’n Storieboekromanse – Dina Botha

Tristan sug diep en beterweterig. Juliette verstaan nie hoekom dit hom enigsins raak nie. Soos hy sê, hy is die persoonlike assistent en nie die skrywer nie.

“Wat my betref, jag jou tydskrif net sensasie. Mense is geregtig op hul privaatheid en hoef nie op almal se sosialemediablaaie bespreek te word nie,” sê hy wat hy so ooglopend dink.

Juliette roer haar skouers. “Dis dalk so, maar dit is nou eenmaal my brood en botter.” Sy slaan die kontrakdokument van vier bladsy oop en frons liggies toe sy hier en daar iets lees. “Dié is ’n behoorlike kontrak. Met allerhande moets en moenies, lyk dit my. Ek kan dit nie net teken nie, ek sal dit eers moet gaan bestudeer.”

“Ek verstaan heeltemal. Neem dit saam kantoor toe en bespreek dit met jou redakteur. As julle nie bereid is om die bepalings na te kom nie, val die onderhoud en die naweek natuurlik deur die mat.”

Tristan klink so seker dat laasgenoemde die geval gaan wees dat sy vinnig keer. “Wag, kan ek die aanhangsels nie self met Alice bespreek nie?”

“Onder geen omstandighede nie. Soos jy weet, verkies sy om uit die kollig te bly.”

“Uit die kollig bly, is ligtelik gestel. Niemand weet eens hoe sy lyk of hoe oud sy is nie.”

“En dis hoe sy dit verkies. Sodra jou tydskrif die ooreenkoms aanvaar het, sal jy haar ontmoet en kan jy jou griewe self met haar bespreek. Tot dan bly dinge net soos dit is.”

Hier gaan sy nie hond haaraf maak nie, besef sy en maak die dokument weer toe. Sy bêre dit in haar aktetas. “Nou goed, ek het seker nie veel van ’n keuse nie. Die tydskrif sal terugkom na jou toe.”

Tristan loop tot by die deur en dis duidelik dat sy nie vir koffie en koek genooi gaan word nie. Maar dit pas haar. Die kanse lyk al hoe beter dat die onderhoud met Alice Beechman nie gaan plaasvind nie. Anelda, Expose se redakteur, sal maar net moet terugval op hulle tweede keuse, die swemmer Henro Aggenbach, tans ’n Olimpiese gouemedaljewenner en een van Suid-Afrika se spogprodukte. Die meeste meisies sal hulle voortande gee vir ’n naweek saam met hom, sy inkluis.

“Ons praat binnekort weer,” sê Juliette en steek haar hand uit. Die groet is vlugtig, maar lank genoeg vir haar om te weet sy hande is koel – nes sy persoonlikheid. Gelukkig vir haar het dit intussen opgehou reën en haal sy haar motor sonder om weer nat te word. Toe sy agter haar stuurwiel sit, kyk sy werktuiglik terug huis toe. Soos sy verwag het, is die voordeur reeds toe. Tristan het nie ’n oomblik langer as wat nodig is op haar gemors nie. Sy ry egter nie dadelik weg nie, maar lees die dokument noukeurig deur. Asof ’n naweek nie klaar lank genoeg is nie, gee Alice die tydskrif sowaar ’n langnaweek in haar geselskap. Boonop ’n staptoer wat Juliette kan meemaak. Anelda gaan miskien verheug daaroor wees, maar sy wat Juliette is, is beslis nie. Dit gaan ’n lang en pynigende proses wees, kan sy sommer nou al voorspel. Alice gaan waarskynlik die hele naweek oor al haar denkbeeldige karakters gesels en Juliette is nie juis een vir fiktiewe stories nie. Nee, sy verkies die realiteit. Mét stawende feite.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>