Lelies vir Louisa – Rosita Oberholster

“Spieëltjie, spieëltjie aan die wand,” fluister Louisa en laat gly haar vingerpunte oor die vergulde krulle en patrone van ’n spieëlraam in een van die ou chateau se twaalf slaapkamers. “Wie’s die afskuwelikste in die land?” ’n Ligte knelling kom lê op die krop van haar maag. Voorheen kon sy dit nooit naamgee nie, gedink dis sommer net senuwees oor al die dinge wat gebeur het, maar dis skuldgevoel wat só voel. Sy weet nou. Dit ry en kasty haar meer male as wat haar ingewande kan verdra.

Ware skoonheid kom blykbaar van binne. As dit die geval is, is sy lelik. So lelik soos die nag. “Spieëltjie, spieëltjie . . . Wie is ek? Waar kom ek vandaan?” Sy staar na die beeld wat na haar terugkaats. Fyn gelaatstrekke, groot groen oë, langerige donkerblonde hare met ligter strepies in. Sy leun nader aan die spieël. Eintlik is haar oë nie so groot as wat haar wimpers lank is nie. Haar voorkoms is niks buitengewoon nie. Behalwe vir haar oë, mense sê gereeld sy het treffende oë.

Net jammer sy kan haarself nie in die oë kyk nie. Nie meer nie, in elk geval. Sy roer haar skouers en draai weg van die spieël. Iewers op hierdie aarde is of was daar ’n man en ’n vrou wie se gelaatstrekke, maniërismes en liggaamsbou oorgedra is aan haar. DNS. Gene. Familie. Sal hulle sondes ook aan haar oorgedra wees? Sy dink so.

Hoekom pla dit haar die laaste tyd so baie dat sy niks omtrent haar herkoms weet nie? Is dit vandat sy ’n kind van haar eie in die wêreld gebring het? Of is dit vandat haar lewe verweef geraak het met dié van die mense van La Roseraie en die buurplaas Liberté? Mense wat hulle voorouers so ver as die Franse Revolusie kan naspoor. Iets waarvan sy maar net kan droom wanneer sy soms haar verbeelding vrye teuels gee. Miskien is dit ’n mengsel van beide; haar koms hier na die Franschhoekvallei en Rose se geboorte was nie ver uitmekaar nie. Sy stoot die balkondeure oop. ’n Ligte misreën stuif op die aarde neer.

Hiervandaan kan sy omtrent die hele Liberté sien. Gabriela se woonhuis omring deur eike- en plataanbome, die parkagtige tuin met sy lae ringmuur. Die buitegeboue, wingerde en bloekombos. Aan die ander kant daarvan lê die roosplaas, al kan sy dit nie vanaf die chateau se balkon sien nie. Regs van haar die berg wat oor alles uittroon, stil toekyk na die lief en leed van die mense aan sy voet. Jaarin en jaaruit, deur die eeue heen. Vandag is die berg in ’n wolkekombers toegedraai en kan hy seker nie so goed sien wat onder in die vallei aangaan nie. Soms, as die lig op ’n sekere manier val, so net voor sonsondergang, lyk ’n sekere gedeelte daarvan vir haar soos ’n gesig. Dalk was dit ’n ridder of ’n koning wat Medusa se aangesig aanskou en toe versteen het. Net soos wat die wreedheid van die mensdom soms haar siel wil laat versteen. Watter tipe monster los ’n kind op ’n kinderhuis se stoep en laat hoor nooit weer van haar nie?

’n Beweging onder in die tuin trek haar aandag. Theuns kyk op. “Raponsie, Raponsie, laat sak jou hare vir my!”

Twee windhonde wat seker ook hul voorsate sewe of meer geslagte terug kan naspoor, kyk skewekop op.

Louisa lag verby haar morbiditeit. “Môre, Theuns,” groet sy Liberté se wynmaker en Freya se verloofde. “Jy sal nog so honderd jaar moet kans gee,” beduie sy na haar hare wat net onder haar skouers hang.

Koop nou Lelies vir Louisa by www.lapa.co.za

RomanzaKlublede spaar tot 50% afslag op SuperRomanzas!

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>