Langtermynafspraak – Bep Du Toit

Toe sy haar kop effens vooroor buig en iets uit haar handsak haal, swaai die hare eenkant toe en Maarten moet keer of hy steek sy hand uit om daaraan te raak. Vinnig maak hy die tydskrif oop en maak asof hy verdiep is in ’n artikel. Af en toe kyk hy na haar. Hy wens sy wil haar gesig sykant toe draai sodat hy kan sien hoe sy lyk. Of dit dalk sý is …

Die ry word korter, nog twee mans, dan is dit haar beurt, en dan syne. Hy maak solank sy aktetas oop en sorteer die nodige dokumente en bêre die tydskrif.

Die meisie of dame se beurt. Sy gee professioneel en duidelik haar opdragte. Sy weet wat sy wil hê, dink Maarten. Sy raap haar papiere bymekaar en pak dit in haar handsak. Een gly egter uit haar hande en waai tot op die vloer. Maarten buk en tel dit vinnig op. Sy buk ook en met dié gly haar hare oor sy hande.

“Ekskuus,” sê sy en kyk na hom op.

Toe voel dit vir Maarten asof hy ’n hou teen sy kop kry. Daardie blou oë waarin die skrik weer soos daardie aand lê, herken hy. Net ’n sekonde, toe staan hulle op. Hy staan nog verdwaas met die papier toe sy dit uit sy hand pluk.

“Dankie,” sê sy en stap vinnig by hom verby na die uitgang.

Dis sy, dit moet sy wees. Daardie blou oë het hy herken. Hulle spook nog daagliks by hom, asook die knaende vraag wat hy teenoor haar kwytgeraak het. Hy kyk haar agterna waar sy tussen die mense verdwyn.

“Meneer, jou beurt. Kan ek help?”

“Ja, natuurlik.” Byna sit hy die tydskrif deur die gleuf. Kry dan onhandig die nodige papiere en stoot dit deur.

Die kassier werk vinnig. Toe sy alles nagegaan en op die rekenaar verwerk het, gee sy die papiere terug. Met ’n skalkse blik in haar oë buig sy vooroor en sê saggies: “Haar naam is Rika en sy is ’n kwilter.”

“’n Wat?” vra Maarten. ’n Ongeduldige stem agter hom vra: “Broer, hou op ginnegaap, almal agter jou is haastig.”

“Ekskuus,” sê Maarten en maak homself uit die voete. Buite soek sy oë deur die straat of hy haar dalk sien, maar sy het tussen die mense verdwyn.

Dit wás toe sy, die meisie in die restaurant. Nog steeds weet hy nie wat hy daardie aand vir haar gesê het nie. Dat haar naam Rika is, weet hy nou. En sy is ’n kwilter, wat op aarde dit ook al beteken. Sou dit ’n beroep wees soos ’n haarkapster of skoonheidskundige?

“Rika.” Hy voel die pittigheid op sy tong toe hy dit hardop sê. Dalk ’n afkorting van Elrika of iets dergeliks. Hy voel weer die sagte hare wat oor sy hand gegly het. Natuurlik sal sy hom nie herken het nie, troos hy homself. Dit het daardie aand vinnig gebeur en die plek was half donker. Sy het net geskrik toe hy saam met haar die papier opgetel het.

Terug by die werk hou die woord “kwilter” hom besig. Toe een van die dames verby sy kantoor loop, vra hy: “Lisa, wat is ’n kwilter?”

“Geen idee nie, dit klink na iets soos ’n koffiemaker. Waar hoor jy dit?”

“Sommer iemand wat die woord in die verbygaan genoem het.”

“Dit klink vir my soos ’n soort voëltjie,” klink ’n ander stem.

“Ek weet wat dit is,” sê Poppie, wat die gesprek gehoor het. “Kwilters is verveelde huisvroue wat lappe opsny en dit dan weer aanmekaarwerk. As dit klaar is, noem hulle dit ’n kwilt, ’n soort dik lappieskombers.”

“Dit klink taamlik nutteloos,” sê Maarten ’n bietjie teleurgesteld.

“Glo my, dit is,” knik Poppie.

“Jy het ’n vergadering,” herinner die baas hom en vir tyd en wyl raak die meisie, wat ’n kwilter is, op die agtergrond.

Opgewonde oor die werk wat tydens die vergadering aan hom opgedra is, kom Maarten by sy woonstel aan. ’n Wonderlike opdrag, die nuwe biblioteek is byna klaar. Hy het meegewerk aan die ontwerp daarvan. Hy het ’n groot aandeel daarin gekry om die gebou se ingangsportaal in te rig en te versier. ’n Groot vertrek met hoë mure wat ook vir vergaderings en funksies moet dien. Allerlei planne speel die aand deur sy gedagtes. Kleur en vorm veral, sal belangrik wees. Dit moet inspirerend wees, ’n deurgang na die biblioteek self. ’n Ingangsportaal moet soos ’n vriendelike uitnodiging voel. Die vloer se teëls is nou klaar gekies. Al wat oorbly, is die versiering van die hoë mure. Een of ander kunswerk dalk? ’n Aantal skilderye?

Eers net voor hy wegsink in die slaap, staan die twee blou oë weer voor sy geestesoog.

Koop nou Langtermynafspraak  hier: https://bit.ly/2wnCfZ

Ook beskikbaar as e-boek: https://bit.ly/2Nbf7nv

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>