Ernalize du Toit, die skrywer agter die wenboek!

Wat dra jy altyd in jou handsak?  

Ek het ’n Mary Poppins-handsak, maar daar is gewoonlik parfuum, lipglans en ’n pen in my sak.

 

Watter vier items voel jy maak die lewe vir jou lekkerder?

Chris, my man (as ek hom as ’n item mag beskou), boeke, middagslapies en teaterstukke.

 

Op watter ouderdom wil jy permanent bly?

Ek geniet elke fase van die lewe en is nog jonk genoeg, so ek sou nie een ouderdom wou bly nie. Dit sou vir my sleg wees as ek soos die Cullens (in Stephanie Meyer se boeke) moet sien hoe al my vriende en geliefdes ouer word en ek word nie saam met hulle ouer nie.

 

Wie is jou drie gunstelingskrywers?         

Romanse: Sophia Kapp, Elsa Winckler en Didi Potgieter.

Algemeen: Deon Meyer, Jan Vermeulen en Jaco Jacobs.

 

Baie geluk met Gelykbreek-liefde wat as die wenner van die ATKV Lenteskool-novellekompetisie aangewys is. Hierdie is jou eerste RomanzaLiefde-novelle, wat was die moeilikste aspek vir die skryf van hierdie boek, en hoekom?

Die moeilikste deel was om die karakters toe te laat om te wees wie hulle is. Ek moes besef die karakters moenie soos ek praat en optree nie. Ek dink ook dit is ’n uitdaging om die spanning en opwinding deur die hele novelle te behou.

 

Wat was jou reaksie toe jy hoor jou verhaal is die wenner?

Ek het vir geen oomblik gedink ek staan ’n kans nie, maar iets in jou hou tog aan hoop. Ek het eers nie my eie naam herken nie! Daarna het ek ’n ligte bewerasie gekry en toe my man gebel. Dit het lank geneem om in te sink.

 

Jy het die ATKV Lenteskool bygewoon. Wat het jy die meeste geniet?  

Dit was ’n enorme voorreg en ek het elke aspek geniet. Die kontak met die ervare skrywers en almal wat by die Lenteskool betrokke was, was ongelooflik. Dit is byna ondenkbaar om mense te ontmoet wat van jou gunstelingboeke geskryf het. Dit was ook lekker om opkomende skrywers te ontmoet en ’n ondersteuningsnetwerk op te bou.

 

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

As ek gulsig kon wees, sou ek drie skrywers, drie akteurs, drie kosmakers, drie sporthelde en drie familielede nooi. Ek is nie fanaties oor die Britse koninklikes nie, maar ek sal nie weier as prins William of Harry by my wou kom eet nie. As ek moet kies: Tinarie Van Wyk-Loots, Nataniël en Deon Meyer.

 

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Ek het in 2015 ’n ATKV-geleentheid bygewoon waar daar skryfwenke met voornemende skrywers gedeel is. Prof. Hans du Plessis het by daardie geleentheid gesê ons moet ophou om vir almal te vertel wat ons gaan skryf en wat ons wil skryf en net gaan sit en skryf. Ek het vir jare gepraat oor hoe ek wil skryf en was elke jaar teleurgesteld dat ek nog nie begin het nie. Ek het besef die lewe gaan altyd bedrywig wees, iewers moet ek net gaan sit en skryf. Ek leer by elke skrywer wat ek ontmoet iets.

 

Watter boeke kan jy herhaaldelik lees?

Daar is baie, ek lees amper elke goeie boek om my boekrak weer. Boeke wat ek gereeld herlees is Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva (Sophia Kapp), Met ander woorde en Vier seisoene kind (Wilna Adriaanse), die Geur- en Seisoen-reeks (Alta Cloete) en die Liefde vir-reeks (Die beminde Parkers, Didi Potgieter).

 

As jy vir ’n dag as ’n ander karakter kan leef, watter karakter sal dit wees? En hoekom?

Ek sou graag Kobie Malan in die Maasdorp-boeke wou wees. Kobie is baie meer waaghalsig as ek, maar sy is uiters talentvol, musikaal en altyd gereed vir pret en avontuur.

 

Waarom skryf jy romanses? Is dit een van jou gunstelinggenre?

Dit is beslis my gunstelinggenre. Ek lees ook graag misdaad en rillers, maar as ek wil ontspan, is dit ’n liefdesverhaal. Ek is ’n romantikus en glo absoluut in die liefde. ’n Mens hoor soms die mooiste liefdesverhale selfs van mense wat al bejaard is.

 

Watter boek/e is op die oomblik op jou bedkassie?

Daar is ’n groot stapel, maar tans is dit Kantelpunt (Sophia Kapp), Prooi (Deon Meyer) en Die vyfde Aspoester (Jan Vermeulen).

 

Watter boek sal jy vir die eerste keer weer wil lees?

Ek dink ek het my gunstelingboeke minstens al almal gedeeltelik herlees, maar ek sal ’n slag weer een van my gunstelingromans, Die swye van Mario Salviati, wil herlees.

 

In jou volgende lewe sal jy graag ’n … wil wees?

’n Skrywer (ha-ha), anders sal ek graag ’n draaiboekskrywer of akteur wil wees.

 

Gelykbreek-liefde is hier beskikbaar:

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>