Romanza

ALMAL vang GRAAD! – Zhan-Mishal

Ja, hier by LAPA werk ons dat die rook party dae behoorlik by ons ore uitrek, maar het julle geweet baie van ons vang nog graad of altans grade tussenin ook? Ja, in my tyd by LAPA het my kollegas al groot akademiese hoogtes bereik.

Nandia Brand werk as rekenmeester in ons finansies department en sy het in Maart haar BCompt Finansiële Rekeningkunde graad voltooi.

Marida Fitzpatrick, ons Senior Niefiksie uitgewer het in Mei haar MA in Kreatiewe Skryfkuns voltooi en met lof geslaag.  Sy het ook ʼn brief ontvang wat haar gelukwens daarmee dat sy die Gerhard Beukes-prys gaan ontvang vir die student wat die beste skeppende skryfwerk in Afrikaans gelewer het. WOW Marida!

Mia Oosthuizen, ons Senior Kinder- en Jeug-boek uitgewer het ook haar DLit et Phil (DOCTOR LITERATUM et PHILSOPHIAE) met onderwerp: ’n Ondersoek na die parateks (Gérard Genette) as ’n narratiewe strategie in geselekteerde Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur in April  voltooi.

Wel gedaan kollegas!

Dit is met trots dat ek skouer teen skouer met my kollegas hierdie trots kon deel toe ek in Mei ook my BIS Uitgewerswese graad voltooi het en ’n spog gradeplegtigheid kon bywoon. Ek het heeldag breed geglimlag en kon nie vir ’n oomblik ophou trots wees op al die harde werk wat my na hierdie punt gelei het.

Dit was baie swoeg en sweet, soms ’n paar trane, 3 beste vriende later en nou uiteindelik ook ’n graad.

Tussen al die gelukwensings deur het een of twee mense my wel gevra hoekom ek eerder gekies het om my loopbaan af te skop eerder as om verder te studeer. Dit het my vir ’n week of twee laat wonder of ek wel die regte keuse gemaak het om dadelik in ’n professionele beroep in te stap en of ek later in my lewe wel die sprong terug na die akademie toe sal kan maak.

Met die gedagtes is ek fronsend na my slim tandarts toe vir my jaarlikse ondersoek en sy woorde daardie dag sal my altyd by bly. Hy het aan my verduidelik dat dit juis ’n loopbaan eerder as ’n resiesbaan genoem word en dat ek moet weet die lewe is lank en lê nog oop voor my. Ek kan alles bereik waaroor ek droom, met tyd is elke doelwit haalbaar.

Sal ek dan nou wragtig vergeet dat Rome nie in een dag gebou is nie, en dat die beste wyn jare neem om hulle volle potensiaal te bereik?

Ek los julle dus met die gedagte dat mens nooit moet voel jy sekere drome nie kan meer najaag net oor die lewe ander draaie met jou maak nie. Al my LAPA kollegas se sukses eggo die stelling net weer en dus lig ek vir ’n laaste keer ’n denkbeeldige glas sjampanje in trots op al die mylpale wat ons reeds bereik het en nog beplan.

Alles begin met ’n soen – Dina Botha

“Martiné, kan jy gou buite na iets kom kyk?”

Dis die eerste keer dat Stefan aan haar slaapkamerdeur klop en sy vind dit vreemd. Hy het ook net geklop, vinnig gepraat en toe begin wegloop.

“O, en bring jou Avis-motor se sleutels saam,” sê hy oor sy skouer.

“Wat gaan aan?” vra sy en volg hom die gang af. Hy lyk en klink so ernstig dat sy bekommerd raak. Hopelik het die kar niks oorgekom nie, want sy het al gehoor dat dit weke se moeilikheid kan veroorsaak.

Stefan loop deur die huis en by die voordeur uit sonder om haar ’n antwoord te gee. Buite en kort op sy hakke steek Martiné in haar spore vas. ’n Vinnige blik oor die groepie mense wat langs die vywer staan, verklap dat dit omtrent al die huiswerkers is. Toe maak hulle plek vir iets agter hulle en Martiné kyk teen ’n plat silwer motor vas. Dieselfde fabrikaat waarmee Amanda ry. Om die motor se kajuit is ’n groot rooi lint gebind.

Stefan loop nader en hou ’n sleutel na haar uit.

“Wie s’n is dit?” vra sy dom.

“Dis joune. Jou pa het gesê dat ek vir jou ’n motor moet koop. Jy kan nie vir altyd met ’n gehuurde kar rondry nie. Hier, neem jou sleutel.”

Voordat sy pertinent kan sê dat sy dit nie gaan aanvaar nie, word sy uit alle oorde gelukgewens. Die huiswerkers is namens haar so opgewonde dat sy die sleutel huiwerig neem toe Stefan dit weer na haar uithou. Steeds het sy geen intensies om dit te aanvaar nie.

“So ja, julle, terug werk toe! Juffrou Rénard wil seker ’n entjie met haar nuwe motor gaan ry,” jaag Maria die huiswerkers aan. Uiteindelik bly net Martiné en Stefan oor.

“Dit was nie jou pa se idee gewees nie, ek weet dit sommer.”

“Dit was wel. Ek het ’n paar aande gelede met hom gesels en ons het terloops oor jou planne vir ’n nuwe motor vir jou ma gepraat. Hy het gedink dit sal goed wees om eers self so ’n motor te ry voordat jy die spesifieke model vir haar aanskaf.”

