Net myne – Susan Olivier

 

Jy het vandag ’n ander ring aan.” Hy lig haar hand en staar na die ring in sy ougoudmontering.

“Watter soort steen is hierdie?”

Amper ruk sy haar hand weg toe sy aanraking soos ’n skok deur haar lyf beweeg. So iets het sy nog nooit ervaar nie.
Hy ontmoet haar blik. Daar is ’n ingenome glinstering in sy oë wat haar verontrus. Doen hy dit aspris? Was dit ’n verskoning om aan haar te raak? Wou hy sien hoe sy gaan reageer?

“Dis ’n toermalyn, die kleur van jou oë.”

“Is dit hoekom jy dit vanoggend aanhet? Omdat dit jou aan my herinner?”

Weer blink pret in sy oë. Hy druk haar hand liggies. Dadelik is sy vies oor haar opmerking.

“Dis rêrig bloot toevallig. My juwele pas by my klere.”

Die groen in haar oorbelle en ring lyk nog altyd treffend by die wit van haar kort slooprokkie en hoë wit sandale. Hy lyk nie oortuig nie. Glimlag net ingenome.

“Kom ons kry iets om te eet.”

Sy moet die opwelling tussen hulle ’n bietjie inkort. Te veel van ’n goeie ding is nie noodwendig altyd goed nie. Nadia skep vrugteslaai en jogurt in. Human keer terug na die tafel met spek en eiers.

“Ek sien uit om weer by die huis te eet. Ons sjef ken al my voorkeure.”

“Vir hoe lank is jy al hier?”

“Al heelweek. Ek sorg dat ek soveel moontlik afsprake inkry sodat ek nie gou weer hoef te kom nie.”

Sy kan nie glo sy het hom nie vroeër raakgesien nie, maar haar program was dol. Sy het skaars tyd gehad om die omgewing te waardeer.

“Ek het jou en die wagte onmiddellik opgemerk. Ek het eers gedink jy is ’n beroemde celeb. Toe wonder ek of jy dalk getroud is met Kim. Ek het gehoop hy is slegs jou baas.”

“Toe is daar darem ’n eenvoudige verklaring.”

“Ek is jammer oor gister se misverstand. Ek het mooi gaan dink oor my aanslag en besef my benadering was lomp. Ek is veral spyt oor die enorme salarispakket wat ek aanbied.”

Die onnutsige uitdrukking in sy oë weerspreek die ernstige toon van sy woorde.

“Jou verskoning word aanvaar,” lig sy hom lakonies in.

“Sou dit meer aanneemlik wees as ek uit die staanspoor sê ek vind jou begeerlik en wil jou beter leer ken?”
Sy word onkant gevang deur die opmerking. Sy kan beswaarlik erken dis waarvoor sy gehoop het.

“Nie noodwendig nie.”

Hy glimlag. “Dis ’n teleurstelling. Ek het gehoop jy gaan ja sê.” Hy raak ernstig.

“Ek het nie bybedoelinge met my aanbod nie.”

“Dankie, maar ek soek nie ander werk nie. As ek van plan verander, sal ek jou kontak.”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>