Ek het my kinderjare op ‘n mielieplaas in die destydse Wes-Transvaal deurgebring. Daar, aan die oewer van die Taaibosspruit, in die afsondering van populiere en wilgers, het ek ‘n rustige skuilplek vir bepeinsing gevind en die karakters waaroor ek deesdae skryf, ontmoet. Hulle het hulle in die laatmiddagplaasgeluide aangemeld – in die geklingel van melkemmers, implimente wat gebêre word, die roep van tarentale wat vir die nag gereedmaak. Karakters wat my steeds dring, ná die grootmaak van ses kinders en ‘n lang reis deur verskillende studies – musiek, onderwys, argitektuur en van alle dinge ook publieke administrasie – om hulle uit my lyf geskryf te kry.
Ek en my gesin woon tans in Pretoria, met drie kinders nog in die huis. Hier is nie wilgers en populiere in my agterplaas nie, maar hier’s ‘n reuse kanferboom met ‘n breë sambreelkroon. En hier’s ‘n skootrekenaar.
ALDA se boeke:
- Bloubaardman
- Somme van die hart
- Brug van harte
- Vlerke vir Jakomien
- Droomvanger
- Sonder afspraak
Kommentaar (7)