’n Geur vir elke vrou – Ida Bester

Renier Pelser neem een sluk van sy koffie en kyk haar deurdringend aan. “Jy weet seker wie Jean-Luc Celliers is.”

Theana laat sak die koppie wat sy halfpad na haar mond toe gelig het weer op die piering en knik bevestigend. Hoe sal sy nie weet wie Jean-Luc Celliers is nie? Hy is maar net die mees besproke en opgehemelde “neus” in die besigheid. Aankoper van skoonheidsmiddels vir Pelser se grootste kompetisie, Billafords. Maar meer nog, ontwerper van sy eie parfuum, L’homme métro.

En die doring in haar sy.

Haar keel trek toe en haar mond voel droog. Sy neem haastig ’n sluk van die koffie, te haastig om die ronde, sjokoladeagtige geur te waardeer.

“Juffrou Maree, ek dink jy is die ideale persoon om hom vir ons te jag.”

So byna verstik sy aan die mond vol koffie maar kry dit gelukkig sonder ongeval afgesluk. Sy bestudeer Pelser se gesig om te probeer agterkom of dit sy idee van ’n grap is maar die uitdrukking op sy gesig is die een wat hy opsit wanneer hy besigheid praat: doodernstig.

“Vir ons te jag?” speel sy vir tyd terwyl sy baie goed verstaan wat die uitdrukking beteken. Pelser
gebruik sy eie verafrikaansing van die Amerikaanse nuutskepping, to head hunt, wat nie beteken dat ’n mens soos die Indiaanse koppesnellers iemand agtervolg tot jy sy kop kan afkap nie, maar om, meer figuurlik, iemand in die sakewêreld so te sê te “roof”. Jy doen jou bes om hom of haar te oortuig om die betrekking waarin hy naam gemaak het te verruil vir een by jou eie maatskappy, vanselfsprekend teen ’n prys.

Haar koffie smaak skielik te sterk vir die halfteelepel suiker maar die gedienstige sekretaresse wat die skinkbord ingebring het, het dit op ’n koffietafel ’n ent van Pelser se lessenaar af neergesit. Theana staan op.

“Verskoon my, asseblief, meneer Pelser. Ek kry net vir my nog suiker,” probeer sy nog tyd wen. Sy moet diep delwe om haar baas van die afgelope ses jaar se ontstellende opdrag te probeer verwerk.

Sy krimp inmekaar by die gedagte dat haar baas Jean-Luc so graag as werknemer wil hê. Wil Pelser hom dalk aanstel as hoof van die skoonheids- en parfuumafdeling van die luukse winkel wat hy binnekort in Pretoria se opspraakwekkende Mall at the Square gaan open?

Sy het self haar oog op daardie pos. Sy het immers Pelser se afdelingswinkels bekend gemaak deur die parfuumaanbod mettertyd te vergroot tot die beste in die land. Die hoofskap van die nuwe toonbank kom haar toe.

Die feit dat Pelser moontlik oor haar kop sal gaan met die aanstelling, is soos ’n dolk deur haar hart. Maar wat nog seerder maak, is dat sy en die man wat sy moet gaan werf oor ’n baie fundamentele aspek van parfumerie hemelsbreed verskil: Hy gebruik diereprodukte soos muskus en sivetolie, ’n vergryp wat sy as dierebeskermer hom nooit sal vergewe nie.

Terwyl sy gaan sit en haar aandag toespits op die lepel waarmee sy haar koffie roer, voel sy Pelser se kyk letterlik op haar brand.

“Theana, het jy ’n probleem met die man?”

Haar uiters formele baas se gebruik van haar voornaam laat haar geskok opkyk.

“Ek het gedink jy sal bly wees om so ’n uitgelese kollega by te kry.”

Sy voel paniekerig. Sy moet eers meer uitvind omtrent haar opdrag en die presiese aard van dié Billafords-man se werk indien hy by hulle aankoopspan sou aansluit.

Boonop ken sy haar baas nie so goed dat sy sommer uit die staanspoor te kenne wil gee dat sy persoonlike probleme met sy keuse van ’n werknemer het nie. “Wat het Meneer in gedagte? Saam met my assistent, mejuffrou Luganau, het die aankope en navorsing nog nooit vir my te veel geraak nie.”

“Heeltemal tereg, juffrou Maree, die idee is glad nie dat sy werk joune moet oorvleuel nie. Soos jy seker weet, is sy pa Chanel se verteenwoordiger in Suid- Afrika en word Jean-Luc opgelei om in sy voetspore te volg. Met so ’n man in ons span kan daar nog vele deure na Europa toe vir ons oopgaan.”

Theana sak op haar stoel terug. Dan is daar nog nie sprake van die pos by die elite-inkoopsentrum wat bedoel is om ryk mense (en hulle kapitaal) na die Pretoriase middestad terug te lok nie. Dalk staan sy tog nog ’n kans as die edele heer Jean-Luc meer vir buitelandse skakeling gebruik gaan word as vir direkte betrokkenheid by die daaglikse bestuur van die skoonheidsafdelings.

Nou proe sy wel die fyn, vol geur van die koffie wat ook ’n bietjie na makadamia ruik. Dit herinner haar aan een van die pakke vol ingevoerde koffiebone wat sy met haar goed ontwikkelde reuksin by ’n baristakompetisie gewen het deur elke bestanddeel se oorsprong korrek te identifiseer.

Maar die koffieproe is sommer ’n stokperdjie; die uitken van geure en aromas in skoonheidsmiddels, reukwater en parfuum is haar sterk punt. En geen parfuummaker, nie eens ’n ekspert soos Jean-Luc, sal ’n diereproduk by haar neus verbysmokkel nie.

“Juffrou Maree, jy het nog nie my vraag beantwoord nie. Het jy en Jean-Luc ’n ‘geskiedenis’? Waarom tel ek ietwat van ’n antagonisme by jou op wanneer sy naam genoem word?”

Kommentaar (1)

  1. AntwoordMadeleine
    Klink goed...sal graag die hele boek wil lees!

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>