Suspisie skiet deur haar. “Ek dag hy is te siek om te praat.”

“Hy is, ek doen meestal al die praatwerk. Ek vertel hom elke aand wat in die huis en in die maatskappy aangaan. Hy wil elke dag weet waaroor ek en jy gepraat het en wat presies jy gesê het. Soms moet ek woord vir woord herhaal waaroor ons twee gesels het. Veral die goed wat jy oor jou persoonlike lewe te vertel het.”

“Toe noem jy aan hom dat ek dink Amanda se motor is mooi?”

“Presies.”

“Jy het dit nie dalk laat klink of ek vir een geskimp het nie, want dan moet jy dit dadelik gaan regstel.”

Stefan vat Martiné aan die skouers. “Dis nie nodig om so op die verdediging te bly nie. Jou pa kan honderd sulke luuksemotors bekostig, en as hy vir jou een wil gee, laat hom begaan. Dit laat hom goed voel om te weet hy kon iets vir sy dogter doen. Hy het min genoeg kans in sy lewe gehad om jou te bederf.”

Haar inherente trots stoei erg met die opgewondenheid wat in haar nesgeskop het. Laasgenoemde wen. “Nou goed, ek gaan nie die motor aanvaar nie, maar ek gaan daarvan gebruik maak. Net tot ek hier weggaan.”

“Daaroor kan ons later besluit. Mag ek die eerste een wees wat saam met jou ry?”

Martiné glimlag terug. “Jy mag. Kom!”

Stefan haal die lint af en los dit by die voordeur. Sy skuif agter die stuur in en hy langs haar. Sy pas gemaklik in haar sitplek, maar hy met sy lang bene en breë skouers sit sy hele sitplek vol. Altans dis hoe dit vir haar lyk.

“Soos jy kan sien, is die motortjie net vir twee mense bedoel,” merk hy op toe hy sy veiligheidsgordel vasmaak.

“Nee, ek dink weer dis ideaal vir een. Jou sitplek is bedoel vir ’n meisie se handsak en inkopies, nie ’n passasier nie.”

Die hekke skuif oop en Martiné draai in die straat af. Stefan stel voor dat sy in die rigting van die snelweg ry, waar sy die motor se spoed en versnelling kan toets. Martiné voel soos ’n kind met ’n nuwe speelding en dis amper ’n uur later toe hulle weer voor die huis stilhou. Sy kyk laggend na Stefan en sê: “Hoe sê ’n mens dankie vir so ’n groot geskenk?” Toe hou sy vinnig haar hand op. “Maar ek …”

“Jy gaan dit nie aanvaar nie, ek weet,” val Stefan haar in die rede. “Maar jy kan my maar bedank. Ek sal dit aan jou pa oordra,” sê hy tergerig.

“O, ek … nou ja, baie dankie.” Martiné steek haar hand uit, maar besluit daarteen. Sy leun nader aan Stefan en wil hom ’n klapsoen op die wang gee. Hy draai egter sy gesig en haar soen land op sy mond. Haar oë rek verskrik groter, maar voordat sy kan wegtrek, is Stefan se hande op haar boarms. Hy trek haar nader en haar soen talm op sy warm lippe. Hulle oë ontmoet en voordat sy skeel begin kyk, sluit sy hare eerder. Stefan draai sy kop effens en die soen wat net eers ’n ligte aanraking was, verdiep in ’n ordentlike liefkosing. ’n Heerlike warmte spoel deur Martiné se lyf en vul elke hoekie en gaatjie van haar wese. Vaagweg is sy bewus van die feit dat sy hande op haar boarms van posisie verander het. Hulle het om haar lyf tot agter haar rug gekruip. En hulle is glad nie rustig nie. Oop dringende handpalms ondersoek die kurwes van haar rug en haar skouers net om agter haar nek bymekaar te kom en te verseker dat sy nie kan wegtrek nie. Nie dat sy dadelik sulke idees koester nie. Daar is iets heerlik soets aan sy liefkosing en sy wil dit nie stop nie.

Uiteindelik dring dit tot haar deur dat hulle soos twee tieners in ’n motor sit en soen. Enigeen kan deur die venster kyk en hulle sien. Wie weet wat die reaksie gaan wees as dit op die lappe moet kom?

Is jy ’n RomanzaKlublid? Spaar maandeliks tot 40% op jou Romanzas!

Sluit hier aan: https://www.lapa.co.za/Romanza/Romanza-klub

Die diva en die dokter – Trudy Reinhardt

Justin Fincham stap deur die smal lanings van Fort Chambray na sy villa toe hy ’n vrouestem buitengewoon hard hoor gil. Fronsend steek hy vas. Hy kan sweer dit kom uit die rigting van Bella Vista. Hoe is dit moontlik? Almal is dit eens dit is die spoggerigste villa binne die dik klipmure van die eeueou fort en skud hulle koppe in ongeloof oor die plek reeds maande lank leeg staan. Wie besit so ’n asemrowende plek en bewoon dit nie? Dit is twee jaar tevore deur ’n welaf Suid-Afrikaner gekoop wat elke moontlike luukse laat aanbring het, maar wat sedert die voltooiing daarvan net ’n enkele week hier op Gozo-eiland deurgebring het. Moontlik is die mense uiteindelik hier vir ’n tweede besoek, maar waarom sou die vrou dan so skreeu?

