2 Dae van liefdesverhale met die ROSA-tribe – Cliffordene Norton

Hierdie naweek was die jaarlikse ROSA-konferensie (Romance Writers of South Africa) by Melrose Place Guest Lodge. Danks aan Elsa Winckler woon die Romanza-span sedert 2016 jaarliks hierdie konferensie by. Dit is ’n uitstekende geleentheid om te leer, te kuier en ’n glasie vonkelwyn op liefdesverhale te klink.

Dit is moeilik om die gees van #ROSACon in ’n blogpost vas te vang. Dit is soos om ’n musiekkonsert van jou gunstelingsanger by te woon, maar jy stap weg met meer kennis en geen wingerdkoors.

Daar was soveel lekker praatjies dat ons spoilt for choice was.

Hoe kies jy tussen drie uitstekende praatjies?  Wel, jy sleep ’n kollega saam en deel op, sodat jy later kan notas deel.

Saterdagoggend het begin met Harlequin-skrywer, Joss Wood, se praatjie oor emosionele konflik. “Goeie emosionele konflik spruit vanuit ’n onbevredigde behoefte uit die karakter se verlede. Gee jou karakters keuse,” gee Joss raad.

Vir die res van die dag was daar nege praatjies met verskeidenheid van temas soos die toekoms van stories, plot deur Sophia Kapp, romantiese spanningsverhale, inspirasieverhale, ’n praatjie oor bonatuurlike verhale, doelwitte, sosiale media en Amazon. Joss Wood en Romy Sommer het ook die invloed van aktuele sake soos #MeToo en #OwnVoices in romanses bespreek.

Die aand was daar ’n gala-geleentheid en Didi Potgieter se Romanza, Liefde vir ’n ridder, het die Imbali-toekenning gewen. Elsa Winckler se Romanza, Jy is huis vir my, het tweede plek geneem.

Op Sondagoggend het Romy voornemende skrywers geleer hoe om hulself te bemark. Dit was ’n besige maar lekker dag en dit het gevoel asof jy saam met ou vriende kuier. Daar was agt praatjies oor die skryf van ’n sinopsis, die soen, kopieskryf, seksuele spanning, hoe om moeilike helde te red, selfpublikasie op Amazon en die Afrikaanse mark. Rae Rivers se praatjie, Defeating self-defeating behaviours, was ongelooflik met praktiese raad oor hoe om jou onsekerhede te hanteer.

Die konferensie het afgesluit met sjampanje op die terras. Skrywers kon gesels oor enigiets van hul gunstelingskrywers, -boeke, aanhalings, of wat hulle wil doen wanneer die muse nie om agtuur vir die dag inklok nie.

Ek kan nie wag vir volgende jaar se konferensie nie. Tot dan, word ek verlief op nuwe held en heldinne wat die geïnspireerde skrywers na die naweek skep. (Skimp-skimp!)

Kommentaar (1)

  1. AntwoordAmanda
    Klink heerlik en inspirerend!

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>