Winterdroom – Alma Carstens

 

Hy neem haar na ’n restaurant nie ver van die hospitaal af nie en tot haar verbystering kom sy agter hy het vroeër die dag al ’n tafel vir hulle bespreek. Die arrogante mansmens was oortuig daarvan dat sy sal saamkom!

“Wat wil jy drink? Wyn of eerder ’n cocktail?” vra hy terwyl hy die spyskaart by die drankies oopmaak.

“Gewoonlik drink ek nie in die week nie, maar as ek ’n tafel met jou moet deel, het ek beslis ’n versterking nodig,” antwoord sy sarkasties. “Wyn is reg, dankie.”

Hy bestel vir hulle ’n bottel rooiwyn en glimlag in haar oë toe die kelner wegstap. “Ek dink nie jy wil wyn drink as versterking nie, maar eerder om jou senuwees te kalmeer. Hoekom maak ek jou so gespanne, Simoné? Is dit omdat jy van my hou?”

Sy stik amper van verontwaardiging. Die man sal hom wat verbeel! “Nee. Jy sit die pot ver mis. Ek hou beslis nie van jou nie.”

“Dis oukei. Ek is nie meer jou pasiënt nie, jy mag maar op daardie manier van my hou. Ons oortree geen reëls nie.”

“Ek sê mos . . .” begin sy maar bly stil toe die kelner die wyn bring en vir hulle in twee glase skink.

“Ek het jou nog nooit ’n rede gegee om nie van my te hou nie, het ek? En tog, sedert ons mekaar ontmoet het, behandel jy my asof ek melaats is. En die enigste gevolgtrekking waartoe ek kan kom, is omdat jy van my hou op ’n manier wat weens jou professie as onbehoorlik beskou sal word en daarom probeer jy my met jou koue afsydigheid op ’n afstand hou. Dis jou verdedigingsmeganisme. Maar dis nie meer nodig nie.”

Sy neem ’n klein slukkie van die wyn toe haar keel kurkdroog raak. Hy praat asof hy bewus is van haar drome en sy rol daarin. “Kyk,” sê sy met geklemde kake toe sy die glas versigtig op die tafel neersit. “Jou enorme ego laat sien jou drogbeelde. Ek hou nie van jou nie. Punt. En jy hét my ’n rede gegee.”

Koop die lekkerleesliefdesverhaal hier: https://lapa.co.za/winterdroom

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>