Die Kersfeeslysie – Dina Botha (Uittreksel)

by Romanza
Die Kersfeeslysie – Dina Botha (Uittreksel)

Een

Dit is die regte adres. Die naam van die besigheid staan in netjiese goue letters op ’n bordjie geskryf en hang aan die ysterhekkie. Rent a nanny. Elani Davis snork liggies deur haar neus om haar misnoeë met die plek duidelik te maak.
“Die eienaar beter hier wees, Daphne, want vandag vertel ek haar hoe pateties haar dienslewering is.”
Daphne kyk haar net met nuuskierige groot, blou oë aan.
“Het jy niks daarop te sê nie? Seker nie. ’n Veertien maande oue baba het mos nie ’n probleem van ’n dag oud nie. Net solank jy melk het en jou boude droog is, is alles hunky-dory. Ek wens ek was so gelukkig soos jy.”
Haar verwyte rol van die dogtertjie se skouers soos water van ’n eend se rug af en sy steek haar hande na Elani uit. Sy lig Daphne uit haar karstoeltjie op die agterste sitplek. Sy druk die motordeur met haar knie toe, maar dit slaan teen haar Louis Vuitton-handsak vas. Sy trek haar asem geskok in en hoop sy het nie die leer beskadig nie. Toe kreun sy gefrustreerd. Dit sou nie gebeur het as Daphne ’n oppasser by die huis gehad het nie. Sy sou haar ook nie nou in hierdie posisie bevind het nie.
Sy skuif Daphne oor na haar linkerheup. Sy swaai haar handsak oor na die ander skouer en het meer beheer oor haar bewegings.
Die hekkie kraak terwyl sy dit oopstoot. Die paadjie na die voordeur is ongelyk geplavei en haar spykerhak steek tussen twee steentjies vas. Met die baba in haar arms kan sy nie juis vinnig loop nie en voordat sy kan struikel, steek sy vas. Sy wurm haar hak versigtig los en hoop nie die skoen is onherstelbaar beskadig nie. Sy weet nie of sy ooit weer so ’n paar Jimmy Choo’s sal kan bekostig nie. Aan die ander kant moes sy dalk nie haar peperduur handsak en skoene op ’n uitstappie na Rent a nanny toe geneem het nie. Elani kyk rond. Die tuin om die huis lyk maar verwaarloos. Praat van ’n misleidende advertensie! Die plek is glad nie die hoogs gespesialiseerde besigheid wat op Facebook geadverteer word nie.
“As jy my vra, Daphne, is die plek niks anders as ’n . . . backyard nanny nesplek nie,” mompel sy onderlangs. Sy rol haar oë, maar dit is vir haarself. Sy haat dit as die snobis in haar so maklik uitklim. Sy probeer hard om te verander.
“Jammer, Daphne, jy het niks gehoor nie, hoor jy my? Die tuin is lieflik. Dit lyk soos ’n park.”
Dit is die ander ding waaraan sy werk: haar sarkasme. Maar nou is nie die tyd om haar selfhelpgereedskap uit te haal nie. Daar is ’n rede hoekom sy voor Rent a nanny se deur staan en dit is ’n goeie een.
Langs die voordeur is ’n klokkie wat sy lank en hard druk. Iewers agter die deur speel ’n verspotte deuntjie. Toe dit ophou speel, druk sy dit weer. En weer. Net toe sy begin dink niemand gaan oopmaak nie, draai die handvatsel.
Voor die deur egter oopgaan, begin ’n omgekrapte stem agter die deur raas: “Dis nie nodig om die klokkie so lank te druk nie, Ivan. Ek het jou die eerste keer gehoor. O, jammer, wie is jy?”
Die man voor haar is langer as die gemiddelde een en sy moet noodgedwonge opkyk. Sy aantreklike gesig laat haar skoon vergeet wat hy gevra het. Blou oë tussen digte swart wimpers kyk haar nuuskierig aan. Sy mond wat so omgekrap gelyk het, ontspan en aantreklike kepies vorm toe hy stadig glimlag. Die kepies langs sy mond loop al die pad na sy oë. Hulle verander net in sagter lagplooitjies.
“Hallo, het jy gehoor wat ek vra? Wie is jy? Kan ek dalk help?”
Hy gee haar twee keuses, maar sy gaan nie een antwoord nie. Die heeltemal té aantreklike man het heel waarskynlik sy kêrel verwag en nie ’n klant nie.
