Lang pad na liefde − Cynthia Robertson

Pascale slaap daardie nag baie sleg. Hulle het op Callum se boot voor die reënbui uitgevlug en die eerste groot druppels het net teen die motor se windskerm begin val toe hulle by BoJangles indraai.

“Koffie?” vra Callum toe hy die bakkie se enjin afsluit. “Die seuns agter op die bak is seker halfpad verkluim.”

“M’m, dankie, maar nee, ek moet huiswaarts gaan,” keer Pascale haastig. “Arme ouma Saar is al heeldag saam met Piggy, hy moet seker ook ’n bietjie uit.” Flou verskoning! Ouma Saar kan vir Piggy beter hanteer as wat sy kan, maar sy moet hier wegkom voor haar oë haar verraai.

“Dis ’n jammerte. ’n Volgende keer, miskien?”

“Miskien. Baie dankie vir ’n heerlike dag,” sê sy styf en draai vinnig weg om uit te klim. Nadat sy die seuns gegroet het, kan sy nie vinnig genoeg wegry nie. Die vreemde, onleesbare blik in Callum oë ontsenu haar. Sy mag nie op hom verlief raak nie, sy mag net nie. Wil sy nou regtig een stel probleme ruil vir ’n ander?

Vroeg-vroeg het sy gaan inkruip, maar slaap het haar bly ontwyk. Toe sy uiteindelik wel indommel, kon sy steeds die boot onder haar op die see voel kantel en die groot Ier met sy melodieuse stem hoor bevele gee. Sy het regop gesit, haar kussings moedeloos in ’n ander vorm geslaan en weer probeer slaap. Sy kon nie eens opstaan en gaan TV kyk nie, sy was bang sy pla vir Ouma.

Douvoordag gee sy egter die stryd gewonne, trek haar japon aan en besluit om te gaan koffie maak. Die huis is nog stil, Piggy weier om te beweeg en Ouma slaap vir ’n verandering ook ’n bietjie laat. Stafendas rek vanaf sy lêplek op die kombuisstoel terwyl Pascale water in die ketel gooi en ’n beker voorberei. ’n Paar minute later stap sy terug na haar kamer toe en trek die gordyne oop sodat sy die see in die verte kan sien. Die mis lê egter tot teen die venster, sodat dit voel asof sy haarself in ’n kokon bevind – sy alleen in die hele wêreld.

Sy dink weer terug aan die vorige dag en wonder oor die magiese aantrekking wat Callum vir haar het; hy is alles wat sy nié in ’n man begeer nie. Om die waarheid te sê, sy is glad nie op soek na ’n man nie – haar egskeiding is dan nog nie eens deur nie! Sy druk haar vingers senuagtig deur haar hare en drink haar koffie peinsend. “Ek weet,” mor sy uiteindelik hardop. “Ek sal doen wat ek altyd doen, die voor- en nadele neer­skryf! Dit sal my perspektief gee.” Sy grou in haar aktetas wat oudergewoonte saamgekom het, en haal ’n pen en skryfblok uit. Nadele eerste, besluit sy, en deel die bladsy in twee. Sy wil nie regtig hê daar moet iets tussen hulle ontwikkel nie, al sien sy partykeer daardie onverklaarbare iets in sy oë wat haar laat dink dat hy tog belang stel. Sy ver­beel haar beslis.

Nadele skryf sy aan die linkerkant van die bladsy, en begin daaronder skryf.

Is nie my tipe nie.

Ek is nog getroud.

Ek moet ten minste ’n jaar vat om te herstel na ’n egskeiding. (Of so sê die ghoeroes.)

Hy is mal oor kinders – ek kan nie kinders hê nie.

O ja, hy het iemand in sy lewe. (Miskien.)

Hy is ’n Bybelpietie. Ek glo nie sulke ouens weet eens hoe om te vry nie.

Ek soek nie ’n Bybelpietie met ’n tradisionele ons-gaan-elke-Sondag-kerk-toe-lewe nie.

Hy het ’n werkwinkel waar hy alles en nog wat regmaak = geen ambisie nie.

Hy ry met ’n motorfiets.

?

Uiteindelik skryf sy by nommer tien weer in: Hy is nie my tipe nie.

Vir ’n ruk weifel sy oor die nadele en stoot die skryfblok weg. Maar nee, ’n mens moet regverdig wees, dink sy, en sleep dit weer nader. En dan be­gin sy met die voordele.

Hy is ongelooflik sexy.

Hy het goeie morele waardes.

Hy werk mooi met kinders en oumense.

Hy is nie materialisties nie.

Mense respekteer hom omdat hy sulke goeie werk doen en omdat hulle van hom hou.

Sy dink ewe skielik aan Dawid en besef dat baie min mense werklik van hom gehou het. Sy was al­tyd besig om verskonings te maak vir hom of om sy arrogante houding goed te praat. ’n Lig gaan vir haar op en vir die eerste keer is daar darem een voordeel aan haar mislukte huwelik: Sy sit nie meer met ’n chauvinis opgeskeep nie. Terug na die lys toe . . .

Die lewe saam met hom sal nooit saai wees nie.

Hy hou van Piggy. Groot pluspunt. Sy sit +++++ agterna.

Vir ’n lang ruk sit sy en tik met haar pen teen haar voortande, en maak dan vinnig haar lysie klaar.

Ek hou baie van hom, hy is skerp en snaaks en slim.

Hy is ongelooflik sexy.

Bederf jou met hierdie wondermooi-verhaal: https://bit.ly/2On0Moq

Ook beskikbaar as e-boek: https://bit.ly/2vY0jkQ

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>