Dalk is Suid-Afrikaners van nature luidrugtig, besluit hy kopskuddend en wil net verder stap toe ’n volgende gil die vroegaandstilte versteur. Nee, dit klink beslis nie normaal nie. Iets is ongetwyfeld fout. Hy kan dit nie ignoreer nie. Verdomp, hy is moeg ná ’n dag van pasiënte, operasies en konsultasies, en het uitgesien na ’n stort en whiskey voor hy in sy bed kan klim.

Hy frons terwyl hy vinnig aanstap na wat hy vermoed die bron van die kabaal is. Namate hy naderkom, sien hy sy afleiding was reg. Hier is beslis mense, want elke lig in die drieverdiepingvilla is aangeskakel. By die hek steek hy onseker vas. Wat kan hy vir hulle sê? Hy het seker nie die reg om hulle tot stilte te maan nie. Net toe hy wil omdraai, gil die vrouestem nog ’n keer.

Sonder om ’n oomblik langer te huiwer stap Justin haastig na die dubbele glasdeur wat wawyd oopstaan. Verstom staar hy na die toneel voor hom. By ’n vleuelklavier sit ’n ouerige man, wat vaagweg bekend lyk, en langs hom staan die mooiste jong vrou wat Justin nog ooit gesien het. Haar lang rooibruin hare hang tot laag op haar rug en haar blik is stip op die pianis gerig.

“Beter?” lag sy. Spierwit tande. Bloedrooi vol lippe.

“Nee,” skud die klavierspeler sy kop en druk ’n enkele klawer wat skynbaar vir haar die een of ander teken is. Die meisie laat nie op haar wag om weer haar mond wawyd oop te maak en ’n volgende bloedstollende geluid oor haar lippe te laat ontsnap nie.

Ongetwyfeld weergalm dit tot onder in die hawe en kan waarskynlik ook tot in die stil straatjies van Ghanjsielem, ’n woonbuurt twee kilometer buite die fort gehoor word.

“Uitstekend, Danni! Nou het jy hom,” knik die man egter ingenome. “Kom ons doen nou die hele aria nog ’n keer.”

Genade! Kan dit moontlik as sang beskou word? wonder Justin en lig sy wenkbroue ongelowig. Die gillende sangeres is egter ooglopend in vervoering oor die kompliment en klap haar hande ingenome saam net voor sy die lang goedgeboude figuur in die ligkol op die patio gewaar. ’n Gil wat haar vorige pogings met minstens vyfhonderd desibels verbysteek, laat Justin se oortromme pynlik ineentrek.

Sy staar met pieringoë na hom terwyl sy dringend “Inbreker, inbreker,” na die klavierspeler prewel en angstig deur toe beduie.

“Goeienaand,” knik Justin en tree nader toe die man in sy rigting draai.

“A, dokter Fincham,” glimlag die pianis ná ’n kortstondige frons en kom orent toe hy die ongenooide besoeker herken.

“Maestro,” groet Justin toe hy terselfdertyd vir Victor Calleja, een van Malta se bekendste musiekafrigters, eien. Hy het hom weliswaar net een keer ontmoet toe die man ’n geringe probleem met ’n keelaandoening gehad het, maar noudat hy hom behoorlik van voor kan sien, onthou hy presies wie dit is. “Gaan dit goed?” verneem hy beleefd.

“Kan nie beter nie,” glimlag die musiekmeester. “Jy is ’n goeie dokter. My keel het nog nooit weer gepla nie. Verskoon my swak maniere,” voeg hy vinnig by en strek galant ’n arm uit na die beeldskone sangeres. “Laat ek julle voorstel. Dit is my nuutste protégé, Danielle Rothman, al die pad uit Suid-Afrika. Danni, dit is dokter Justin Fincham.”

“Jammer oor my reaksie. Aangename kennis.”

Bederf jouself nou met Die diva en die dokter deur Trudy Reinhardt: https://bit.ly/2KNrOEm

Ook beskikbaar as e-boek: https://bit.ly/2rO6map

Na hoër hoogtes – Marijke Greeff

Nick kyk op in haar groot, blou oë en die hartseer trek om haar mond laat sy hart ruk. Siestog. Die vriendin is seker baie mooier as sy, en nou is sy haar verloofde kwyt.

“Ek is jammer.” Dis nie dat sy lelik is nie, dink hy. Sy lyk net vaal en oninteressant.

Sasha kyk op. “Dit is nie nodig om te simpatiseer nie. Jy kan eerder sê ‘good riddance’,” herhaal sy sy woorde van flussies en hy lag. “Ek dink in elk geval my ego het meer skade gely as my hart, want behalwe dat ek kwaad is oor ek vir die gek gehou is, is ek eintlik baie verlig dat die verlowing verbreek is.”

Nick kry sy oë nie weggeskeur van haar gesig nie. Sy het geen grimering aan nie en haar vel is glad en vlekkeloos. Sy het ’n gesonde blos op haar wange, en haar oë, so blou soos die uitspansel bo hulle koppe, is omring deur digte, donker wimpers. Haar lippe is rosig en pleit vir ’n man se soene.

