentlikheid weer vlugtig in sy oë voordat ’n saaklikheid dit opnuut verdring. “Ek het ’n ongewone rol wat ek vir jou wil aanbied, maar dit is nie net buitengewoon van aard nie, maar gaan veral baie hoë eise aan jou as mens stel. Dit is byvoorbeeld nie ’n agt-tot-vyf-werk waarna jy na jou huis kan terugkeer en doen wat jy wil nie, maar gaan van jou vereis om vier en twintig uur elke dag die rol wat ek in gedagte het te speel. Dit is hoekom dit vir my noodsaaklik is dat jy nou geen spesiale man in jou lewe het nie. Sal jy kans sien vir so iets?”

Haar onrus neem toe. “Ja, solank dit net nie iets onwettigs is nie.”

“Nee, dis nie onwettig nie.” ’n Grimmige trek verskyn om sy mond. “Jy sien, my pa wil aftree, maar hy wil eers die leisels aan my oorgee as ek trou, alhoewel hy weet ek sal nooit trou nie. Ek wil dus ’n skynhuwelik met jou aangaan totdat hy my HUB en hoofaandeelhouer van Yisa Coal maak.”

Hy moet die skok en ongeloof in haar oë sien; tog gaan hy ongesteur voort. “Dit is waar jou toneelspel gaan inkom. Jy gaan voorgee dat jy die gelukkige meisie is wat my hart wen en dan uiteindelik daarin slaag om my kansel toe te sleep. Dit moet uiteraard baie natuurlik begin om dit geloofwaardig te maak. Ons moet soos almal mekaar ontmoet – wat reeds laas Donderdag by die oudisie gebeur het – verloof raak en dan trou. Maar jy moet dit sien as ’n fliek waarin jy speel en as niks anders nie. Die enigste verskil is net dat jy nie ’n script gaan kry wat vooraf vir jou gaan voorskryf wat jy moet sê nie.”

Hy skep eers asem. “Dan, sover dit moontlik is, sal daar nie fisiese kontak tussen ons wees nie, maar om die skyn te bewaar sal daar uiteraard so iets voor ander mense moet wees. Maar dit behoort seker nie ’n probleem te wees nie. Dit word mos gewoonlik van julle verwag.”

Sy kyk hom oorbluf aan. “Jy wil dus net ’n tydelike huwelik met my aangaan en dan van my skei,” sê sy.

“Dis korrek. Sodra my pa alles aan my oorteken, kan ons skei en jy jou vergoeding kry. Ek glo die kompensasie is heel billik. Ek is bereid om jou twee miljoen rand te gee.”

Algehele verbasing flits deur haar. Goeiste, die bedrag is nie te versmaai nie en is ver meer as wat sy ooit kon droom om te verdien. Dit sal haar ouers se boerdery van ondergang red en haar selfs kan dra tot sy weer iets anders kry. Net die prys wat sy daarvoor gaan betaal, is hemelhoog. In die eerste plek moet sy haar ongetroude status prysgee. Dan gaan sy as ’n geskeide vrou bestempel word, hoewel sy nog ’n maagd sal wees. Watter man sal haar ná die tyd glo as sy sê dat sy nooit by haar eksman geslaap het nie? Ja-nee, om eerlik te wees, sy sal self nooit só iets glo nie. Ook gaan sy almal moet bedrieg om die skyn voor te hou, selfs haar ouers. Nee, sy weet nie of sy dit moet doen nie. Druis dit nie teen haar beginsels in nie? Dan sal sy ook baie tyd saam met hom moet spandeer. Is hy ooit ’n aangename mens? Sy weet eerlikwaar nie. Tot op hede is hy totaal onpeilbaar vir haar.

Hy kyk haar ’n oomblik ondersoekend aan en frons dan. “Ek stoot dit op na drie miljoen. Sal dít vir jou genoeg wees?”

“Dis nie die geld nie!” roep sy sag maar geskok uit. “Dis net ’n moeilike besluit.”

Sy frons verdiep. “Sou jy drie miljoen van ’n filmmaatskappy van die hand gewys het?”

“Nee, natuurlik nie, maar jou aanbod is anders.”

“Tegnies gesproke, ja, maar verder kan ek nie ’n groot verskil sien nie. Buitendien gaan ek niks meer van jou verwag as wat ’n regisseur van jou sou verwag het nie. Jy hoef jou ook nie te bekommer dat ek my ooit aan jou sal opdring nie, maar dit geld natuurlik vir jou ook. Jy mag onder geen omstandighede op my staan en verlief raak nie.”

Haar hart ruk vlugtig, maar dan ontspan dit weer.

Dit is tog nie moontlik om op so ’n koue, ernstige en onvriendelike man soos hy verlief te raak nie, al is hy baie aantreklik. Dus bepaal sy haar weer by sy bepalings. “Maar watse versekering het ek dat ek aan die einde van ons skynhuwelik my geld gaan kry?”

“Uit die aard van die saak gaan jy met ons egskeiding ’n eis moet indien. Jou eis sal dan drie miljoen rand wees. Ons gaan ook ’n kontrak opstel om ons albei te beskerm, maar ek kan ongelukkig nie voor die tyd vir jou ’n voorskot gee nie, want alles is nou nog op my pa se naam. Ek kry tans net ’n salaris. Maar ek besef dat jy intussen geld gaan nodig hê om van te leef. Ek is bereid om jou ’n maandelikse toelaag van vyftienduisend rand te gee.”

Dit kan haar onmiddellike probleem rakende haar maandelikse uitgawes oplos, dink sy dadelik, maar skeur haar oë weg van syne omdat haar gewete maar net nie met haar nugtere verstand wil saamstem nie, want hoewel dit wettig is, voel dit nie eerbaar vir haar nie.

“Lisa.” Hy wag tot sy weer vir hom kyk. “Ek weet ek vra geweldig baie van jou, maar ek kan jou verseker hierdie hele aangeleentheid is vir my ook nie maklik nie.”

“Maar hoekom trou jy nie eerder met iemand wat jy liefhet nie? Is dit regtig nodig dat jy ’n skynhuwelik met my aangaan?”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>