Die mense langsaan – Salma Swanepoel (Opvolgverhaal van Meng dit goed)

Vakansieromanse

Vandat die nuwe mense langs Karla ingetrek het, is niks meer lekker nie.

“Hulle stofsuig hul motor op ’n Sondag, tannie Marié,” kla sy by haar stiefouma. “Drie-uur in die middag, in die oprit, wanneer ander mense wat deur die week hard werk ‘n bietjie wil slaap. Soggens vyfuur skwiek hulle garage se deur my wakker.” Sy teug aan haar warm koffie, onthou dan nog iets. “En gistermiddag het hulle vuur gemaak terwyl my wasgoed nog op die draad gehang het. Al my werksklere ruik na rook.”

“Ja, kind, die meenthuisies is maar naby aan mekaar gebou,” paai tannie Marié.

“Dis ááklig as mens snaakse bure het,” sug Karla.

“Klink vir my maar net na mense met ’n skoon motor wat soggens vroeg opstaan en op ’n Saterdagmiddag ’n bietjie wou braai,” laat haar oupa van hom hoor. “Dis nie snaaks nie, dis eintlik heel normaal.” Hy sit regop. “Dink ’n bietjie: dalk doen jy ook dinge wat húlle pla.”

Karla se mond val oop. “Soos wat nogal?”

Haar oupa haal sy skouers op. “Dalk sing jy te hard in die bad. Wat sê jy, Vroutjie? Jy het tog in die einste huis langs haar gewoon voordat sy Kupido gespeel het en ons twee aan die trou gekry het.”

Marié klik haar tong kastig verontwaardig. “Jou kleinkind was ’n baie goeie buurvrou, hoor.” Sy sit ’n bordjie met ’n stewige sny sjokoladekoek voor Karla neer. “Mens het skaars geweet sy is daar.”

 

Vyfuur die volgende oggend is dit weer die sagte, aanhoudende gebrom van ’n motorenjin wat haar wakker maak. Karla gaan loer later vieserig deur die sitkamervenster. Die bure se voertuig staan sowaar reg voor háár huisie, en dit lyk of die bestuurder daarvan na sy selfoon sit en kyk. Sy sien mos die liggie! Gmf, dink sy, daar is seker beter plekke om te sit en Google as voor iemand anders se huis! Skielik gaan die motordeur oop en die man klim uit. Karla los die gordyn soos ’n warmpatat en staan terug. Voor hy haar sien en dink sy spioeneer op hom! Hy laat die enjin sowaar luier en Karla hoor sy voetval soos hy vinnig stap om wie weet wat in sy huis te gaan haal.

“Seker maniere binne vergeet,” brom Karla en gaan maak gelate vir haar koffie. Sy kon nog ’n goeie uur se slaap ingekry het. Miskien moet sy met oorpluisies begin slaap. Dan sal dit die bure se skuld wees as sy nie haar wekker hoor nie en laat by die werk aankom!

 

“Gaan maak kennis met die mense, dalk is hulle heel gaaf,” stel haar oupa die volgende Sondagmiddag voor. Karla het sommer by voorbaat in haar motor geklim sodat sy nie weer die irriterende gestofsuig moet aanhoor nie. Eers het sy ’n fliek gaan kyk, want sy weet haar oupa-hulle rus ook graag op ’n Sondagmiddag, en sy wil nie te vroeg daar aankom nie. Sý is nie soos die bure nie. O nee, haar ouers het haar bedagsaamheid geleer!

“Ja,” beaam tannie Marié. “Mens moet maar op vriendelike terme met jou bure wees, dis baie belangrik. Gaan sommer môre. Vat ’n lekker eetdingetjie saam om hulle welkom te heet, dan laat weet jy ons hoe dit gegaan het.”

Kosmaak is nou nie juis Karla se sterk punt nie. Eenpotgeregte, ja, dit kan sy deesdae maak. Nie góéd nie, maar dit is iets. Sy wonder of die vrou langsaan ’n goeie kok is. Karla het haar nog nie met ’n oog gesien nie, en skielik is sy nuuskierig oor haar nuwe buurvrou. Ag, sy moet seker een of ander tyd maar gaan kennis maak. Voor sy haar oë uitvee woon die mense al ses maande langs haar en dan is ’n kennismaking ongemaklik.

Gewapen met ’n tuisnywerheid-melktert klop sy die volgende middag laat aan die bure se voordeur. Dit is die man wat oopmaak. Hy staar haar sprakeloos aan, knip dan sy oë stadig.

