November 2018-boeke … want jy verdien ’n blaaskans!

My groot liefde – Elsa Winckler

Katryn is tevrede met haar lewe, totdat sy eendag opkyk en ’n groot blonde man met Chris Pine-blou oë in haar deli sien stap. Vir die eerste keer in jare spring haar hart regop met ’n en-wat-het-ons-hier?

Liefde vir ’n cowboy – Didi Potgieter

Ami is New York se gunstelingstouterd, Brad is die goue seun van Country-musiek. Hul Las Vegas-troue is ’n skandaal, maar hulle moet voorgee om verlief te wees om hul families te beskerm. Maar Ami beleef by Brad iets wat sy gedink het nie meer bestaan nie – liefde sonder voorbehoud.

Leisels na liefde Cecilia Steyn

Olivia is ’n Jordaan en Markus is ’n Verhoef. Die vete tussen hul families laat die Montagues en Capulets soos vriende lyk. Maar wanneer hy haar sien, struikel sy hart en ruk iets soos liefde in sy binneste.

Liefde binne die wet – Magda Schmidt

Ingrid is sedert hul eerste ontmoeting op ’n agtervoet met Martin Steyn. Maar hy is haar dosent en sy mag hom nie aantreklik vind nie. As die glinstering in sy oë net nie deur haar verdediging breek nie.

Vir ewig, my altyd–  Elsa Winckler 

Liefde … uit die laaste oord waar jy dit vandaan wil hê

Lien Morkel trap ’n slegte stel af met ’n baas in die hospitaal waar sy werksaam is. Sy gaan help uit op Haïti vir Dokters Sonder Grense en by haar terugkoms trek sy Kaap toe waar sy by ’n mediese praktyk in Melkbos aansluit. Om in Nicol le Roux, haar nuwe skoonsuster se broer vas te loop, is ’n skok – hy was een van die redes hoekom sy weg is uit Johannesburg.

Nicol le Roux verhuis Kaap toe waar hy mede-direkteur word van ’n fondsbestuurmaatskappy. Die laaste mens wat hy verwag om in die Kaap raak te loop, is Lien, sy nuwe swaer se suster. Sy is een van daardie ‘moderne’ vroue wat alles self wil doen en geen hulp van ’n man wil hê nie.

Maar nou is al twee in die Kaap en beide van hulle kom agter soms het jy tog hulp nodig, al is dit uit die laaste oord waar jy dit vandaan wil hê.

 

Soos ’n diep waterkuil – Peet Venter

Twee slagoffers, twee moordenaars en kinders wat met reëlmaat verdwyn. Speur-adjudant Jaap (Boel) Helberg ondersoek die saak. Een slagoffer is ’n invloedryke sakeman se vrou. Hy is ’n man met ’n diaboliese stokperdjie: veghonde. Die ander moordenaar hou van raaiselspeletjies. Hy bel Helberg met die slagoffer se selfoon, vertel hom waar hy haar lyk kan kry en stuur vir hom ’n video van hoe sy vermoor word.

Daar is ’n reël; net hy mag by die ondersoek betrokke wees, anders … En sy is die derde slagoffer. Die ander twee is in ’n verlate, skemer plek, in donker water wat nooit son sien nie, by ’n groot swart kruis wat met son kom en gaan.

Helberg is geskok toe hy uitvind wat die ryk sakeman se stokperdjie is en wie sy vrou vermoor het. In die makabere klimaks waarop dit uitloop skiet die moordenaar hom. Helberg herwin sy bewussyn in die hospitaal en hoor dat sy vrou vermis word.

Toe hy genoegsaam herstel het, soek hy na sy vrou. Hy kry haar in die plek waar die lyke van die twee vroue in die donker waterkuil is. Sy leef nog. Haar ontvoerder is die moordenaar van drie vroue; iemand wat Helberg nooit sou verdink nie.

Dag drie – Jeanette Stals

Dwelms: ’n kanker wat die samelewing verwoes

Luna Joubert se moed en vernuf word weer tot die uiterste beproef in Dag drie. Sy en haar medespeurder, Johan, vergesel vir Mike, ’n volbloed diepdekkingsagent, op ’n missie na Mauritius waar Mike met ’n informant kontak sal maak.

Luna en Johan moet die skyn van gewone vakansiegangers vir hom help bewaar, maar niks loop volgens plan nie. Hulle eerste dag op die eiland lewer die lyk van ’n jong meisie op wat ooglopend vermoor is. Die informant laat nie van hom hoor nie en hulle word uit die bloute deur wildvreemde mense ‘bevriend’. Rooi ligte flikker toe hulle genooi word vir ’n visvang-uitstappie op ’n luuksejag.

Luna het nie ’n goeie gevoel oor die eienaar van die boot nie, want hy is net ’n bietjie té gretig om hulle van naderby te leer ken. Nie alleen beland sy en haar twee kollegas in lewensgevaar nie; toe Johan verdwyn waag sy dit ook op baie dun ys om hom te probeer opspoor en dag drie eindig onvermydelik in ’n breekspul.

Beskikbaar by www.lapa.co.za 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>