Prys van Liefde
Baie selfbewus sluit sy die deur oop. Sy kan voel hoe hy haar bewegings dophou. Verleë draai sy na hom. Nou vir die moeilike deel. Sy skraap al haar moed bymekaar en haal diep asem.

“Ek moet jou seker nou betaal? Van elfuur tot drie uur is vier ure teen … hoeveel nou weer?”

Hy is ʼn oomblik stil terwyl hy baie stip na haar kyk. Stadig begin alle asem uit haar vloei. Sy blik suig haar in en sy is seker sy kan in sy blou poele swem.

“Ek kan nie dat jy vir die koffie betaal nie. Dit was mos my idee, reg?”

Anri weet nie of sy gemaklik is hiermee nie. Sy het hom tog gehuur, sy moet hom betaal. Sy weet nie hoe mense in sy beroep se koppe werk nie. Ook nie hoe hulle dinge doen nie. Sy wil net nie hê dat hy idees moet kry dat sy ook dingetjies verniet gaan doen nie.

“Jammer Jake. Dit mag dalk jou idee gewees het, maar ek het jou vir die aand gehuur.” Sy vroetel in die klein sakkie wat as beursie vir die aand gedien het en haal ʼn klomp note te voorskyn.

“Kom ek maak ʼn voorstel.” Jake druk haar hand met die note saggies terug. “Kom eet saam met my een aand, asseblief? Ek het werklik jou geselskap geniet vanaand, dan skuld jy my niks.”

Anri staar hom aan. Nog nooit as te nimmer sal sy saam met hom gaan nie. Sy kan nie! Sy ken hom net vier ure lank en hy is ʼn metgesel van beroep. ʼn Beroep wat geensins haar goedkeuring wegdra nie, al het hy dalk goeie redes. Hy is heeltemal gek om te dink dat sy dit enigsins sou oorweeg. Al is hy hoe deksels aantreklik. Hy moet maar met die kontant tevrede wees. Dis presies hoekom sy nie gemaklik voel dat hy vir die koffie wil betaal nie.

“Goed, dit klink lekker. Gee my jou nommer en ek skakel jou om te bevestig.” Dis nie die woorde wat sy wou sê nie! Sy sien hoe die vreemde Anri telefoonnommers uitruil. Hy sit sy hand teen haar wang, kyk diep in haar oë sodat sy ʼn tweede skakering van blou kan onderskei.

“Nag, mooie Anri.” is al wat hy fluister voor hy haar sag op haar mond soen, omdraai en wegstap.

Anri maak die deur agter haar toe met bewende hande. Sy staan met haar rug teen die deur. Saggies raak sy met haar vingers aan haar lippe waar syne ʼn oomblik gelede nog vlindersag aan hare geraak het. Wat het haar besiel? Net môre bel sy hom en sê sy het dit nie bedoel nie. Sy kan onmoontlik nie saam met hom gaan nie.

 

Kommentaar (6)

  1. AntwoordBets Smith
    Dit klink na 'n alte interessante tema! Ek hoop die man is afgryslik mooi gebou ook, as hy metgesel van beroep is! Stuur dan tog 'n foto van hom, jong! Geluk met nog 'n boek op die rak!
    • AntwoordArien Lubbe
      Dankie Bets. Wat is 'n Romanza nou sonder 'n griekse god? 'n Foto? Daar is geen foto soos die verbeelding nie.
  2. AntwoordJohanna
    Liewe Niggie - baie geluk met die "nuweling"! Ek is eindeloos trots op jou. Ek hoop van harte die metgesel het goeie beginsels! Liefde, Tante Johanna
    • AntwoordArien Lubbe
      Dankie tannie. Getrou aan Romanza, is daar darem 'n kinkel in die kabel wat probleme oplos. Ek mis tannie vreeslik en hoop ons kry mekaar spoedig te sien.
  3. AntwoordMagdaleen Walters
    Arientjie, kan jy nou mooi vir ons verduidelik hoe jy jou navorsing gedoen het vir hierdie beroep? Ek bedoel, mens moet tog weet waarvan jy praat as jy wil stories maak, of hoe?
    • AntwoordArien Lubbe
      Ai Magdaleen, dis juis omdat ek nie geweet het nie dat ek moes oorskryf! Gelukkig het die geel bladsye sulke mooi advertensies wat ek kon bel vir raad. Natuurlik in daglig ure.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>