Hy kan homself nie help nie. Ten spyte van haar vormlose kleredrag en onvleiende bolla, is sy vir hom verfrissend anders. Hy is gewoond aan ’n vrou wat nooit haar voet by die deur uitgesit het voordat haar hare perfek is en sy haar hele gesig met grimering beplak het nie. Sasha met haar T-hemp en sweetpakbroek is so anders as die beeldskone, ydel vroue van wie hy genoeg gehad het om hom ’n leeftyd te hou.

“My gewese vrou is beeldskoon en het my voete onder my uitgeslaan. As ek ooit weer trou, en dis ’n baie groot as,” sê hy nadenkend, “sal ek met ’n onaantreklike, onbekende vrou trou. Die spreekwoordelike lelike eendjie. Sy sal hier op die plaas bly. Geen partytjie elke naweek en fênsie onthale in die stad nie. Ek sal haar kaalvoet en swanger hou. Voor die stoof.” Hy draai sy kop skeef en tuur vir ’n oomblik in die verte. “Ja, dit klink vir my na ’n volmaakte huwelik.”

Sasha se mond is skielik droog toe sy die prentjie in haar gedagtes sien: sy met ’n groot, ronde maag voor ’n outydse koolstoof. Sy sal hom by die deur inwag wanneer hy in die aand huis toe kom, en sy sal doodtevrede wees om hier op die plaas by hom te bly en hom met niemand te deel nie.

Nick sit die gereedskap terug op die bakkie en sy wip soos sy skrik toe hy skielik langs haar praat.

“’n Rand vir jou gedagtes?”

Sy voel hoe haar wange warm word. As hy maar net weet! “Jou idee van ’n volmaakte huwelik klink vir my maar bra chauvinisties.”

“Hoe oud is jy, Sasha?”

“Nege-en-twintig,” antwoord sy sonder om te dink.

Sy donker oë beweeg oor haar gesig. “Nege-en-twintig jaar oud en jy kan nog bloos soos ’n skooldogter. Ek dink jy is die agtste wonder van die wêreld.”

Bederf jouself met Marijke Greeff se Na hoër hoogtes: https://bit.ly/2HWkNTQ

Liefdesafari – René van Zyl

“Lois Lane, as ek dit nie mis het nie?” vra ’n diep stem agter haar. Sy sien in die spieël se refleksie dat dit Superman is en skrik haar boeglam.

“Wat?” vra sy uitasem en vlieg om. Sy voel soos ’n standerdsessie wat skielik met die rugbykaptein moet praat.

“Jy is verseker Lois Lane. Superman se meisie?” vra hy met ’n skewe glimlag wat haar hart nog vinniger aan die hardloop laat gaan. Dis ’n glimlag wat seker menige standerdsesse laat swymel het.

“Ek is?” vra sy en probeer haar bes om normaal te klink. “Ja, o ja, daardie joernalis. Wat op hom verlief was. Wat hy saam met hom. Laat vlieg het. Net so.” Hemel, maar sy kan nonsens praat. Ruk jouself reg, sussie.

“Net so. In die regte lewe is ek Gavin Michaels.”

“Nee, dis Clark Kent.” Sy bloos. “O, ek bedoel, o ja, jy bedoel dié regte lewe.” Aarde, sluk my in. “En ek is Francisca von Lelieveld.”

Hy glimlag met sy wye mond en frons tegelykertyd. “Francisca von Lelieveld. Dis ’n mond vol vir so ’n klein mensie. Jy lyk meer soos ’n Franci. Van die lelievelde. Ja, dit klink beter.”

’n Skinkbord met nog vonkelwyn kom verby. Hy vat twee glase en gee vir haar een.

Sy vat dit en drink ’n groot sluk. Die man verbouereer haar. Gee haar liewer syfers en vooruitskattings, nie so ’n aantreklike man vol geselsies nie. Het hy nie ’n meisie wat hom kan besig hou nie? Cat Woman of prinses Layla of iemand?

“My ma sal jou stenig. Ek het my ouma se name gekry: Francisca Jacoba.” Sy lag vir sy geskokte gesigsuitdrukking. “Ja, dis ek daai.” Sy het al geleer om te spot met haar tekortkominge, wat insluit ’n effens obsessief-kompulsiewe persoonlikheid wat dalk ook te doen het met die feit dat sy onder die perfeksionistiese Virgo-sterreteken gebore is. Aldus Marissa, wat almal se sterretekens aan hulle persoonlikheid koppel.

“Goeie Boerename met inbors,” glimlag hy. “En as Lois Lane nie vir Superman verlei nie, wat doen sy heeldag?”

Dis seker die vonkelwyn wat regdeur haar nugter maag na haar kop toe gegaan het, maar sy voel skielik lus om met die man te gesels asof hy regtig in haar belangstel. Asof sy regtig Lois Lane is. As haar simpel eksverloofde haar darem nou kan sien! Ja, sy kan ook spontaan wees.

“Wat dink jý doen ek heeldag?” vra sy guitig, haar lyf warm van die vonkelwyn en van sy haselneut oë wat vir haar heeltemal lyk of hulle hou van wat hulle sien. Asof dít baie met haar gebeur.

Hy kyk haar op en af. “H’m. Kom ek raai. Die kort blonde hare, formeel gekam maar staan tog weerbarstig orent.”

Sy trek haar hand deur haar hare. Lyk sy so sleg?

