Alice se Ierse sprokie – René van Zyl

“Ek maak ’n nota daarvan, meneer . . .”

“Ek is Sean O’Connor. Ek het twee weke gelede per e-pos navraag gedoen.”

Sy onthou die e-pos. Kortaf. Op die man af.

“Ja, ek onthou. Jy wou nog rondkyk na verskillende kleuterskole? Ek is bly jy het ons gekies.”

“Ek en Shannon het gekies. Toe ons die kasteelhuis van buite af sien, wou ons hiernatoe kom. Pappa wou ons na die A-Klas Kakademie toe vat,” laat Caitlin die aap uit die mou.

Sean lyk min gepla. “Akademie. Ek hou van formele onderrig. Die twee het nodig om vasgevat te word, veral in die voorskoolse jaar.”

Alice is nou eers bly sy het drie jaar gelede besluit om die vooraansig van die kleuterskool soos ’n ou kasteel te herbou. Dit was die moeite werd om ’n groot verband op die huis uit te neem, waaraan sy nou nog swaar afbetaal. Al was dit net om dié twee kinders se aandag te trek was dit die moeite werd. Hulle het iemand nodig om hulle ’n bietjie pret te gee. Die ou trol van ’n pa lyk of hy feetjies en suurpruime eet vir ontbyt.

“Ek onderrig self die voorskoolse groepie en jy kan gerus wees dat ek en hulle sommer lekker gaan saamwerk. My naam is juffrou Alice en ons gaan hierdie jaar baie pret hê.”

“Soos Alice in Wonderland?” vra Shannon skaam.

“Netso. My ma het my na daardie Alice vernoem. Ek is lief vir haastige hase met horlosies en pers katte en ek hou partykeer Mad Hatter-teepartytjies.” Die kinders staar haar bewonderend aan, maar die pa lyk minder beïndruk, dink seker sy het self bietjie Mad Hatter-bloed. “Julle twee kan solank in hierdie kamer gaan wag by die ander kinders. Daar is ’n lekker poppekas aan die gang.”

Die twee draf hand in hand die vertrek binne en Sean lyk sowaar afgehaal omdat hulle hom nie ordentlik groet nie. Alice verlekker haar so ’n klein bietjie in sy gesigsuitdrukking. Sy wonder steeds waar mevrou O’Connor is, maar sy sal moet wag vir die inligting wat die pa nou gaan invul. Gewoonlik bring die ma’s die kinders na hulle eerste skooldag.

Alice se Ierse sprokie is gedruk en in e-boek formaat beskikbaar by: https://bit.ly/2zT62vJ

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>