Ridder van haar hart – Madelein Stoltz

Die blonde man glimlag en steek sy hand uit na Shaylee. “My grootvader is ongesteld. Hy sal u nie nou te woord kan staan nie. Ek is Lorenzo Esposito. Waarmee kan ek help, Juffrou?”

Shaylee staan vinnig op. “Shaylee Momberg. My naam is Shaylee,” prewel sy en vergeet om Engels te praat. Die man hier voor haar is aantreklik én hy het goeie smaak in klere. Sy olyfgroen hemp met die bont kraag en mouboordjies by ’n ligte lospassende broek lyk of dit deel van ’n spesiale reeks is wat net vir hom ontwerp is. Hy het ’n mooi mond en sterk ken. Sy ligte hare kontrasteer sterk teen sy olyfkleurige gelaat. Dit laat sy oë ook nog bruiner vertoon, sy wimpers donkerder. Hy groet haar met die hand. Sy hand voel koel, sy handdruk ferm, maar sagkens asof hy bang is hy maak haar seer. Sy voel meteens baie selfbewus. Hoekom het sy nie meer moeite met haar hare of grimering gedoen nie?

“Aangename kennis,” antwoord Lorenzo egter in foutlose Afrikaans. “Sit asseblief weer, Juffrou. Kan ek vir u iets bestel om te drink? Koeldrank, sap, tee, koffie en ’n snytjie focaccia met iets lekkers op? Dit is al ná twaalf. Ek weet nie van u nie, maar ek het nog nie iets geëet vandag nie.”

Haar maag is ook dolleeg, onthou Shaylee. Net Amy het ontbyt gehad, pap en ’n vruggie wat Shaylee haar nog moes soebat om te eet. Sy was self te senuweeagtig oor hierdie ontmoeting met Sabrine se skoonfamilie en het net twee koppies sterk tee na mekaar gedrink.

“Tee en ’n broodjie sal lekker wees, dankie,” antwoord sy dankbaar, “en ’n bietjie melk vir Amy, in ’n plastiekbeker, verkieslik. Sy slaap nooit te lank nie.” Sy wys na Amy se gestalte maar Lorenzo hou reeds sy sel teen sy oor.

Sy luister terwyl hy haar bestelling plaas. In Engels. Tee en koekies saam met die focaccia. Sy neem aan die koekies is vir Amy, want hy noem hier is ’n kleintjie. Hy het ’n besondere stem, dit moet sy Italiaanse aksent wees, al het hy ook flussies so pragtig in Afrikaans gepraat. Dit verbaas haar nog, want Giovanni het net Engels gepraat met haar al het hy vir haar en Amy in haar moedertaal hoor praat. Sy en Goliat . . . Aaron ook.

Shaylee besef meteens Lorenzo se sel is weer terug in sy hemp se sak. Sy blik is vasgenael op Amy. Amy is wakker en skop met haar voete teen Shaylee se bene. Haar susterskind gluur die vreemde man aan met daardie Amy-frons tussen donker wenkbroue wat skerp afsteek teen blonde hare. Nes Lorenzo s’n. Nes Marcello s’n. Net iemand met baie swak sig sal nie die ooreenkoms raaksien nie.

“Dan het Giovanni nog al sy varkies,” hoor sy Lorenzo sê. “Aangesien sy nie myne is nie, moet sy Marcello s’n wees. Hoe oud is die kind?” Hy lyk nie geskok nie. Trouens, sy oë is onleesbaar sodat dit onmoontlik vir Shaylee is om te probeer bepaal wat hy van die nuus dink.

“Twee jaar en drie maande. En ja, haar pa se naam was Marcello.” Sy sien hoe hy sommetjies maak. Hy byt sy onderlip vas soos klein Amy ook so lief is om te doen. Die appeltjie het nie ver van hierdie tak van die Esposito-boom geval nie.

Lorenzo se donker kykers boor in Shaylee se groenes, asof hy probeer bepaal of hy haar kan glo. Hy gaan sit op sy hurke voor Amy. “Hallo, kleintjie. Ek is jou oom, Lorenzo. Wat is jou naam?”

Amy se oë skiet vol trane en haar lip trek. Sy hou haar arms in Shaylee se rigting. “Shaylee hê!”

Shaylee tel vir Amy op haar skoot. “Ek is jammer. Amy is nie lief vir vreemde mense nie.” Sy glimlag flou, haar aandag by Amy. Sy druk soentjies op haar pienk wange en vryf saggies oor haar rug, want sy weet dit kalmeer Amy gewoonlik.

“Wie se skuld is dit? Hoekom is ek nie vantevore in kennis gestel van . . . van my broer se kind nie?” hoor sy Lorenzo vra. Hy praat sag en het na Engels toe oorgeskakel asof hy bang is sy woorde ontstel die kind.

Sag of nie, die vrae is bedoel om beskuldigend te klink. Sy kan die man seker nie kwalik neem nie. Sy kan net raai hoe sy sou gereageer het as sy in die man se skoene was. “Ek is jammer. Ek . . . ” Sy soek na die regte woorde om te sê.

“Was jy skaam om ons te laat weet jy verwag Marcello se buite-egtelike kind?”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>