Vir ’n oomblik, vir altyd – Ciska Olivier

Hy kom sit weer op die rand van die bed en sy duim vee liggies oor haar voet. “Ek moet om verskoning vra dat ek jou omgeloop het. Tog is ek nie jammer ek het in jou vasgeloop nie.” Hy glimlag skeef en kyk deur sy wimpers na haar.

As sy gedink het hy kan nie aantrekliker wees nie, het sy haar gruwelik misgis. Dit is asof die aarde stadig tot stilstand kom, maar haar hart nuwe hoogtes bereik.

“Dis nie aldag dat ’n man hom in so ’n oulike rooikop vasloop nie,” fluister hy hard en leun sameswerend nader.

Haar mond val verbaas oop en sy knip haar oë. Het sy reg gehoor?

Hy skuif nog nader en sy voel hoe haar keel toetrek toe sy heup teen hare druk. Sy oë het verdonker en het nou ’n swaar uitdrukking. Dit lok haar soos ’n mot na ’n vlam.

“Ek het nie rooi hare nie,” kry sy skor uit en probeer desperaat dink hoeveel sy vanaand te drinke gehad het. Want sy moet minstens dronk wees om so vreemd te reageer. Tog het sy net een glas wyn gehad, daarvan is sy seker.

Tergduiweltjies kom kruip in sy oë en hy leun stadig oor, ’n glimlag op sy lippe. “Glo my,” fluister hy sag en sy kop sak nog laer.

Sy weet sy moet hom nie toelaat om haar te soen nie, maar op hierdie oomblik is dit asof iets wat sy nie ’n naam kan gee nie van haar besit geneem het en sy smag na sy aanraking.

Eerder as haar mond soek, sak sy kop verder en toe sy lippe haar nek vind, voel sy hoe haar pols onder sy aanraking spring en sy sluit haar oë. Sy tong raak klam en warm teen haar vel en sy snak na asem. Haar kop val willoos agteroor en sy soete liefkosing skuif stadig teen haar ken op. Wat makeer haar? En watse magiese krag het hierdie man oor haar om haar so te laat reageer?

“So sag,” fluister hy teen haar oor en sy asem jaag haar haartjies orent.

Sy wil nog praat, maar sy mond neem hare in besit en die wêreld om haar spat aan duisende skerwe. Haar hand kruip teen sy bors op en sy voel sy hart teen die gevangenis van sy ribbes skop. ’n Onbekende opwinding bruis deur haar dat sy ’n man so kan laat optree en haar hand vou om sy hemp om hom nog nader te trek.

Hy leun nader en sy hand skuif teen haar lyf op om teen haar ribbes tot stilstand te kom. Toe sy duim sag deur haar sybloes die onderkant van haar bors streel, snak sy na asem en hy verdiep die soen.

Haar arms skuif om sy nek en sy druk haar teen sy lyf vas. ’n Kreun ontsnap haar lippe wat deur sy mond opgevang word en sy spiraal verder uit beheer.

Iewers maak iemand keel skoon, maar dit registreer nie heeltemal by haar nie. Dit kom weer, hierdie keer harder en meer dringend.

Die werklikheid is soos ’n bak yswater wat oor haar gegooi word en sy breek los uit die omhelsing. Haar verstand weier tog nog om wakker te skrik, en die man voor haar is ook duidelik nog nie bereid om haar te laat gaan nie. Sy loer oor sy skouer, voel dan hoe die bloed haar gesig verlaat en sy trek haar asem skerp in terwyl sy hom hard wegstoot.

“Anita?”

“Ma,” kry sy skaars hoorbaar uit.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>