Somersprokie – Alma Carstens

Buite op die systoep slaak sy ’n sug van verligting. Die luggie is ysig, maar sy voel dit skaars en trek dit diep in haar longe in. Sy sal eerder die hele aand hier op die stoep sit en verkluim as om weer langs die Geldenhuys-vent te gaan sit. Verbeel jou James Duncan se groot liefde. Wat weet hy?

“Alles oukei?”

Charlotte swaai om en verloor byna haar balans op die krukke toe dit weer die soom van haar lang rok vasvang. Manshande skiet uit en vou om haar skouerknoppe om haar te stabiliseer. Dadelik versnel haar hartklop en voel dit asof al die speeksel in haar mond opdroog.

“Christiaan.” Haar stem klink onnatuurlik hees in haar eie ore en sy skraap haar keel liggies. “Ja, dankie. Ek soek net ’n bietjie vars lug.”

“Ja, dis nogal bedompig daar binne,” knik hy sy kop na die glasdeure se kant toe. Sy oë gly vir ’n paar sekondes oor haar, toe trek hy sy baadjie uit.

“Hier, dis koud hier buite,” sê hy terwyl hy sy baadjie om haar kaal skouers hang.

“Nou gaan jý koud kry,” lag sy bewerig, haar liggaam opeens stokstyf van spanning.

“Nee, ek kry nie so maklik koud nie. En my hemp het mos lang moue, sien?” Sy tande flits wit in die skemering toe hy lag. “Wat het gebeur?” vra hy en wys na die krukke toe sy onbegrypend na hom staan en kyk.

“’n Simpel ongeluk. My voet het agter ’n kabel gehaak toe ek van die loopplank af kom.”

“Ek is jammer om dit te hoor. Ek skat elke werk het maar sy beserings.”

“Ek is beslis nie jammer daaroor nie, ten spyte van die pyn in my enkel. As dit nie vir daardie kabel was wat op die verkeerde plek gelê het nie, was ek nie nou hier nie.” Amper glip die woorde “het ek jou nie weer gesien nie” by haar mond uit. “En het ek nie die troue kon bywoon nie.”

Hy glimlag en druk albei sy hande diep in sy broek se sakke in. “Dan is ek ook nie jammer oor jou ongeluk nie. Want as dit nie daarvoor was nie, sou ons mekaar seker nooit weer gesien het nie. Jy kom mos nie eintlik meer in Suid-Afrika nie, as ek die skindertonge kan glo.”

Charlotte balanseer haarself op die krukke en trek die baadjie stywer om haar lyf. En toe verwoord hy sowaar haar gedagtes! “Ek was die afgelope tien jaar nog nie weer hier nie. Werk te veel. Maar ek is bly ek kon ’n slag huis toe kom.”

“Jy beskou Suid-Afrika dus steeds as jou huis?”

Musiek klink van binne in die groot saal af op en deur die glasdeure kan sy mense sien dans. “Ja, dit sal altyd vir my huis wees. Spesifiek die Kaap. Ek besef nou eers hoe baie ek dit gemis het. En verlang het.”

“Verlang het,” mymer hy. “Na jou familie?”

“Na my familie, die kos, die taal, alles. Ook na my vriende.” En na jou, voeg sy in haar gedagtes by. Veral die eerste paar jaar in die buiteland toe haar liefde vir hom nog warm in haar hart gebrand het.

“Het jy nog kontak met enige van hulle? Milan sê my julle het nie kontak behou nie.”

“Nee, ons het nie. Ek het tot my spyt met niemand kontak behou nie. Praat van Milan, hoe gaan dit met haar?”

Hy lag en tree effens nader na haar toe, trek die baadjie reg toe dit agtertoe oor haar een skouer gly. “Dit gaan baie goed met haar. Sy is getroud en woon in Bloubergstrand.”

Charlotte se oë rek verbaas. “Getroud? Ek sal haar baie graag weer wil sien. Sal jy omgee om haar nommer vir my te gee?” En joune, sodat ek jou ná vanaand weer kan sien, flits die woorde deur haar kop en sy byt hard op haar lip voor dit by haar mond kan uitspring.

Hy skud sy kop. “Natuurlik nie. Gee my jou foon, dan sleutel ek haar nommer vir jou in. Sy sal baie bly wees om van jou te hoor. Julle twee was mos net so,” lag hy en vleg sy voor- en middelvinger om mekaar.

Charlotte stut haar gewig op een kruk en haak haar handsakkie van haar arm af om haar selfoon uit te haal. Terwyl hy Milan se nommer op haar foon stoor, gly haar oë oor sy gelaat en haar mond word droog. Hygend hert, sy kan haar oë nie van hom afhou nie en wil elke detail van sy aantreklike gesig inneem sodat sy altyd sal onthou hoe hy nou lyk. Hy kyk skielik op en betrap haar kykers op hom, en Charlotte is dankbaar dis donker op die stoep sodat hy nie kan sien hoe sy vuurwarm bloos nie.

“Dankie,” prewel sy toe sy die selfoon by hom neem.

“Charlotte, dis werklik ’n aangename verrassing om jou weer te sien. Dis die laaste plek waar ek verwag het om jou raak te loop.”

“Charlotte,” herhaal sy en lag verleë. “Niemand noem my ooit meer so nie. Dit klink eintlik vreemd om . . .”

“Ek het gewonder wat van jou geword het, Christiaan.” Justine haak haar arm besitlik deur Christiaan s’n en kyk met ’n frons na sy baadjie wat oor Charlotte se skouers gedrapeer is. “Kom dans met my, toe?” Sy draai haar kop na Charlotte toe. “Jy sal mos nie omgee as ek Christiaan weglok vir ’n dans nie, sal jy?” vra sy vriendelik, maar Charlotte is alte bewus van die koue klank in haar stem. Dis duidelik dat sy nie gelukkig is om hulle twee alleen op die stoep aan te tref nie. En veral nie oor sy baadjie wat om haar skouers hang nie.

Charlotte skud haar kop en glimlag terwyl sy die baadjie van haar skouers laat afgly en na hom toe uithou. “Natuurlik nie. Baie dankie dat ek jou baadjie kon leen, Christiaan. En vir Milan se nommer. Ek sal haar beslis kontak.”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>