“En die fyn liggaamsbou, goedgevormde kuite. Die gefokusde kyk in daardie blou oë.” Hy vee ’n haarlok van haar voorkop af weg en haar hart maak opgewonde flikflakke. “Ek dink jy is ’n giminstruktrise.”

Sy kyk hom met ’n verbaasde frons aan en bars uit van die lag.

Sy glimlag word breër en sy oë dans. “Is ek reg?”

Sy sluk haar lag. Die vonkelwyn maak nie reg met haar nie. Sy is heeltemal te geselserig. En te waagmoedig. “Jy kan nie meer reg wees nie.” Hoekom jok sy? Sy is ’n vervelige ou vaal rekenmeester en al oefening wat sy heeldag kry, is om tussen die kantoor en die toilet en die teekamer rond te draf. Wat maak dit saak? Dis net geselsies met ’n baie aantreklike man met dromerige oë. “En jy, wat doen jy?”

“Wat dink jý?” vra hy met ’n skewe glimlag en sluk sy vonkelwyn.

Sy kyk hom op en af. Hý lyk meer soos ’n giminstrukteur. Daardie armspiere en plat maag en sjoe, maar sy gesig is perfek. Die sterk kakebeen, breë glimlag en donker krulhare. Sy wil sommer ’n lok uit sy gesig ook vee.

“Wat het jy besluit?” vra hy.

Sy skrik uit haar droomwêreld. “H’m, jy is ’n pen pusher.” Sy lag vir sy geskokte gesigsuitdrukking. Vir wat giggel sy vanaand so baie? “Nee, ek grap net. Jy is verseker ’n trokdrywer. Ek bedoel met sulke boarmspiere behoort jy lang ure agter ’n groot stuurwiel te sit.” Sy giggel weer.

“Haar liefdeslewe het basies op ʼn wilde safaririt gegaan” – René van Zyl

My trooskos is

KOFFIE (en beskuit).

Ek’s bygelowig oor

Volmaan. Ek is seker daar word ʼn wilde, slaaplose weerwolf in my wakker. Ek het net nog nie die bewyse daarvoor gevind nie, behalwe vir die slaaploosheid.

Wat’s jou gunstelingwoord?

Daar is ʼn paar gunstelingwoorde wat ek nie hier kan neerskryf nie, maar kom ons sê een van die top vyf is: liewe-goeie-donner-tog.

Wat dra jy altyd in jou handsak?

ʼn Chinese oopvou-handwaaiertjie, want ek kry gewoonlik warm − baie meer as normale aardlinge.

Wie is jou gunstelingskrywer?

Die Engelse fantasieskrywer, Terry Pratchett. Veral sy Discworld-verhale. Hy is ʼn ongelooflike kreatiewe en intelligente skrywer met ʼn verbeelding wat verder strek as die verste sterrestelsel. Sy onlangse dood is vir my ʼn persoonlike verlies, maar ek is seker hy is bly dat hy uiteindelik een van sy interessantste karakters ontmoet het: DEATH.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Ek het jare gelede ʼn skryfkursus van Robert Mckee in Londen bygewoon. Ek het so baie geleer, maar hierdie woorde het die meeste impak gemaak: “Write every day, line by line, page by page, hour by hour. Do this despite fear. For above all else, beyond imagination and skill, what the world asks of you is courage, courage to risk rejection, ridicule and failure”.

Waar is die vreemdste plek waar jy al ooit geskryf het?

Ek en my man het jare gelede ʼn kompos-depot in Hartbeespoort gehad. Ek moes dikwels in ʼn muwwerige Wendy-huisie (die kantoor) sit en verkope hanteer. My skootrekenaar was altyd by my en ek het heerlik geskryf so met die reuk van vars, broeiende hoendermis in my neusgate.

As jy nie ’n skrywer was nie

Sou jy ʼn rolprentmaker of voltydse wêreldreisiger wees.

In jou volgende lewe sal jy graag

’n Arend wil wees. Ek voel tans meer soos ʼn ou hennetjie wat soms my kloutjies stukkend skrop om te oorleef.

Is dit jou eie ervaring van die liefde wat tot jou eerste romansetitel gelei het?

Ja beslis. Ek en my man is 29 jaar getroud en ek glo aan ‘happily ever after’ ten spyte van die feit dat ʼn mens so verskil en boonop die lewe se aanslae met hierdie uiteenlopendheid moet hanteer. Dit fassineer my altyd hoe mans en vrouens wat so anders dink halsoorkop verlief kan raak en dit maak werk.

Hoe lank het jy aan jou debuuttitel, Liefdesafari, geskryf?

Ek het ʼn maand lank daaraan gewerk. Dit was so lekker. Toe ek eers begin het, het die storie en karakters die boek self klaargeskryf.

Skryf jy impulsief aan stories of versamel jy eers graag navorsing rondom die agtergrond en konteks van jou storielyn, voor jy skryf?

Ek kry ʼn gedagte en die ding kry dan ʼn lewe van sy eie in my kop. Daarna versamel ek inligting en foto’s op Google van die karakters en plekke waar hulle bly. Dit plak ek uiteindelik teen my studeerkamer se muur, amper soos wat die televisiespeurders doen met ʼn ingewikkelde moordsaak. Nog iets wat ek by Robert McKee geleer het: “Writer’s block is niks anders as ʼn gebrek aan navorsing nie”.

Ek voel altyd daar lê baie betekenis in ’n naam: Hoe kies jy jou karakters se naam en voorkoms?

