Die ware Max in Dans met my

In Cynthia Robertson se jongste SuperRomanza, Dans met my, is die held ’n groot man in khaki. Een met seer in sy oë en sagtheid in sy siel. Maar hy is nie die enigeste held in die verhaal nie, Max, die dapper Duitse steekhaarpointer jaghond is ’n held in eie reg en hy gaan verseker net so diep in jou hart inkruip.

Die opdragboodskap in Dans met my lees:

“Hierdie boek word opgedra aan die ware Max, ’n yster, wat werklik sy baas teen ’n enorme mamba wou beskerm. Baie dankie ook aan sy baas, Gerhard, en Div, vir al die informasie oor die wildbedryf.”

Nou vertel Cynthia waar haar inspirasie vir Max se karakter vandaan kom.

Maximus Fourie was drie jaar en agt maande oud toe ek hom ontmoet het. Met sy toffie-bruin oë en neus, vreemde kolle en rif op sy rug was ek oortuig dat hy ‘n terrier/rifrug/pointer baster was – net om uit te vind dat hy inderwaarheid ’n pedigree baie langer as myne besit. German Wire-haired Pointers is ‘n rare spesie; peperduur, skaars, en gesog onder jagters oor hul kapasiteit vir gewone jag, spoorsny en om wild uit die water te haal.

Hy het swaar gedra aan sy titel, maar vir almal wat hom geken het was hy sommer net Max. Hy was Gerard Fourie van Marula Lodge Safari’s se hond. En om te sê dat hy net ’n hond was, sou ’n skreiende fout wees. Gerard was ’n gesoute en hubare alleenloper in die Alldays wêreld totdat hy my vriendin Elsabe ontmoet het, maar dit is ook ’n storie op sy eie wat wag om geskryf te word. Max was Gerard se vriend, vertroueling en assistent op al die jagtogte wat op sy plaas gehou is. Hy was nog jonk, besig om te leer, maar het dinge altyd blitsvinnig gesnap en verstaan. Hy en Gerard was onafskeidbaar, en hy was altyd spelerig en sou sy bal of stok by Gerard se voete kom pak en in afwagting terugsit totdat Gerard dit optel en vir hom gooi om te gaan haal. Sy bruin oë het ’n intelligensie uitgestraal wat ek nog selde by ander honde gesien het, en ek ken honde.

Max het maar gesukkel met hierdie nuwe nooi wat nou sy baas se lewe gedeel het na Gerard en Elsabe se troue. As sy vir hom ’n beveel gegee het sou hy anderpad kyk, of vir Gerard, met die vraag baie duidelik: Moet ek regtig vir haar luister?

Ek het plaas toe gegaan om vir my vriende te kuier en informasie in te win vir my boek, Dans Met My, oor die jagbedryf, en dadelik verlief geraak op die hond. Inderwaarheid het hy agter my gesit op die Polaris Crew Ranger toe ons die dag op die slang afgekom het. In my lewe het ek nog nie soveel bravado gesien nie. Max het met een voet op in jag-pose gestaan, klein tjankies gegee en gewag vir instruksie. Toe Gerard van die voertuig afspring met sy rewolwer was Max egter voor, bloot instinktief om sy geliefde baas te beskerm. Dit was vir my opvallend dat hy glad nie gereageer het op almal se geskree nie … behalwe Gerard s’n.

Dit was die grootste mamba wat enige van ons nog ooit gesien het, en sy tand het die arme hond net rakelings op sy oor geskraap, maar dit was fataal. ’n Droewige paar uur later het ons almal om ’n graf by die groot rots agter Gerard se huis gestaan. Tot die plaaswerkers was bewoë.

Daar is nou n nuwe German Wire-haired Pointer op die plaas, en sy naam is Bruno. Gelukkig is sy persoonlikheid heel anders as Max s’n, want dit is groot skoene wat hy gaan moet vol staan. Ons is almal oortuig dat Max nog steeds op die plaas is, besig om vir Gerard te volg en op te pas…

Dans met my is nou beskikbaar by: https://lapa.co.za/dans-met-my-1

Lekker lees!

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>