’n Nuwe maand, tyd vir lekker nuwe boeke!

’n Storieboekromanse – Dina Botha

Juliette sien daarna uit om ’n onderhoud met die bekende liefdesverhaalskrywer Alice Beechman te voer, maar dan besef sy Alice Beechman is eintlik die skuilnaam van ’n man. ’n Baie aantreklike man …

Hoe om ’n hart te wen – Didi Potgieter

Janke was van altyd af verlief op haar grootwordmaatjie, Louw. Maar nou is Louw verloof en hy trou binnekort. Janke en Henry gaan voorgee dat hulle ’n paartjie is om Louw jaloers te maak en sy oë oop te maak, maar hulle hou nie rekening met Kupido se streke nie.

Lang pad na liefde – Cynthia Robertson

In Troosbosbaai by haar Ouma Saar wil Pascale haar stukkende lewe regmaak, haar wonde lek terwyl sy deur haar egskeiding gaan. Juis daarom is dit so vreemd dat God hierdie tyd kies om die Ierse biker, Callum Moriarty, oor haar pad te stuur.

Langtermynafspraak – Bep du Toit

Rika sal die verwende man van die restaurant ’n ding of twee wys. Sy haar gaan mojo terugkry en dan moet hy haar op die beloofde afspraak neem. Maar vinnig koester sy meer as net wraakgevoelens teenoor Maarten …

Lam ter slagting – Madelein Rust

Vyf meisies is reeds gemartel en vermoor voordat Renata Malan en haar span deur die polisie gekontrakteer word om ’n nuwe geval te ondersoek. Elke geval is doelbewus geplant sodat dit ontdek móés word en die modus operandi laat geen twyfel dat dit ’n reeks is nie.

Maar die spoor is koud. Identifikasie is onmoontlik vanweë hu gesigbeserings. Dit maak slagofferprofilering onmoontlik, want hoe vang mens ’n moordenaar as jy nie weet wie die slagoffers is of waar hulle vermoor is nie? Die enigste ander leidraad is ’n belofte van nog ’n moord oor drie en dertig dae.

Toe die outistiese forensiese beeldhouer in hegtenis geneem word, gaan rooi ligte aan vir Renata, en sy en haar span delf dieper. Word iets toegesmeer? Speel die obskure Noagsgemeente dalk ’n rol? Tot watter mate sal die Vrymesselaars een van hulle lede beskerm? Wat weet Mistress Raven, die eienares van die kerker waarin sado-masochiste hul seksspeletjies beoefen? En wat sal die versteurde Chanté Naudé-Mulder nóg doen om Stefan deel van haar lewe te maak?

Reis deur die hart – Leandra Naudé

Die sprong van Arriana se eerste beroep na die volgende is reusagtig: van ’n welsynwerker na ’n kelnerin by ’n spoghotel op Mauritius. Hier gaan dit nie so voorspoedig soos sy gehoop het nie, hoofsaaklik omdat sy nie juis in die wieg gelê is om vatterige mans se attensies af te weer, borde op haar arm te balanseer en drankies aan te dra nie. Maar die avontuur en skoonheid op die eiland vergoed ruimskoots daarvoor.

In elke paradys is daar ook ’n slang, vind sy gou uit. Iemand is besig met ’n gekonkel wat die hotel se boekhouding betref, dié dat dit op ’n persoonlike besoek van die hotelbaas uitloop – ’n Ier met ongemaklike blou oë en ’n persoonlikheid van staal.

Hoe diep die boosheid loop, sal sy egter later eers uitvind. Intussen doen sy haar bes om nie op die Ier verlief te raak nie. Hy is immers net nie in haar liga nie. Min het sy voorsien dat haar lewe in hierdie proses in gevaar is, asook dié van mense wat sy liefhet.

Nuwe Drome – Cecilia Nortjé

Cecilia Nortjé is bekend vir die diepte in haar romanses, en die eg menslike verhoudings tussen die karakters. Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Cecilia se vorige Romanzas:

Die weddenskap:

Teen haar sin doen Sam die smeeysterwerk vir die restourasie van Koningskop. Toe Bret de Koning met die belaglike weddenskap vorendag kom, laat sy haar intrek maar besef gou sy het haar eie smeeysterbesigheid op die spel geplaas.

Toekomsbelofte:

Kan dit werk en aanhou werk, met ’n ouderdomsverskil van vyf jaar tussen Katja en die jonger Isao? Of is kennis en opregte liefde groter as die groenoogmonster en bitter herinneringe? Dit moet Katja self uitvind.

Net ’n stukkie papier:

Pippa se geluk as nuwe spabestuurder van ’n luukse oord word ’n nagmerrie toe sy besef wie die oord se eienaar is: ’n deurtrapte skelm wat haar vyf jaar gelede uit haar casinogeld verkul het.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>