Reg vir my – Marilé Cloete

“Dankie, Suster, ek sal sommer in die voorportaal gaan sit en lees.”

Eintlik is hy nie meer veel van ’n leser nie en het hy ook nie leesstof by hom nie, maar Henk kan nie wag om onder die verpleegpersoneel se oë uit te kom nie. Hulle vermoed onraad. Dis net ’n kwessie van tyd voor hy herken word. Hy weet nie waar sy kop was toe hy besluit het die Karoo is ’n goeie plek om te kom wegkruip nie. Die mense hier weet wat aangaan, hulle kyk televisie, lees tydskrifte en koerante, hulle het internet. Uit ondervinding weet hy hulle ry maklik lang afstande om ’n konsert te gaan kyk. As hy wil wegraak, sal hy dit in die stad moet gaan doen. Maar hy het nie krag vir die stad nie. Hy smag na die ooptes, die stilte, die eenvoud van die platteland. Hy kan duidelik sien hoe die suster oorweeg en dan tog besluit om dit te waag:

“Verskoon my, meneer Rademeyer, maar jy is nie dalk familie van die sanger Dewald Deysel nie?”

Dankie tog, hier gee sy hom onwetend ’n uitkomkans.

“Hy’s my . . . h’m . . . my kleinneef, Suster,” jok hy en skaam hom vreeslik. Hy sweer hy staan en bloos soos ’n skoolseun.

Gelukkig bedek die baard omtrent sy hele bakkies.

“Die mense sê dikwels ons trek op mekaar. Dis maar net die rooi hare, verder verskil ons eintlik soos dag en nag.”

“Ek wou darem sê. Die nagpersoneel was behoorlik op hol toe ek vanoggend hier aankom. Maar ek het vir hulle gesê Dewald is mos in Australië. Die Familie het mos juis laas week ’n artikel gehad oor hoe hy die Aussies verower het met sy “Waltzing Matilda” in Afrika-styl.”

Hy voel slegter by die oomblik. Wat ’n genade dis nie algemeen bekend dat Dewald Deysel slegs sy verhoognaam is nie. “Ek is nie eintlik op hoogte van Dewald se bewegings nie, is nie juis groot op sy soort musiek nie,” praat hy homself nog verder in die verderf in.

“Dis nou jammer,” sug die suster, haar blou oë vol drome. “Ek wou nog sê, as jy hom sien, moet jy tog sê ons dorp is vol van sy fans.”

“Ek sal sorg dat hy dit hoor,” probeer hy opmaak vir sy spekskietery. Hy voel soos ’n skurk.

Wat sal dit nou van hom vat om sy naam ’n paar keer vir die personeel te teken, sy gesig op ’n vriendelike plooi vir ’n paar selfies te trek? Maar alles in hom kom daarteen in opstand. Tien jaar was te lank. Hy het ’n verposing nodig. Anonimiteit, die kans om net ’n gewone toeris in sy eie land te wees.

Wel, die reis het nie alte goed begin nie. Dit was nou nie sy voorneme om in ’n plattelandse hospitaal te beland nie. Hy kan sy sterre dank sy gasheer blyk toe ’n afgetrede dokter te wees wat onmiddellik die situasie reg kon opsom. Anders was dit dalk bokveld toe met hom. Dit sal hom leer om slap te raak met sy roetine, te ver te ry en te min te eet en te veel te dink. Verleentheid is sy prominentste emosie vandat hy weer by sy positiewe is en besef het Desmond het waarskynlik sy lewe gered. Hy het selfs agter die ambulans aangery na die hospitaal op die groter dorp ook. Wat ’n genade hy het nie gisteraand self deurgesteek na die volgende dorp nie. Hy kon op die pad in ’n koma gegaan het en dan was dit klaar met hom.

“Ja, maak asseblief tog so,” ruk die verpleegkundige hom terug na die werklikheid.

“Die familie is seker trots op hom, of hoe?”

“Ja, baie. Totsiens, Suster, en dankie vir alles.” Hy moet maak dat hy wegkom onder die vrou se skerp oë. Dit kan wees dat sy dwarsdeur hom sien en glad nie sy halfgebakte storie glo nie.

“Totsiens en kyk nou in die vervolg beter na jouself, gehoor.”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>