Vir ewig my altyd – Elsa Winckler

Lien leun uitasem oor die wasbak voor sy opkyk in die spieël. Kyk hoe lyk sy! Rooi wange, blink oë en dit net omdat sy vir Nicol le Roux gesien het. Hy is veronderstel om in Johannesburg te wees, kilometers van waar sy is – dis hoe sy dit verkies.

Want wanneer sy naby aan hom is, vang sy die simpelste goed aan. Soos die eerste keer wat sy hom gesien het. Haar vriendin Kris het in haar broer Nicol se huis gaan bly terwyl sy in die Kaap moes werk. Lien het Kris gaan verras, maar in plaas van om net vir Kris daar te kry was Nicol ook daar, een van Kris se broers.

Die man met die diepblou oë. Wat haar besiel het, sal sy seker nooit weet nie, maar toe Kris hulle aan mekaar voorstel, het sy wat Lien is sommer haar arms om sy nek gegooi. Sy lyf was warm. En gespierd. Sy het baie lank daarna gesukkel om weer normaal asem te haal.

Sy draai vinnig die koue kraan oop en druk haar hande onder die water. Paula sal wonder wat van haar geword het.

Oukei, sy kan nou weer uitstap, haar wange gloei darem al minder. Sy maak die deur oop en ’n breë, gespierde borskas is skielik voor haar. Voor sy nog opkyk, weet sy. Dis Nicol. Geen ander man ruik soos hy nie. Geen ander man laat haar hart so te kere gaan soos hy nie.

“Nicol.” Hopelik klink sy koel en saaklik.

Hy trek haar ’n entjie van die deur af weg. Sy een hand beland op haar kaal skouer. “Lien. Ek het nie verwag om jou hier te sien nie.”

Sy duim gly rusteloos oor haar vel. Hy het iets gesê. Wat? Was dit ’n vraag? Verwag hy ’n antwoord? Want haar tong is meteens heeltemal te groot in haar mond, sy dink nie sy kan praat nie.

Om hulle gesels mense vrolik, hier en daar klink ’n harde lag op, maar dis asof sy en Nicol alleen in ’n seepbal staan.

“Ek dink aan jou,” sê hy en klink half verontwaar-

dig.

Verbaas kyk sy op. “Hoekom?”

“Wens ek het geweet,” prewel hy en sy oë sak af na waar sy duim nog steeds oor haar kaal skouer gly.

“Fluweel. Jou vel is soos fluweel.”

Oral waar sy duim gly, steek hy vuurtjies reg onder haar vel aan die brand. Om hulle raak die lug swaar. Lien probeer asemhaal, maar dis asof geen suurstof by haar longe uitkom nie.

“Nicol,” kry sy uiteindelik uit.

Agter hom lag iemand, hy word nader aan haar gedruk deur die mense agter hom. Sy arms vou om haar en sy beland teen sy lyf. Styf teen sy lyf. Hy is . . . Haar wange word vuurwarm en sy kyk vinnig op.

In die halflig van die kuierplek is sy oë donker, vol . . . begeerte? Maar dit kan nie wees nie, hulle het nog nooit meer as ’n paar woorde met mekaar gepraat nie.

“Dis wat gebeur. Elke keer wanneer ek naby jou is,”sê hy, sy lippe teen haar oor. “Of wanneer ek net aan jou dink.”

En vir een heerlike sekonde kan sy sweer sy lippe gly oor haar wang. Voor sy haar asem terugkry, het hy omgedraai en tussen die mense verdwyn.

Lien kam haar hare met rukkerige vingers agteroor. As hy nog een minuut langer voor haar gestaan het, het sy sowaar iets heeltemal onbesonne aangevang.

Soos om op te spring en haar bene om hom te slaan sodat sy nog nader aan hom kan wees.

Wat het hy gesê? Sy lyf reageer elke keer wanneer sy naby hom is, selfs wanneer hy net aan haar dink? Die man praat nooit nie, sy het hom maande laas gesien en dís die eerste woorde oor sy lippe? Wat is sy veronderstel om te dink?

Amper paniekerig beur sy ’n pad deur die mense oop tot by Paula. Nicol is in Johannesburg, sy is in die Kaap. Sy gaan hom nie weer sien nie. Sy herhaal die mantra tot by die tafel waar Paula vir haar sit en wag.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>