“Ek is ’n omgekrapte kliënt, en ek wil asseblief vir Marion Pelzer spreek. Is sy op kantoor?” Dit is al wat die man behoort te weet. Boonop word Daphne by die oomblik swaarder. “Wel, is sy hier of is sy nie?” vra sy toe dit skynbaar haar beurt is om hom sprakeloos te laat.
“Marion is hier, maar ek weet nie of ek jou sommer kan inlaat nie. Jy klink baie aggressief en . . . dra jy dalk ’n wapen aan jou?”
Sy is nie seker of die man net probeer snaaks wees en of hy ernstig is nie.
“Waar gaan ek ’n . . . ’n AK47 wegsteek? Onder die baba in my arms?”
“Ek het meer gedink in die lyn van ’n mes in jou handsak of in jou . . . Toe maar, ek dink nie jy het ’n mes nie. Kom asseblief binne.”
Soos met sommige sakeondernemings wat van die huis af bedryf word, het die ontvangsarea nie veel persoonlikheid nie. Daar is net twee stoele en ’n koffietafel in die voorportaal geplaas. Op die tafeltjie lê ’n paar tydskrifte en sy is oortuig dat dit horingoud is. Niks aan die plek voorspel klas of styl nie.
Daphne sien iets wat haar aandag trek en wil neergesit word, maar sy hou haar stywer vas. Wie weet wat alles op die ou matte rondkruip.
Hy sien haar ongemak en beduie na die aangrensende deur. “Stap asseblief deur.”
Sy wag dat hy sê Marion sal nou by haar wees, maar hy doen dit nie. Daphne stoei net meer en sy het nie ’n ander keuse as om dieper die vertrek in te loop nie.
“Sit, asseblief.”
“Ek staan sommer.”
Hulle kyk mekaar oor die lessenaar aan en sy wonder oor die ou voor haar se IK. “Hoe lank moet ek so staan en wag? Moet jy nie vir Marion gaan roep nie?”
“O, jammer, ek het nog nie gesê nie: Ek is Marion.”
Hy glimlag weer en dié keer is hy vir seker geamuseerd.
“My ma wou vreeslik graag ’n dogtertjie gehad het en toe kry sy my. Wel, die naam was klaar gekies en ek het toe sommer Marion geword.”
Dit betrap haar effens onkant dat sy met ’n man en nie met ’n vrou moet baklei nie. “Ek wil net seker maak: Jy is dus die eienaar van die besigheid?”
“Dis reg. Jy kan met my praat.”
“H’m, wel . . . ek wil asseblief my geld terughê – al drie maande s’n. Jul diens is absoluut pateties, en boonop is jul advertensie misleidend. Ek is seker dis teen die wet om voor te gee julle is ’n dienslewering-besigheid terwyl julle geen diens lewer nie.”
Sy wag dat haar kil woorde die glimlag van sy aantreklike gesig afvee, maar die lagplooitjies verdiep eerder.
“Sê my eers: Praat ek nou met die nanny of met ’n mamma?”
Elani frons. Sy het geen idee hoekom hy dit wil weet nie.
“Hoekom vra jy?’
“Jy lyk hopeloos te jonk om die mamma te wees. Jy moet dus die nanny wees. Is jy afgedank? Aan die ander kant sal ek ook hoogs ontevrede met ’n nanny wees wat op sulke hoë skoene by my huis opdaag en na my kind wil kyk. Ek sou jou waarskynlik ook in die pad gesteek het.”
Sy is jammer, maar sy vind niks snaaks in dié situasie nie. Die mense verhuur nie net onbekwame mense uit nie; hul bestuur self is ’n bietjie onstabiel.
“Daphne, sit stil,” raas sy outomaties toe Daphne met haar gestoei amper uit haar arms val. Sy kan nie behoorlik dink as die baba so aangaan nie.
Marion loop om die lessenaar en steek sy arms uit. “Ek sal haar vashou, dan sit jy.”
“Nee, Daphne gaan nie na vreemdelinge toe nie.” Dit is duidelik net haar siening, want haar dogtertjie val in Marion se arms. Haar handjie reik dadelik na sy donker krullerige hare wat net-net aan sy kraag raak. Hy trek nie sy kop weg nie, maar glimlag net.
“Hallo, Daphne-pop,” sê hy vriendelik. Hy kyk oor haar kop na Elani. “Kom ons begin eerder voor: Ek is Marion Pelzer, en jy is?”
“Ek is mevrou Davis,” sê sy en laat aspris haar naam weg.
“Wil jy nie maar sit sodat ons rustig kan gesels nie?”
Die hele situasie hét ’n bietjie verspot geraak.
Sy sit terwyl hy oorkant haar plaasneem. Daphne reik dadelik na die notaboek op die tafel, maar hy skuif dit bloot eenkant toe.