Ek soek beslis baie deeglik na ʼn lekker naam wat nie net pas by die karakter se persoonlikheid nie, maar ook bewustelik of onbewustelik ʼn betekenis oordra. Ek google lyste en lyste name en vanne asook hulle betekenis voordat ek tevrede is.

Hoe het jy op die titel Liefdesafari besluit?

Toe ek eers die storielyn uitgedink het, het die naam vanself gekom. Die bleeksiel meisietjie wat deur die wildbewaarder betower is en toe op die wildplaas land. Haar liefdeslewe het basies op ʼn wilde safaririt gegaan en sy moes klou om bo te bly.

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Skryf is gewoonlik ʼn frustrerende pad van emosionele verwerping want elke voornemende skrywer WEET verseker hy of sy is die volgende Stephen King of J.K. Rowling. Mens moet egter leer wat die uitgewers nou eintlik wil hê en hoe om dit te doen. ʼn Goeie begin is om kursusse by te woon om juis dit agter te kom. Ek skryf al lankal, alles van musiekblyspele tot vergesogte Middeleeuse verhale, maar ek het eers ná ʼn kursus van Lapa oor die skryf van Romans en Romanzas dit reggekry om te skryf wat die uitgewers op ʼn gegewe tydstip wou hê. En kry ʼn goeie Afrikaanse speltoetser.

Fasade van die hart – Mari Roberts

Fasade van die hart verskyn in Mari Roberts se eerste Romanza-omnibus, Onvoorspelbare harte! Nou beskikbaar by LAPA Uitgewers.

Beate kyk gesteurd op toe die kelner ’n lywige spyskaart na haar uithou, maar glimlag dan dankbaar vir hom. Sy blaai daardeur en soos gewoonlik is elke gereg op die spyskaart watertandlekker.

Sy is so honger dat sy glad nie kan kies nie en begin weer van voor af alles deurlees.

“Die appelkoosspringboksaal is glo heerlik.”

Die haartjies in Beate se nek kriewel toe die diep stem agter haar praat. Langsaam lig sy haar kop, hark die donker kuif uit haar oë en stut haar ken op haar hand toe Derrick, sonder om te vra, oorkant haar plaasneem.

“Jy is steeds so arrogant soos vroeër,” merk Beate lui op, skielik bewus van die intieme atmosfeer van die restaurant toe die kerslig vreemde patrone oor sy gesig tower.

“Omdat ek by jou kom sit?” vra hy spottend en wink ’n kelner nader. “Waarom sal ek alleen sit as ek jou geselskap kan geniet?”

Sy swyg toe die kelner langs hulle verskyn. Terwyl Derrick met hom praat, verluister sy haar aan die rustigheid van sy stem toe hy twee glase vrugtesap en ekstra ys bestel.

“Jy is baie eie om sommer aan te neem dat ek vrugtesap sal drink,” merk sy droog op toe die kelner weggestap het. “Ek sou dalk iets sterkers verkies het.”

“En jy het nog net so ’n skerp bekkie soos destyds.” Hy leun gemaklik agteroor en beskou haar met versluierde oë. “Ons werk môre en kan dus nie een sterk drank drink nie. Netnou sien jy my vir een van die blouwildebeeste aan.”

“Nie maklik nie,” korswel Beate terug sonder om ’n spier in haar gesig te trek. “Jy kon egter eers gevra het wat ek verkies.”

“Ek kon seker, maar jou enigste ander opsie sou ’n gaskoeldrank gewees het.” Hy glimlag stadig en Beate se maag draai ’n volle drie honderd en sestig grade toe hy haar met sy geelbruin oë uitdaag. “Maar jy het destyds gasdoeldranke verpes, dus het ek aangeneem dat jy dalk eerder ’n glas vrugtesap sal verkies.”

Beate kan net na hom staar, te verbaas dat hy iets onbelangrik soos haar koeldrankvoorkeure onthou het. Sy moet op haar lip byt om nie iets simpels kwyt te raak nie en die ongevraagde blydskap in haar te ignoreer.

“My smaak kon verander het,” stry sy uit beginsel.

Derrick leun nader sodat sy die fyn geur van sandelhout kry en tot haar ergernis voel sy hoe haar wange warm word.

“Ek twyfel.” Sy oë vonkel onnutsig toe hy vra: “Jy was nog altyd baie beginselvas. Ek wed jy is steeds mal oor oranje en hou van vrugte-en-chutney-skyfies.”

Laggend skud Beate haar kop. “Jy verstom my met jou oplettendheid.”

Derrick knik hoogs tevrede. “Bettie, jy is enig in jou soort.”

“H’m.” Beate kyk skerp na die blonde reus oorkant haar. “En jy hou steeds daarvan om die wêreld ’n ligte skuddinkie te gee, ongeag wat die konsekwensies gaan wees.”

Toe hy met opgetrekte wenkbroue na haar kyk, vervolg sy: “Jou ongenooide slapery in my kamer vandag.”

“Jammer, man.” Hy lyk egter glad nie jammer nie, maar toe hy na haar kyk, is sy blik versluier. “Het ek onbewustelik probleme vir jou by iemand geskep?”

“Nee, maar dis ’n klein gemeenskappie dié en ’n storie het ’n manier om lelike stertjies te kry.”

“Met ander woorde jy is bang vir jou reputasie,” terg Derrick met iets soos tevredenheid in sy stem.

