Susan Olivier en Die Wikkelspiese skryf!

By boekbekendstellings word daar gereeld gevra: waar  kry jy jou inspirasie? Daar is vele antwoorde op die vraag, maar die afgelope twee jaar het ek ’n nuwe bron van inspirasie gevind. Deur deel van ’n skryfgroep te wees.

Twee jaar gelede was ek ’n aanbieder by die ATKV Skryfskool vir Liefdesverhale. Daar het ek ‘n klomp oulike skrywers ontmoet, van albei geslagte. Ek het nie twee keer gedink toe ek genooi is om deel te wees van ’n skryfgroepie wat in Pretoria bymekaarkom nie. Ons groep se naam is Die Wikkelspiese. Ons het skrywers wat van Middelburg en Harties by ons aansluit.  Ek deel nie net met hulle uit my ervaring nie, maar leer ook by hulle. Ná elke byeenkoms word ek opnuut geïnspireer om weer te sit en skryf. Ons gee mekaar raad, moedig mekaar aan na teleurstellings en inspireer mekaar om aan te hou te skryf. Ons drink ook vonkelwyn met elke prestasie. Ons leer ook by ander kundiges, soos Dina Botha en Joanita Fourie. En met elke byeenkoms lag ons baie en maak skryf pret.

In twee jaar kon ons al vele hoogte punte vier. Rene van Zyl het haar eerste twee Romanzas gepubliseer en is nou ’n ervare skrywer in eie reg. Ons wag op die publikasie van Joubert Odendaal se spanningsverhaal wat hy by Naledi publiseer. Nog twee het hul manuskripte na Lapa ingestuur, die een wag op hete kole vir terugvoer en die ander een moet afrond vir publikasie.

Vir my is skryf nie ’n kompetisie nie. Lapa het altyd plek vir nog skrywers, en dit beteken kwalik dat ek ontneem word van ʼn publikasiegeleentheid. Deur ander skrywers aan te moedig, dra ek bloot die raad en ondersteuning oor wat ander skrywers en uitgewers my oor ʼn dekade gegee het.

Skryf is ’n heerlike, maar uitdagende proses wat ons met mekaar moet deel. Ek geniet dit vreeslik om nuwe skrywers aan te por om moed bymekaar te skraap om hul eerste manuskrip weg te stuur. Daarna raak dit ’n bietjie makliker. Ek was ook in hulle skoene, en ken te goed die onsekerheid of jy ooit goed genoeg is om jou boek eendag op die rak te sien, daarom voel dit soos my prestasie as ek hoor een my groepie sy manuskrip is aanvaar.

 

Kommentaar (1)

  1. AntwoordMadelie Human
    Wonderlik! Doe zoo voort, julle!

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>