Die meisie langsaan – Nellie Alberts

Die meisie langsaan – Nellie Alberts

“Ag, komaan nou, Liebert, so erg is dit tog nie!” Adamia Verhoef slaan haar oë dak toe. “Wat kerm jy so?”

“Jy weet, ek dink nie ek weet hoe om jou te vergewe nie.” Liebert se grinterige stem styg ’n oktaaf. “Verdomp, Adamia, ek wíl jou nie vergewe nie!” Die lessenaar bewe soos die donker man met sy plat hand daarop slaan.

Sy kyk ongestoord hoe ’n keramiekhouer met ’n paar penne en potlode met ’n slag omval. Hy vee dit geïrriteerd van die tafel af sodat die houer met ’n dowwe klapgeluid op die bruin leiklipvloer breek. Skryfgoed rol oor die vloer en ’n leë balpuntpen kom tot stilstand teen haar stowwerige stewel.

Sy sug. “Kyk net die klomp gemors. As jy ’n vrou gehad het, kon sy sorg dat daar nie ’n klomp leë, nuttelose penne jou kantoor vol lê nie.” Sy skop liggies die plastiekpen weg van haar. Sy sit-lê in die leunstoel, met een vuil denimgeklede been wat oor die leerstoel se armleuning hang. Sy steur haar min aan die woede van die man agter die lessenaar. Hoekom sal sy nie ook vuil baklei nie? Sy ken vir Liebert Nel vandat sy ’n klein, modderbesmeerde dogtertjie was. Sy hou hom dop toe sy lang lenige lyf in die draaistoel agter die lessenaar neersak en die groot hande moedeloos deur sy donkerbruin hare stoot.

Dis net ’n kwessie van tyd, sy weet; hy sal nou- nou knak.

“Ek wíl dit nie doen nie.” Sy stem is sagter.

Adamia vou haar arms en leun verder terug; sy weet die volgende ding is dat hy gaan soebat. Die storm en gedonder is verby; nou daardie melerige smeektoon wat hy altyd met haar ma met eenhonderd persent sukses gebruik. Maar sy wat Adamia is, is van harder stoffasie gemaak as Mariaan Verhoef. Sy kén hierdie mansmens voor haar asof sy hom met ’n knipmes gemaak het. Grootgeword saam met hom, ken al sy truuks.

Sy wag.

“Asseblief, Adamia, ek smeek jou.”

Aha! Het sy dit nie verwag nie. Amper klop sy haarself op die skouer uit selfvoldaanheid.

Sy bruin oë kreukel half toe vir effek.

Ag, ’n ou truuk; dit roer nie eens ’n spiertjie in haar hart nie. Sy kyk sommer anderpad.

“Trek asseblief die inskrywing terug. Groot, g-r- o-o-t asseblief?”

Sy wag nog. Sy weet wat kom: Ek sal op my knieë voor jou gaan staan. En hy sal sy stem gevoelvol laat bewe.

“Ek vra jou, op my knieë, mooi asseblief.” Sy stem bewe gevoelvol.

Adamia draai haar kop hardvogtig weg, kyk by die venster uit, sê niks. Die donkerbruin slierte van haar lang poniestert sleep oor haar ruitjieshempkraag en sy vee haar hare uit haar nek. In ’n weikampie buite word ’n jaaroud vul op ’n lang leiselriem deur sy passies gesit. By die storte is ’n stalwerker besig om ’n kastaiingbruin perd te bad; strome water stort oor sy glansende vel.

Buite hoor sy ’n perd runnik. Seker Enog. Hoe ongeduldig is die swart hingsperd tog nie altyd om in sy stal te kom aan die einde van die dag nie. Die skuins sonstrale wat deur die kantoorvenster val, sê vir haar dis tyd om die perde in hul stalle te kry vir die nag. Sy wil nog ’n draai by die merrie maak wat vanoggend gevul het.

Uit die hoek van haar oog merk sy op dat Liebert nie die daad by die woord voeg en kniel nie, maar in sy stoel bly sit. Sy giggel heimlik, sy het niks anders van hom verwag nie, ou kansvatter. Volgende gaan hy die verwytkaart speel: Hoe kan jy dit aan my doen? Ek, wat nader as ’n broer aan jou is? Sy draai terug na hom toe en lig haar onversorgde wenkbroue afwagtend.

“Ek het dit nie van jou verwag nie. Dat jy my so in die rug kon steek!”

Aha, Et tu, Brute? Hy stel haar weer eens nie teleur nie. Sy kruis haar lang bene en stut haar ken verveeld in haar hande. Dis soos ’n monoloog, niks stuit hom nie.

Nellie Alberts se debuutromans, Die meisie langsaan, in die Romanza-reeks is beskikbaar by: https://lapa.co.za/die-meisie-langsaan

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>