Beate skuif onrustig op haar stoel rond. “As iemand wil weet, kan jy mos sê ek het op ’n aparte bed

geslaap,” word sy hulpvaardig raad gegee, wat ’n ergerlike tongklik by haar ontlok.

“Wie gaan dit glo?” wil sy verontwaardig weet. “Hoekom het jy nie in jou eie chalet gaan slaap nie? Die bed in my kamer was tog baie ongemaklik en hopeloos te kort vir jou lang bene.”

Derrick is skielik ernstig. “Ek was bekommerd oor jou en wou net ’n rukkie daar lê, maar toe ek my kom kry, is dit vieruur in die middag en die kamer dolleeg.” Sy stem daal ’n fraksie.

“Hoe voel jy nou?”

“Die knop is nog gevoelig, maar ek het gelukkig nie hoofpyn nie.” Beate glimlag skeef, bewus van die heerlike hitte in die omgewing van haar maag oor sy sorgsaamheid. “Dankie vir jou besorgdheid.”

Derrick haal sy skouers op. “Nee wat, ek sou dit vir enigeen gedoen het.”

Sy slaan haar oë neer, onverklaarbaar teleurgesteld dat hy dit nie gedoen het omdat sy spesiaal is nie.

Ruk jou reg, raas sy met haarself en kyk op toe die kelner twee lang glase met yskoue lemoensap en ’n bakkie met ys op die tafel neersit voor hy hul bestelling neem. Hierdie keer laat Derrick toe dat sy vir haarself bestel.

“Goeie smaak,” is sy enigste kommentaar toe sy die appelkoosspringboksaal, wat hy vroeër voorgestel het, bestel. “Ek moes maar weer namens jou bestel het.”

Beate bloos bloedrooi. Die man sal hom darem wat verbeel, besluit sy ontstig.

Onvoorspelbare harte – Mari Roberts

Onvoorspelbare harte bestaan uit drie van Mari Roberts se Romanzas, Dans in die reën, Sprokiesprinses en Fasade van die hart.

Dans in die reën:

Ná vier jaar kuier Lillie weer by haar tante-hulle op die plaas. Nick du Toit is ook daar. Haar kleintydse mentor … die man wat sy liefhet. Hy’s onvoorspelbaar, verwar Lillie, en sy weet sy moet padgee.

Sprokiesprinses:

Die stappery in die Outeniqua moet Zoë se kop skoonkry. Haar selfbeeld is daarmee heen. Om amper met ’n gay man te trou was erg, maar Kian Richards is erger. Koelkop kan sy hóm nie hanteer nie.

Fasade van die hart:

Sy verfoei hom, weet hy’t voete van klei. Van kleintyd af al. Maar Beate moet saam met Derrick de Winter in die helikopter wild jaag. Andersins vermy sy hom, tot die verpestelike rooi rok haar deeglik pootjie.

Lesers is gaande oor Mari se sin vir humor en haar vermoë om hulle te laat ontspan. Koop Onvoorspelbare harte hier: https://bit.ly/2HMPJWU 

Ook beskikbaar as e-boek: https://bit.ly/2rhIHhx

RomanzaLiefde: 2 vir die prys vir 1!

Hartsman – Rosita Oberholster

“Jy sal ’n hartsman vind” hierdie woorde deur haar moeilikste kliënt klink vir Karli profeties. Maar toe sy Phillip Hartsman ontmoet is hy reeds iemand anders s’n. En wanneer hy nader kom, jaag sy hom die harnas in.

BONUSKORTVERHAAL!
In ouma Naomi se strik – Sonja Brown

Jan-Adriaan is seker geen vrou sal saam met sy passie om spinnekoppe te bestudeer kan saamleef nie. Maar sy ouma Naomi het ’n plan en hy weet sommer dit beteken moeilikheid …

Na hoër hoogtes – Marijke Greeff [Heruitgawe]

Ná ’n liefdesteleurstelling doen die internasionale model, Sasha Winckler, haar voor as ’n bibliotekaresse en vlug na haar broer se plaas in die Drakensberg. Hier ontmoet sy die aantreklike buurman wat ná sy egskeiding ’n afkeer aan beeldskone modelle het. Hy weet egter nie wie Sasha werklik is nie.

BONUSKORTVERHAAL!
 Juweel onder sy neus – Miriam Telanie

Met ’n besigheid en seun, het Danfred nie tyd vir liefde nie. Maar geen man kyk ’n juweel onder sy neus mis nie. En Jo Ann, is sy onverwagte skat.

Elke RomanzaLiefde bevat ’n novelle en ’n kortverhaal!

Koop RomanzaLiefde hier: https://www.lapa.co.za/Romanza/RomanzaLiefde  

Jou Mei 2018-leesplesier!

Alles begin met ʼn soen – Dina Botha

 

Martiné kan bloumoord skree. Haar nuutgevonde stiefbroer Stefan irriteer haar. Nie net is hy ouer en gedra hom beterweterig nie, hy dra ook vervelige grys snyerspakke en doen alles volgens die boek. Hoekom bemoei hy hom so met haar doen en late en gee hy vir haar ’n spertyd vir inkom wanneer sy uitgaan?

Dis vir haar onaanvaarbaar dat Stefan haar hart vinniger laat klop, want sy is nie lus vir komplikasies in haar lewe nie. En wat van die beeldskone Amanda, wat perfek in sy rykmanslewe inpas?

