Frenette vind haar eie pad – Zhan-Mishal  

Ons het lekker met Frenette van Wyk gesels en haar in ’n skrywersonderhoud alles gevra waaroor ons lesers nog altyd gewonder het.

Frenette almal gons nog oor die “Royal wedding” van Prins Harry en Meghan Markle, het jy ook saam gekyk en wat het jy van die spoggeleentheid gedink?

Dit was soos altyd baie romanties. Veral as die bruidegom in ‘n uniform voor die kansel staan. ’n Uniform beeld nog altyd vir my manlikheid, dapperheid en krag perfek en romanties uit. En natuurlik is enige bruid ’n sprokiesprinses. En ’n koets is seker die ultimate, onvergelykbare koninklike vorm van ’n donkiekarretjie. Prinses Diana en prins Charles se troue is egter steeds my gunstelingtroue. Prinses Diana was ’n brose meisie, en terselfdertyd ’n soort onaantasbare godin. Geen ander royal wedding sal hare kan outdo nie.

Wat is die laaste boek wat jy self gelees het en kan jy dalk onthou wat die heel eerste boek is wat jy gelees het of altans die een boek wat jou liefde vir lees gekweek het?

My eerste boeke was Saartjie en Soekie-boeke. My ma het my na ons dorpsbiblioteek toe geneem toe ek in die laerskool was. Dit was ’n onvergeetlike ervaring om daar in te stap, soos in ’n heiligdom, en al daardie skatte in die rakke te sien, en die boeke en bladsye te ruik, hulle met soveel respek oop te maak en om hulle huis toe te kon neem en te gaan lees! Ek voel vandag nog of ek op heilige grond beweeg as ek in ‘n biblioteek tussen al daardie rye en rakke vol boeke kom.

My laaste twee boeke was Wuthering Heights deur Emily Brontë, en The Star of Kazan deur Eva Ibbotson.

Frenette se jongste boek, Geliefde Rebel 

Min mense kan spog met ’n honneursgraad in Latyn, hoekom wou jy juis meer van hierdie taal leer en wat is jou gunsteling Latynse aanhaling of woord?

In Hoërskool Monument was Latyn ’n verpligte vak toe ek in standerd ses was. En dit het vinnig my gunstelingvak op skool geword. Ek het ook elke jaar die prys vir beste prestasie in die vak behaal. Ek het ’n natuurlike aanleg vir tale, en ek het dié taal dadelik gesnap. Dit was vir my heerlik om dit te kon leer. Vandag is dit ’n sterk basis vir my om ander Romaanse tale (bv. Frans, Spaans, Italiaans) ook te leer en hulle konstruksie te verstaan.

My gunsteling aanhaling is: Aut viam inveniam, aut faciam. Dit beteken: Ek sal die pad vind, of ek sal een maak. Dit was glo die opvatting van Hannibal toe sy generaals vir hom gesê het dis onmoontlik om die Alpe met olifante oor te steek. Dit is min of meer hoe my geaardheid ook is, as daar nie ’n manier is om iets te doen nie, dan sal ek aanhou soek tot ek die manier vind om dit te doen.

Frenette het jy ‘n gunstelingkoffiewinkel, restaurant of kuierplekkie wat jy graag in Pretoria besoek?

My gunstelingrestaurant is Old Town Italy in Menlyn Maine. Dit het ’n Italiaanse atmosfeer waarvan ek baie hou. Ek is mal oor alles Italiaans. My stiefpa was ’n Italianer, ek het al deur Italië gereis en ek wens ek was ‘n Italianer want hulle is warmbloedig, sonder inhibisies en wonderlik spontaan.

Behalwe vir lees en skryf waarmee hou jy jouself graag besig. Is jy lief vir kosmaak, tuinmaak of besoek jy dalk gereeld ‘n kunsgalery?

Ek verf nogal gereeld. Dis baie vervullend om my kreatiewe energie op ’n ontspanne manier op ’n canvas uit te stort. Ek hou ook daarvan om my tuin te versorg en elke lente is ’n nuwe uitdaging om my tuin mooi te maak. Ek hou vreeslik baie daarvan om te dans. Dis ook ’n manier om innerlike energie kreatief uit te leef, en ek doen gereeld oefening (4-5 maal per week), want dit hou my in vorm, gesond en gelukkig en dis lekker om aktief te raak tussen al die sit en skryf deur.

Ek weet jy is lief vir reis Frenette, waar hou jy graag vakansie en was jy al op enige oorsese reise?

My gunsteling-vakansieplekke in Suid-Afrika is die Bosveld en om wild te kyk in die winter en in die somer geniet ek dit by die see, veral Jeffreysbaai en Mosselbaai. Ek sal enige tyd op ’n reis gaan binne en buite ons land. Dis leersaam, interessant, ontspannend en ek het ‘n soort vagabond-gees in my wat gedurig die vrye vlaktes of oop pad wil invaar.

Ek was nog net in Israel, Amerika (Florida en Disney World) en Italië, ’n piepklein stukkie van Frankryk en Switserland by die Alpe. Elke kontinent is uniek met ’n unieke atmosfeer en kultuur wat mens se visie verbreed. Maar daar is nog hope plekke wat ek graag sal wil besoek.

Al waarvoor ons kan hoop is dat Frenette ons saam het haar sal neem op al hierdie reise wat sy nog beplan deur haar stories en boeke.

Dankie vir die lekker gesels Frenette. X

 

 

 

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>