Bewustelik joune – Elsa Winckler

Haar hart sug. Dis juis een van die redes waarom sy nie oor haar aanval praat nie. Sy het haar ouers se gesigte gesien nadat sy hulle daarvan vertel het. Hulle was ook getraumatiseer. Sy sal Luca haar sad storie spaar. Sandra s’n was erg genoeg vir hom, hy leef nog elke dag daarmee saam, sy gaan hom beslis nie toegooi met haar ellende ook nie.

“Jy was so jonk, dis te verstane,” kry sy uit.

“Ek het probeer om haar te help. Op my aandrang het ek saamgegaan wanneer sy berading kry en ek het ure lank geluister na elke grafiese, hartverskeurende detail. Maar sy was net so verwond, geen berading het ’n verskil gemaak aan hoe sy haarself gesien het nie. Ná twee jaar was ek uitmekaargeruk en moedeloos en het ek uiteindelik besef niks wat ek doen of nie doen nie, kan haar help nie. En ek was die hele tyd bekommerd oor haar. Sy het dikwels oor selfdood gepraat en sou net daarna verdwyn. En dan het ek na haar begin soek. Soms dae lank. Dit het lank geneem voor ek besef het dit was háár seer, haar stryd, ek kon haar nie help nie en sy kon maar net nie ’n manier vind om aan te beweeg met haar lewe nie.”

“Het jy in daardie tyd met iemand oor haar gepraat?”

“My ma het ’n paar keer met my probeer praat, sy het agtergekom Sandra het probleme, maar ek wou nie vir hulle detail vertel nie. Ek het bly hoop sy sal ’n manier kry om daarmee saam te leef sodat ons net kan aangaan. Ek het eers baie later besef daar is nie ’n manier dat iemand met my agtergrond kan verstaan waardeur sy is nie. Haar seer was ’n diep seer en sy het net eenvoudig nie die gereedskap gehad om dit te hanteer nie. Miskien, as sy langer geleef het, maar ek weet nie.”

“Hoe is sy dood?”

“Motorongeluk, sê hulle. My motor.” Hy skud sy kop. “Ek het soms my motor by haar gelos om seker te maak sy het nie ’n verskoning om nie na die sielkundige toe te gaan nie. Daardie dag was sy was half histeries oor die foon. Haar pa het haar gebel. Kom ons sê maar net hy was die hoofoorsaak van al haar probleme. Ek was besig om te swot vir ’n toets die aand en ek kon eers ná die tyd by haar ’n draai maak.” Sy oë is leeg en hy kyk verby haar. “Sy het in die motor gespring en weggery. Hulle het my kar in Jonkershoek gekry, om ’n boom gevou. Die enigste troos was dat sy heel waarskynlik op slag dood is.”

Dis lank stil in die kombuis. Kris weet nie wat om te sê nie. Haar instink is om haar arms om Luca te slaan. Dis duidelik die hele episode het hom baie ontstel. Sy kan nou baie goed verstaan hoekom hy niks met vrouens te doen wil hê wat issues het nie.

Sy leun vorentoe en vou haar hand oor syne. “Dis heel moontlik dat dit wel ’n ongeluk was. Miskien het sy net te vinnig gery.”

“Dis moontlik, ja. Maar ek onthou hoe histeries sy was en ek sal seker altyd wonder of sy nie doelbewus in die boom vasgery het nie. En natuurlik, as my motor nie daar was nie, sou sy nie in daardie toestand kon ry nie.”

“Jy kan nie jouself blameer nie.”

“Ek weet dit hier,” sê hy en tik teen sy kop. “Lien bly ook vir my sê dit was nie my skuld nie.”

Kris probeer glimlag en staan op. “Ek kan nou baie goed verstaan hoekom jy niks met vroumense te doen wil hê wat issues het nie. Ek moet gaan slaap. Anders is ek môre soos ’n zombie by die kursus.”

Luca het ook opgestaan. “Ek is bly ek het jou vertel. As jy ooit voel jy wil jou lang storie deel, ek luister graag. Ek het gehoor toe jy oor die foon sê jy is aangeval?”

Diep in haar ruk ’n snik los. Hy was getraumatiseer toe hy Sandra se storie gehoor het. Sy kan nie dieselfde ding aan hom doen nie.

“Miskien anderdag, maar nou gaan ek slaap.”

Hy gryp haar hand toe sy verby hom stap en wag totdat sy opkyk na hom.

“Dankie dat jy geluister het.” Hy lig haar hand en soen haar vingers.

“Luca …”

“Net een soen,” prewel hy en laat sak sy kop. “En net vir jou inligting, die sweetpak help nie. Ek onthou elke sexy lyn van jou lyf.”

Voor sy kan antwoord, gryp sy mond hare vas in ’n versengende soen. Toe hy uiteindelik sy kop lig, is sy oë weer vol lewe, vol passie. O vrek, hier moet sy wegkom voor sy iets heeltemal onbesonne aanvang.

Sy duik onder sy arm deur. “Nag, Luca.”

“As jy kans sien, sal nog ’n massering môre nice wees!” roep hy agter haar aan. “Ons vertrek oor twee weke Amerika toe, die massering is nou belangrik.”

Sy stap nog vinniger. Dis van masseer dat hulle in mekaar sy arms beland het. Nie iets wat weer kan gebeur nie. Want in Luca se arms kan sy van alles vergeet en dis net ’n illusie. Maar wat met haar gebeur het, sal vir altyd ’n impak op haar lewe hê, soos Simon so harteloos aan haar uitgewys het. Sy is spoiled goods, haar gesig geskend.

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>