Hier in die middel – Santie van der Merwe

Dis ʼn weerlose oomblik wanneer jy besef jy kyk nou van twee kante af. Aan die een kant staan jou ma, en aan die ander kant staan jou volwasse dogter. Toe jy nie gekyk het nie, toe jy besig was met alledaagse dinge, met wasgoed en skottelgoed en kos het die aarde onder jou verskuif. Jy staan met die brandende fakkel van alles wat jy by jou ma geleer het, en jy moet die fakkel aan die brand hou sodat jy dit vir jou dogter kan aangee. Jou ma word voor jou oë broser, en jou dogter sterker. En tussenin is jy en jy weet nog goed hoe dit is om jonk te wees, maar jy voel alreeds oudword ook aan jou lyf. Jy weet ook nou dat dit futiel was om al die foute wat jy dink jou ma gemaak het, te probeer systap, want jy het maar net jou eie gemaak.

Hier waar ek in die middel staan, sien ek alles nou duideliker. Foute, ja, want verhoudings is nie maklik nie, en die verhouding tussen ʼn ma en dogter seker die delikaatste van almal. Want vroue is krities op mekaar, maar nog meer krities op hulleself. En ons sien onself. In ons ma’s en in ons dogters. Ons sien wat ons kan word, en wat ons kon wees. Ons is bang vir dit wat ons kan oorerf, en dit wat ons kan oordra. En ons is bang ons is nie genoeg nie. Dat ons nie ons ma’s se skoene kan volstaan nie, dat ons nie die beste voorbeeld is vir ons dogters nie. Maar as ons nie vasgedraai word in ons tekortkominge nie, as ons voorbehoude en vooroordele laat gaan, is dit die beste plek om te wees.

Hier in die middel is ek beskerm, deur iemand wyser aan die een kant en iemand met meer moed as ek aan die ander kant. My ma en ek en my dogter lyk glad nie na mekaar nie. Maar ons lees al drie graag, en ons het besige hande. Ons kan lekker tee maak, en ons hou van ons eie geselsskap. Ons dra dieselfde naam, maar ons is drie verskillende vroue met verskillende persoonlikhede. Ons al drie besef dit en ek dink dit is ons behoud. Dat ons mekaar aanvaar vir wie ons as individue is. Ons hoef nie met mekaar saam te stem nie, maar ons respekteer mekaar. En ons weet veral dat daar baie min probleme tussen ons is wat ons nie gewapen met wol en naalde oor ʼn pot tee kan oplos nie.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>