Ons vier internasionale koffie-dag saam met Didi Potgieter

Drie jaar terug, gaan drink ek een oggend saam met ʼn groepie vriendinne koffie by ʼn redelike nuwe koffiewinkeltjie naby die skool. Die winter was op sy koudste en die warm koppie boeretroos was net die ding. Die eerste sluk het egter my stoutste verwagtinge oortref en die volgende oggend het ons weer die koue aangedurf vir die spesiale koffie. Oggend drie, het oggend vier geword, die lattés net lekkerder, die vriendskappe hegter.

In moeilike tye het die atmosfeer en koffie van DeMilko ʼn anker geword, ʼn veilige hawe teen die storms van die lewe – amper soos ʼn Romanza, of hoe?

Ek het al baie kritiek gehoor oor die voorspelbaarheid van die Romanse-genre. Tog is ek wys genoeg om te weet ek dat hierdie verhale juis is soos ʼn gunsteling koffie by jou gunsteling koffiewinkel. Jy bestee jou hardverdiende  geld daarop omdat jy presies weet wat jy gaan kry en jy is verseker van die gevoel van tevredenheid en geborgenheid as jy daar wegstap. Ek het in drie jaar al ander koffiewinkels probeer, maar DeMilko het soos huis vir my geword. Ek het oor my leeftyd ook al baie verskillende genres gelees – tog bevind ek myself elke kort-kort met ʼn klein boekie in die hand, omdat sy soos ʼn beste vriendin vir my is – en vandat ek skryf, miskien ook ʼn sussie.

Ons is vier vriendinne wat steeds meeste oggende na ons die kinders by die skool afgelaai het, by DeMilko bymekaar kom oor ʼn koppie koffie. Soos ʼn goeie Romanza betref was daar oor die afgelope drie jaar konflik, humor, nuwe liefde en selfs ʼn troue in ons vriendekring. Ek moet sê, die voorspelbaarheid van elkeen se bestellings het soos aanwysings langs die pad geword. Aanwysings wat maak dat ons ’n anker vir mekaar kan wees. Saam skep ons ʼn mooi storie wat ander graag sal wil lees of selfs dalk wil beleef. Ons oggende op die stoep van DeMilko het ʼn spieël geword van die deernis waarmee Lapa nog elke storie van my rakke toe gestuur het.

Ek bestel die meeste van die tyd ʼn Latté, behalwe as die heldin wat op daardie stadium in my kop praat iets anders vereis (tog gun ek haar nooit soet koffie nie). Ek is die skrywer, die skepper. Elke storie wat ek per ongeluk afluister, of aan my vertel word, word in my stories ingeweef.

Alta, die ma van vier, bestel altyd ʼn Flat White – dit word bedien in ʼn koppie met ʼn piering. Die fyn vroulikheid daarvan pas by haar, dit is egter die beheer wat sy oor beide die koppie en die piering het wat verklap wie sy werklik is. Jy kan Alta vertrou om die klein dingetjies te onthou en die fynere detail in te kleur. Sy is ook meestal my eerste leser (selfs voor die uitgewer), juis omdat sy beheer het oor die fynste besonderhede.

Minette, die een met haar eie klerereeks en -winkel wie jy altyd deur ʼn ring kan trek , het ook haar voorspelbare voorkeure. Die oggende wat sy doelgerig en gereed is om ʼn sakevrou te wees, drink sy ʼn Jason – dit is ʼn Latté met ʼn ekstra skoot koffie. Die oggende wat die kunstenaar in haar wakker is, bestel sy ʼn Mocha en dan sommer nog ʼn sjokolade cupcake by. Sy sal die een wees wat die voorblad kies, nie net vir die estetiese waarde nie, maar omdat dit die boek sal laat verkoop. Sy is ook die een wat as sy vermoed my karakters wroeg te veel, my daaroor aanvat en vinnig sal sê as die storie nie werk nie.

Ina, die bioloog en ewige dromer, se keuses word bepaal deur die tipe oggend wat sy by die huis gehad het. As haar twee seuns die oggend moeilik was, bestel sy ook ʼn Jason. Vandat haar Ridder oor haar pad gekom het, bestel sy soms ʼn soet koffie, soos ʼn Salted Caramel. Sy is die een wat my romantiese hart opnuut laat glo het aan gelukkige eindes in die ‘regte lewe’ en as iemand my ooit sou vertel dat die stories wat ek skryf onrealisties is, sou ek hulle net Ina se storie te vertel. Sy is dus die een wie se geloof in wat tussen die blaaie gebeur, die storie vir die wêreld vat.

Nie een oggend voel ek dit is nodig dat ek hoef te verduidelik hoekom ek juis by hierdie koffiewinkel sit saam met hierdie groep vroue nie. Nie een maal kyk iemand my vreemd aan oor ek die ‘gewone’ bestel nie. Ek dink dit is onregverdig dat dit met leesstof die geval is. Ek glo die tyd het aangebreek dat ons Romanza sien as ons beste vriendin, of beter nog, ons gunsteling koppie koffie by jou gunsteling koffiewinkel.

Mag jy op hierdie internasionale koffie-dag jou beste vriendin, jou gunsteling boek en jou gunsteling koppie koffie in jou hand hê, en mag die voorspelbaarheid in jou lewe, sorg dat jy elke keer weer jou pad terug na ʼn veilige hawe vind.

Kommentaar (1)

  1. AntwoordSUSAN
    Pragtige vergelyking tussen koffie en Romanza!

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>