Madelein Stoltz se eie liefdesverhaal

Die heldin droom oor die held wat haar voete onder haar uitslaan, haar altyd verstaan en boonop is hy aantreklik ook. Die eerste mens het na ʼn maat gesmag en die Here het een vir hom een uit Adam se eie ribbebeen gevorm terwyl hy geslaap het.

Ek het my held in boeke raakgelees. Lank, donker en aantreklik. Boonop het ek Grease gaan kyk as tiener en John Travolta was die held van helde. Jammer, al julle ander ouens. Toe ontmoet ek my man, lank en lenig en hy was mal oor my. Net so belangrik was die feit dat hy nie elke naweek eerder saam met sy vriende wou gaan visvang het nie. My hart het gesing, want die liefde doen vreemde dinge.

Ons het jonk getrou, want die liefde laat hom ook nie keer nie. Toe koop ons boonop ons eerste huis, ʼn kar en ons eerste babaseun word gebore. Alles in een jaar!

Ek het weer my liefdesverhale gegryp en gelees oor helde, want my eie liefdesverhaal het in oorlewing verander. Te min geld om die rekeninge te betaal, ʼn baba wat siek word en my held het ’n humeur. Ek praat eerder nie my eie foute uit nie. Dit was oorlog. Ons het mekaar geslyp en sewe sakke sout opgeëet.

Toe is ons huweliksbootjie geruk met ons tweede baba, ʼn dogtertjie, se stilgeboorte. O, die pyn. Ek en my man het nie geweet hoe om mekaar te troos nie. Ons het net saam gehuil. Ek het gebid vir ʼn kind. Ek het nie werklik in God geglo nie, maar Hy het my gebed verhoor en nog ʼn seun is uit ons liefdesverhaal gebore.

Ons leef nie altyd die perfekte liefdesverhaal nie. My man het al ʼn hartaanval gehad en twee rugoperasies. Hy het sy hare verloor, maar hy is myne. As hy perfek was, sou ek seker nie liefdesverhale geskryf het nie, want dit is waar die perfekte held gevind word. Ek het baie foute, maar hy het my lief soos ek is.

Ek bly lief vir jou ook, Johan. Tot die dood ons skei, want die Here God het jou vir my gegee. Dankie vir ons twee seuns. Ek glo ons babadogtertjie is veilig in die Here se arms.

Ek glo die Here het vir my skryftalent gegee, want Hy wil hê ek moet dit gebruik om iemand anders se lewe te verryk. Daar is baie vrouens wat alleen of sommer net ongelukkig is. Ek begin dit nou eers effens verstaan. Ons is almal gebroke en hier om mekaar te help.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>