Karla staan ewe stom daar. Dan ruk sy haarself reg. Wel, soortvan. “Is jou vrou hier?” is al waaraan sy kan dink om te sê.

Hy maak keelskoon. Kug nog ’n keer. “My wat?”

Wat moet sy volgende sê? wonder Karla. Die man gaap haar net aan, dit lyk nie of hy haar gaan binnenooi nie. Haar brein werk oortyd. Sy hou die melktert na hom uit. “Welkom in die buurt, lekker aand!” sê sy en druk dit in sy hande. Daarmee vlug sy na die veiligheid van haar eie huis. So ja, haar plig is gedoen. Done and dusted.

Tannie Marié moet nou net nie vanaand gaan staan en bel om te hoor hoe dit met die kennismaking gegaan het nie. Want die vet weet, al wat sy tot dusver sal kan sê is dat haar buurvrou ’n dekselse mooi man het.

 

Die volgende dag is ‘n riller. Die lang beurtkragsessie krap almal in die kantoor om en oplaas stuur die baas hulle ’n uur vroeër huis toe – dit help tog nie hulle sit langer in ’n kantoor sonder elektrisiteit en koffie en knor vir mekaar nie, sê hy. Sy en haar kollega Anelda gaan koop warm lasagne by ’n winkel met ’n kragopwekker en eet dit by die tafel op  Karla se agterstoep.

“Daar is ’n man op die dak,” sê Anelda toe hulle byna klaar is.

“Hoe nou?”

“Dáár. Agter jou.”

Karla draai om en kyk. Sowaar, die buurman sit op sy dak. Tipies, net toe hulle lekker sit kom bederf hy hul ete. Wie kan nou rustig sit en kuier as iemand mens van bo af staan en beloer? Sy kom orent en begin eetgerei bymekaar maak.

“Ek wil nog ’n tweede skeppie hê!” protesteer haar vriendin. Dan praat sy gedemp. “Is hy getroud, jou buurman?”

Karla sak onwillig terug in haar stoel. “Ja, hy en sy vrou woon daar.”

“Die mooies is ook altyd gevat,” sug Anelda en kantel haar kop. “Ai, so ’n paar bene. Hy is seker ’n drawwer. Of hy klim rots.”

“Sjuut, netnou hoor hy jou!”

“Ag, hy weet nie eens ons sit hier nie, hy kyk heeltemal anderkant toe,” klik Anelda haar tong. “Maar nou ja, dit help ook nie ons sit ons aan ’n getroude man en vergaap nie, nè?”

“Óns? Dis beslis nie ek wat my vergaap nie.”

Anelda kyk haar deur vernoude oë aan. “Hoekom so defensive, vriendin?”

“Hulle is van die irriterende soort bure,” sug Karla. “Kom ons gaan eerder in, die muskiete is lastig.”

 

Saterdagoggend is sy besig om vloere te was toe haar oupa bel om te vra of hulle kan kom kuier; tannie Marié het bredie vir Karla se vrieskas gemaak.

“Ag, Tannie is dierbaar,” sê Karla toe Marié die netjiese foeliebakkies op die kombuistoonbank uitpak.

“Daar is nog ’n sak in die motor, jou oupa bring dit.”

Haar oupa bring ook nuus. “Jou buurman is besig om sonpanele op sy dak vas te maak,” sê hy en sit die sak haastig neer. “Ek stap gou oor om te kyk.”

“Ek dink nie jy moet op ’n leer klim nie, ou man,” begin tannie Marié bekommerd.

“Ek sal onder staan, dalk kan ek sy gereedskap vir hom aangee.”

“Stuur sy vrou na ons toe vir tee,” roep sy nog agter haar man aan.

Eers ’n goeie uur later is Karla se oupa terug. “Slim plan wat die man het, met hierdie week se baie beurtkrag het ek juis aan sonpanele gedink.” Hy gaan sit met ‘n genoeglike suggie. “Gawe kêrel wat langs jou woon, Karlatjie. Hy werk toevallig saam met jou neef, Gert. Hulle ry glo al jare saam fiets.”

Vandaar die mooi, gespierde bene, dink Karla en skaam haar onmiddellik omdat sy so iets kan dink.

“Maar hoekom het sy vroutjie nie oorgekom nie?” wil tannie Marié weet. “Ons wag en wag, toe drink ons maar op ons eie tee.”

Karla se oupa skud sy kop. “Nee, hy’s g’n getroud nie.”