Martiné besef sy moet van Stefan af wegkom want dit wat sy vir hom voel, is beslis eensydig. Hy wend immers geen poging aan om haar te keer toe sy wil weggaan nie. Wil hy haar regtig so graag sien vertrek of is sy optrede net ʼn rookskerm vir sy ware gevoelens?

Liefdesafari – René van Zyl

 

Franci moet dringend ’n man kry om ’n vennootskap by haar werk te bekom, maar vir ’n bleeksielmeisiekind soos sy is dit byna onmoontlik. En toe kruis haar pad met die van die superaantreklike Gavin … Hy moet weer blitsig ’n vrou kry om ’n wildsplaas te erf.

Om mekaar uit hul onderskeie dilemmas te help besluit hulle om vinnig te trou. Dit ís immers net ’n skynhuwelik, dan nie? En al is dit nie regtig nie, moet hulle darem minstens die soenstorie ernstig opneem – en ook die intieme dansery …

Boonop is daar ook twee slange in die gras – Kevin en Corlia –  wat probeer om die kammahuwelik te kelder. Was dié skynaffêre nie van die begin af gedoem nie, of was die “skyn” al die tyd die ware Jakob in kamoefleerdrag?

Die diva en die dokter – Trudy Reinhardt

 

Danni woon tydelik op ’n eiland ter voorbereiding vir ’n operakompetisie. Haar paadjie kruis met dié van Justin en dadelik is daar ’n vonk tussen hulle.

Maar Danni se sangloopbaan laat nie ruimte vir ’n vakansieromanse nie, al neem Justin haar te dikwels op te genotvolle uitstappies. Sy kom totaal onder die betowering van sy sjarme, om van sy soene nie eens te praat nie …

Haar toekoms lê op die verhoë van wêreldstede, nie op ’n klein eilandjie nie, besef Danni. Toe sy die kompetisie wen, is dit egter ’n bittersoet oorwinning, want haar hele wese hunker na Justin. Dis egter tevergeefs, want het hy dan nie reeds finaal van haar afskeid geneem nie?

Dié keer en vir altyd – Elsa Drotsky

 

Isabeau is behoorlik vies toe Neil weer in haar lewe verskyn. Hy was immers die toeskouer van haar grootste verleentheid ná haar matriekdans. En nou red hy haar sowaar weer uit haar penaries!

Tog gaan haar hart soos ’n vlugtende wildsbok op hol elke keer as sy hom sien, terwyl hy lustig van een beeldskone vlinder na die ander dartel en haar bloot as ’n lastigheid beskou.

Sy gaan noodgedwonge saam met hom Mosambiek toe, wat glad nie goed is vir haar sielerus nie, want hy soen haar dat haar heelal tot stilstand kom. Maar dis bloot platonies, en die werklikheid terug by die huis voorspel vir haar tog net eensaamheid … of hoe?

Andolet – Petronel Louw

 

Dit is 1899. Oorlede Simon, Andolet se aanneempa, bemaak haar, soos ʼn besitting, as bruid aan ʼn onbekende pionierboer, Christian Nitze, woonagtig op sy plaas in die verre Duits Suid-Wes Afrika. Sy reis saam met haar diensmeisie, Leila na die vreemde, nuwe land. Christian daag nie op om haar in Walvisbaai te ontmoet nie, maar stuur sy nors neef, Ferdinand, om met haar met die handskoen te trou.

Die uitmergelende tog met die ossewaens van Walvisbaai, deur Swakopmund na Windhoek, leer haar oor meer as net die barre Dorsland waardeur hulle trek. Dit laat ʼn vlam tussen haar en Ferdinand ontspring, maar dit mag nie. Sy is, ná alles, ʼn getroude vrou.

Andolet maak vroeg kennis met die onrus tussen die Herero’s en die boere. Haar lewe is in gevaar toe dit bekend word dat die hoofman van die Herero’s haar wil ontvoer. Die aankoms van haar sogenaamde Franse familie begin egter stadig haar ware identiteit ontbloot …

RomanzaKlublede kry 50% afslag op SuperRomanzas! 

Uit die bloute – Chanette Paul

 

ʼn Handgeskrewe brief veroorsaak ʼn kettingreaksie van botsende belange.

As grafoloog kan Ayla Hurter sien die skrywer van die brief sal nie huiwer om iemand kwaad aan te doen nie. Boonop is die handskrif Diana Krause sʼn – haar suster Nimue se boesemvriendin. Ayla besef sy moet Nimue opspoor en teen Diana waarsku – al het sy elf jaar laas van haar gehoor.

Irene Richter beskou grafologie as snert. Sy is oortuig haar suster, Diana, is gebreinspoel en dat die groep waaraan sy en Nimue vermoedelik behoort, die skuld daarvoor dra. Sy sal enigiets doen om Diana te red voor sy moontlik ʼn verdagte in ʼn moordsaak word.

Jojo Richter sit vasgevang in die middel van die twee vroue wat hulle susters soek. En ná die sluipmoord op ʼn gesiene man, besef Jojo haar beloftes van stilswye kan dalk net boemerang. Veral toe dit al hoe meer begin lyk asof ‘n groep vroue wat glo dat ’n moederskip hulle na ’n ander planeet gaan neem, dalk betrokke kan wees.