“Vertel my waaroor jy so verskriklik vies is.”
“O, ek doen dit maar alte graag. Ek het in drie maande drie van jou kinderoppassers gehad, en ek het boonop ten duurste vir hul dienste betaal. Elke keer het jy my verseker dat die meisie goed opgelei is en . . . nee, wag, ek het met ’n dame gepraat. Nie met ’n man nie. Waar kom ek dan aan die naam Marion?” Sy het haarself nou erg verwar, en sy probeer eers haar gedagtes uitpluis. “O ja, nou onthou ek: Die laaste meisie het my ’n visitekaartjie gegee met jou naam op.”
“Dit was ’n maklike fout om te maak – om te dink dat Marion ’n vrou is.”
“Of jy nou ’n vrou is of nie verander niks aan die situasie nie. Julle het sonder enige gewetenswroeging my geld geneem en ek verwag dat ek terugbetaal word.”
“Dit kan ek nie doen nie. Jy moes drie maande gelede ’n kontrak geteken het waar ons, dis nou Rent a nanny, van die soort ding vrygespreek word. Ek neem aan jy het nie die fynskrif gelees nie?”
“Nee, ek het nie. Wie lees in elk geval ooit die fynskrif? Dis net skelms wat sulke goed in piepklein lettertjies probeer wegsteek.”
Sy het gedink hy sal hom dié keer vir haar vererg, maar die man verloor blykbaar nie beheer oor sy emosies nie. Hy glimlag net en dit is uiters frustrerend.
Hulle albei hoor die voordeurklokkie lui en Marion staan dadelik op. “Verskoon my, asseblief. Dis seker Ivan, my ontvangsklerk. Hy het skoonmaakgoed gaan koop.”
Elani boog haar wenkbroue verras, maar dit is vir haarself. Hy het reeds met haar baba in sy arms by die deur uitgeloop. Sy sit terug in haar stoel. Die ou plekkie het sowaar ’n werkgewer en ’n ontvangsklerk. As hulle huishoudelike skoonmaakmiddels benodig, sal daar ook ’n skoonmaker wees, wat beteken ’n hele paar mense moet salarisse ontvang. Natuurlik sal hulle nie hul kliënte se geld wil terugbetaal nie. Toegegee, sy maak dalk nou net haar eie afleidings, maar dit is hoe dit voorkom.
“Ivan, ons het ’n gas. Bring asseblief vir ons ’n pot tee en as daar nog is, ’n paar koekies.”
“Ek maak so, Marion.”
Ivan se stem klink jonk, maar glad nie verfynd nie. Dalk is Ivan nie Marion se kêrel nie, maar werk hy inderdaad net daar. Sy sug heimlik. Daar gaan sy al weer met haar afleidings!
“Ek sal netnou na ons rekords gaan kyk, maar vertel my asseblief van jou drie oppassers. Wat was fout met hulle?”
“Laat ek dink: baie. Vir ’n begin was Heleen liewer vir haar oorfone as vir haar werk. Daphne kon bedags haar stembande luidkeels oefen terwyl Heleen lekker snoesig in haar eie wêreldjie musiek geluister het. Ek moes ten minste een keer per dag vir haar sê om haar oorfone af te haal.”
“En die tweede een?”
“Pam kon alles doen – dit moet ek toegee – maar sy het nie vuil doeke geruil nie. Dit maak haar kwansuis naar. Sy het my elke keer in my studeerkamer kom roep om ’n doek te vervang. Dit was uiters steurend. Ek kan nie alles in ’n oogwenk los net om ’n doek te ruil nie. Dis hoekom ek háár betaal om dit te doen. Toe Daphne die eerste keer met brandboude sit, het ek Pam gevra om te gaan en het ek vir ’n ander oppasser gevra. Terloops, wie was die vrou met wie ek telkemale telefonies gepraat het?”
“Dit sou met Rita Kotze, die vorige eienaar gewees het.”
“Jy het dus die besigheid by haar oorgeneem?”
“Dis reg, omtrent ’n maand gelede. Ons het toe na dié perseel verhuis.”
“H’m, dit verklaar seker baie, maar dit beteken nie noodwendig dat die nuwe bestuur ’n beter diens gaan lewer nie.”
Weer eens rol haar subtiele sarkasme van sy rug af. “Wat was nommer drie se probleem?”
