Haar Valentynsgeskenk – Bets Smith

“Hoe meer haas hoe minder spoed,” mompel Mandie in die voue van haar hemp. Sy het te min knope losgemaak en om hulle bokant haar kop oop te kry, is onmoontlik. “Tydsberekening is alles.” Sy gee die hemp ’n pluk wat haar kop daaruit ontset.

“Wat mompel jy, Vrou?” kom James se stem uit die instapkas.

Hy soek die regte das, raai Mandie.

Tydsame voetstappe kom nader, toe staan hy in die badkamerdeur, twee dasse in die hand, sy hemp reeds toegeknoop. “Watter een, rooi of blou?” Hy hou die dasse een na die ander teen sy keel.

“Bêre die rooie vir môre.” James sal nie onthou dis Valentynsdag nie, maar iemand op kantoor sal dit wel opmerk. Sy begin haastig tande borsel.

“Knock-knock.” Renske, hul tienerdogter in graad agt loer om die deurkosyn. “Ma, môre is Valentine’s Day en ek móét ’n nuwe rooi T-shirt kry.”

“Wat’s fout met die oue?” Tandepasta spat teen die spieël.

Renske druk ’n donkerpienk T-hemp onder haar neus. “Verbleik. Die matrieks gaan uitfreak as ek só daar aankom.”

“Leen myne.” Daar is eenvoudig nie vandag tyd vir inkopies nie.

“Ma s’n?” Renske se stem klim verbaas. “Dit sal hopeloos te groot wees vir my.” Die kyk wat Renske haar gee, rek die gaping tussen ’n nommer twee en dertig en vier en dertig tot rampafmetings. “Ek en Ma kan gou ná skool mall toe ry en nog betyds terug wees vir vieruur se groentjiekonsert en atletiekoefening. Ná atletiek moet Ma my gou huis toe bring om te stort voor vanaand se verkiesing van die interhoër-dirigente.” Renske seil by die deur uit voordat Mandie haar mond kan afdroog.

“Vrou, jy onthou nog die vennote en hul vrouens kom vanaand by ons eet?” James se woorde briek haar voor sy Renske kan agternasit.

“Dis die eerste woord wat ek daarvan hoor.” James kon ’n beter tyd van die jaar gekies het om verstrooid te wees.

“Het ek vergeet? Dis seker nie so erg nie, is dit? Ons sal agt wees – jy maak net bietjie meer van alles wat jy in elk geval vanaand vir ons sou gemaak het.”

Daar is nie tyd daarvoor nie, anders het sy haar hande teen haar kop gedruk oor dié manlike logika. “Ons sou vanaand hamburgers geëet het. Ek is op terreindiens en moet die kinders op die pawiljoen gaan oppas terwyl hulle atletiekliedjies oefen. Ek kom eers seweuur by die huis.” Sy voel lus om hom te verdelg. Agtien jaar getroud en hy doen so iets aan haar. “Jy het gehoor wat Renske sê: Ek moet haar mall toe vat. Jy sal vir die mense vleis moet braai.”

“Jammer, braaivleis is uit.” Hy hendsop en trek sy skouers op. “Twee van die vrouens is vegetaries. Dink jy maar aan iets wat almal sal pas en laat my weet wat ek moet doen. Ek sal die tafel solank dek en vir almal drankies skink as hulle opdaag voor jy hier is. Jy kom doen net die finishing touches. Tensy jy natuurlik jou diens met iemand wil uitruil.” Na ’n skramse soen op haar wang vlug hy motorhuis toe om te ontsnap na die veiligheid van die kantoor.

“Ma, ek het môre twee flip files nodig vir Seks en Social.” Nelis se vertaling van Lewensopvoeding laat Mandie se nekhare rys. Hy draf in die gang by haar verby voordat sy hom daaroor kan vastrap. As Nelis draf, is dit later as wat sy gedink het. “Ma kan dit sommer koop wanneer julle vroumense mall toe gaan.” Die laaste sin kom oor sy skouer net voor hy by die deur uitseil, uit die pad van moontlike vlieënde voorwerpe wat sy na hom kan slinger.

Dis die laaste strooi. Mandie se moermeter tref die gevaarmerk met ’n feitlik hoorbare pieng, en sleep haar andersins lae bloeddruk daarmee saam die hoogte in.

Haar Valentynsgeskenk deur Bets Smith verskyn saam met Nog altyd jy deur Madelein Stoltz!

Koop hier:

  • LAPA Uitgewers:  https://bit.ly/2OGtL7I
  • Amazon: https://amzn.to/2LUMSwi

Kommentaar (1)

  1. AntwoordMadelie Human
    Dit klink so-so bekend!! Enige werkende ma sal hiermee kan identifiseer. GREAT!!

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>