Kaalvoetnooi – Corne van Rooyen

Sy klim in haar motor en skakel die enjin aan, steeds diep ingedagte. Die volgende oomblik hoor sy ’n harde slag en weet sommer dadelik, sonder dat sy hoef te kyk, dat sy so pas iemand se motor gestamp het. Met ’n moedelose sug laat sak sy haar kop op die stuurwiel. Ag, tog, wat gaan nóg vandag skeefloop, dink sy en maak die deur oop. So graag as wat sy eerder in haar motor sal wil wegkruip, of vinnig wegjaag en maak asof niks gebeur het nie, weet sy dat sulke optrede vir haar net nóg groter moeilikheid sal veroorsaak. Sy haal dus ’n slag diep asem en klim uit die motor uit.

“Ek is so verskriklik jammer,” begin sy berouvol verskoning maak en bly dan verras staan toe sy dieselfde man van vroeër herken. Net nie weer hý nie, dink sy en kreun innerlik.

“Ons ontmoet weer,” sê hy en betrag haar kalm met sy hande op sy heupe.

“Ek sal betaal vir die skade,” sê sy sugtend en draai om om haar handsak uit haar motor te kry. “As u my asseblief u kontakbesonderhede kan gee?” vra sy en hou ’n pen en haar notaboekie na hom toe uit.

“Dis nie nodig nie,” keer hy. “Die skade is nie so erg nie. Dis net die lig wat in die slag gebly het. Of dalk moet ek eerder sê ligte,” sê hy en sy merk dat een van haar motor se ligte ook stukkend is. Gelukkig is dit nie duike nie, dink sy verlig.

“Is u seker?” vra sy en voel nóg skuldiger toe sy die koffiekolle op sy hemp opmerk. “Eers mors ek jou klere op en nou nog jou motor ook,” sê sy verskonend. Vandag is beslis nie ’n goeie dag vir haar nie. Sy skribbel haar naam en nommer neer, skeur die blaadjie uit en gee dit vir hom. “As jy van plan verander, hier is my naam en nommer. Ek weet dit was my skuld, so ek sal jou vergoed vir die skade.”

“Ontspan, Juffrou, ek sal jou nie te lyf gaan nie,” skerts hy met ’n glimlag.

“Dan is ek baie bly dit was nie iemand anders se motor nie, want ek glo nie ek sou dan so maklik daarvan afgekom het nie. Ook maar goed ek het nie vandag met my verloofde se motor gery nie. Hy is redelik erg oor sy motor,” verduidelik sy toe hy vraend na haar kyk.

“Sommige mans is baie heilig op hulle voertuie,” beaam hy met ’n glimlag. “Ek is egter nie een van hulle nie.”

“Dis goed om te weet,” sê sy verlig. Andrew sou die aapstuipe gekry het.

“Ek dink ons kan onsself netsowel aan mekaar voorstel,” sê hy en hou sy hand na haar toe uit. “Aangename kennis, Elzani Myburgh. Ek is Xander Viviers.”

“Ek glo nie regtig dis ’n aangename ontmoeting nie, maar aangename kennis, Xander, en ek is weer eens jammer. Nie net oor jou motor nie, maar ook oor jou hemp. Vandag is een van daardie dae wat ek eerder in die bed moes gebly het,” sê sy sugtend.

“Ons almal kry nou en dan een van daardie dae waar alles verkeerd loop,” stel hy haar gerus. “Moet ek op die uitkyk wees vir jou, of kan ek maar met ’n geruste hart my dag voortsit?” vra hy tergend.

“Baie snaaks,” sê sy laggend. “Ek gaan nou direk huis toe, so ek dink jy is veilig.”

“Dis goed om te weet,” skerts hy voort. “Jy wil dalk in jou motor klim. Mense begin jou snaaks aankyk omdat jy kaalvoet is.”

“Ag, verdomp! Ek het vergeet,” sê sy verleë. “Ek bestuur nie met hoëhakskoene nie.”

“Dis beter so,” sê hy met ’n glimlag. “Ek sal vir jou wag om eerste te ry.”

“Dankie. Ek het seker ook nou al honderd maal jammer gesê en ek gaan nie weer nie,” sê sy.

“Dis geen probleem nie,” sê hy en hou haar motor se deur vir haar oop.

“Dankie,” sê sy en lig haar hand in ’n groet toe sy wegry. Sy moet nou by die huis kom voordat sy iemand regtig groot skade berokken.

Koop nou Kaalvoetnooi hier: https://bit.ly/2J011aN

Ook beskikbaar as e-boeke: https://bit.ly/2N8CLlg

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>