“My probleem was meer met haar kêrel as met haar. Suzelle was die enigste een wat voltyds by my ingewoon het. Ek het gedink dit sal sake vir my vergemaklik, maar dit het nie. Haar kêrel was tydig en ontydig op my sitkamerbank, in my yskas of op my internet. Dit was so goed of ek het twee huismaats gehad. Toe ek haar daaroor aanspreek, het sy gesê ek moet kies: dis sy én die boyfriend of niks. Nou ja, glo my dit was nie ’n moeilike keuse om te maak nie. Ek het haar en die kêrel gevra om te gaan.” Sy pen Marion met ’n kil blik in sy stoel vas. “Kyk, ek kan jou seker nie kwalik neem oor die eerste twee meisies nie, maar die derde een het jou visitekaartjie by haar gehad. Dit maak haar dus jou probleem.”
“Jy is seker reg. Ek sal haar gedrag moet aanspreek. A, hier is ons tee.”
Ivan lyk baie jonk – asof hy pas van die skoolbanke af kom. Hy skink vir hulle tee voordat hy sê: “As jy my soek, ek werk hier langsaan aan my taak.”
“Ivan doen ’n online kursus,” verduidelik Marion al het sy nie uitgevra nie.
Elani staan op en loop om die lessenaar. Dit lyk of Daphne ’n oomblik huiwer, maar toe steek sy haar handjies na Elani uit.
“Gee gerus vir haar ’n koekie.”
“Daphne eet nie koekies nie.”
“Dis vreemd, ek dog alle kinders hou van koekies.”
“Sy het by die huis haar eie koekies wat nie suiker bevat nie,” sê sy effens kortaf.
“Koekies wat nie suiker bevat nie? Hoe werk dit? Dit kan onmoontlik lekker wees.”
Elani roer haar skouers. Sy hoor ’n verskuilde verwyt, en sy hou nie daarvan nie. Sy is ook nie van plan om haar koskeuses vir Daphne met ’n wildvreemde man te bespreek nie. Sonder om aan haar tee te raak sê sy: “Ons moet gaan.”
“Wag, ek dog ons gaan oor ’n plaasvervanger vir Suzelle praat.”
Haar mond val byna oop. “Ek glo nie wat ek hoor nie. Jy wil sowaar ’n vierde meisie aan my afsmeer! Dit nadat ek jou pas vertel het hoe onopgelei hulle vir die taak was. Die enigste rede hoekom ek persoonlik hiernatoe gekom het, was om my registrasie- en maandelikse werwingsfooi terug te kry – wat blykbaar nie gaan gebeur nie. Om oor die diens en kwaliteit van die oppassers te kla is duidelik ook ’n mors van asem en tyd. Sê my dus: Hoekom sal ek vir ’n vierde keer iets probeer wat duidelik nie werk nie?”
Amuseer haar tirade die man of wat? Dit het pas gelyk of hy sukkel om sy lag weg te steek. Haar bloeddruk styg met ’n graad of twee. Sy swaai haar handsak oor haar skouer en tel haar motorsleutels op. Sy wil sommer net uitmarsjeer, maar besluit dan daarteen. “Kan ek jou ’n bietjie advies gee, van een sakepersoon aan ’n ander?”
“Asseblief, lig my in.”
“Jy moet jou besigheid beter leer ken. Dis duidelik dat jy geen idee het wat iemand van ’n kinderoppasser verwag nie. Die feit dat jy boonop ’n man is en iets aan mense verkoop wat jy glad nie ken nie, gaan sake in die toekoms net meer kompliseer.”
“Wat presies bedoel jy met die feit dat ek ’n man is? Kan ’n man nie ’n kinderoppasser-agentskap bestuur nie? Is dit wat jy impliseer?”
Vir die eerste keer voel dit of sy deur sy gemaklike pantser van onverskilligheid gedring het, en dit is lekker. “Wanneer dit by kinders kom, verstaan vroue beter wat ander vroue nodig het. Dis al wat ek gaan sê. Nou moet jy my verskoon, meneer Pelzer. ’n Lekker dag verder vir jou.”
Marion staan op, en sy sê vinnig: “Ons ken die pad deur toe.”
Sy loer werktuiglik by die ander deur in wat ook in die voorportaal uitloop. Ivan sit voor ’n rekenaar, en die tafel is besaai met papiere en handboeke. Hy het nie gejok nie; hy is besig met ’n taak of ’n ding.
“Wat ’n vermorsing van kosbare tyd om hiernatoe te kom, Daphne. Ons moes van beter geweet het,” gesels sy met die kleintjie terwyl sy haar in haar stoeltjie vasmaak. Tevrede dat die dogtertjie veilig is, skuif sy agter die stuur in. Sy werp ’n laaste blik in die rigting van die huis. Die voordeur is toe, nes sy dit agter haar gelaat het.