“Maar hy het dan …” begin Karla, dan bedink sy haar. Die twee ouer mense kyk haar vraend aan. “Hy het dan nou die dag eers ingetrek, en nou werk hy al só,” verander sy haar storie. Die mansmens het dan daardie middag toe sy die melktert geneem het gesê sy vrou is nie tuis nie. Het sy verkeerd gehoor?

Haar oupa knik. “Flukse man, lyk dit my. Hy sê hy stort net gou al die werkstof af, dan kom hy hierna. Julle het mos gesê ek moet die mense oornooi.”

Karla se verbaasde “Hoe nou?” en Marié se ingenome “O!” klink gelyktydig op.

Toe daar minute later ’n klop aan die voordeur is, spring Karla op. Die man moes binne ’n rekordtyd gestort het. “Ek gaan tap gou nog water in die ketel,” sê sy gou.

In die kombuis kyk sy af na die ouerige bloes en jeans wat sy vir huisskoonmaak aantrek. Haar naellak begin ook ‘n bietjie afdop, sy wou nog ‘n vars laag verf nadat sy skoongemaak het. Ag, Karla, berispe sy haarself. Dit is tog net die buurman. Hy wil eintlik net verder met haar oupa kom gesels, waarom sal sy nou omgee hoe sy lyk?

Karla is reg. Ná ’n vlugtige gegroet hervat die twee mans hulle gesprek van vroeër; iets oor batterybanke. Haar oupa is so entoesiasties hy sit later op die punt van sy stoel terwyl Francois, die buurman, praat en verduidelik.

“Die manne praat so hard, ek en jy kan nie eens hoor wat ons gesels nie!” sê Tannie Marie later met ’n knipoog vir haar.

Karla glimlag stywerig. Sy is byna te bang om na die man wat skuins oorkant haar sit te kyk. Die vorige keer wat sy gekyk het was dit reg in sy blou oë. So asof hy haar ook gesit en beloer het. Nou kyk sy maar na die koffietafel voor haar. Een van sy groot hande verskyn in haar gesigveld toe hy strek en nog ’n koekie vat. Geen skaamte nie, dit is seker al sy vyfde koekie! Sy loer na sy middellyf. Nee wat, hy kan maar vat. Seker van al die fietsry saam met Gert. Hy doop die koekie in sy koffie en kyk skielik reguit na haar terwyl hy die helfte byt en smaaklik kou. Sy oë kreukel asof hy kan raai wat sy dink. Karla voel hoe haar gesig warm word.

“Ek sal enige tyd vir Oom kom raad gee,” praat hy toe hy klaar gekou het. “Deesdae het ’n man soveel opsies, dit is regtig onnodig om soos in die vorige eeu met kerse en kampstowe te sukkel wanneer die krag afgaan.”

Arrogant, dis wat hy is, besluit Karla en wonder of hy die klein gasstofie in haar kombuis kan sien staan. En hier voor hulle op die koffietafel staan die vet sitronella-kers wat sy saans aansteek om die muskiete te verjaag. Vorige eeu? Gmf! Hy dink seker hy is met sy ou sonpanele so ’n raps beter as gewone mense. Sy draai haar skuins en probeer opnuut met tannie Marié gesels.

 

’n Paar aande later is daar ’n klop aan haar deur. Dit is donker en die stoeplig werk nie. Die krag is al weer af. Karla staan besluiteloos in die voorportaal.

“Dit is Francois van langsaan,” kom dit gedemp deur die toe voordeur.

Sy gaan kry haar Coleman-lampie en sluit oop.

“Ek is jammer om te pla.” Hy lyk verleë. In die lig van die lamp lyk sy hare deurmekaar en sy gesig ’n bietjie vuil. “Ek kom net ’n kers leen. Asseblief.”

“’n Kers?” Karla se oë rek, maar gelukkig bedwing sy haar. Iets sê vir haar dat die man voor haar verby moeg is en nie sou geklop het as hy nie aan die einde van sy tou was nie.

“Jy mag maar lag,” antwoord hy ernstig. “Dit is nogal lagwekkend. Ek was so ingenome met my sonpanele en my batterye, maar toe ek netnou die laaste van die drade deur die plafon lei, kom ek agter die hele spul is te kort. Ek het verkeerd gemeet. Nou nodig ek ’n kers om lig te maak terwyl ek ’n ander plan maak. Seker vuurhoutjies ook, asseblief. Die kafee op die hoek is toe en die ding waarmee ek altyd die braaivleisvuur aansteek is skielik net weg. En my selfoon se battery is pap, ek het sy liggie gebruik om in die plafon te sien.” Hy sug moeg.  “Vanaand se lang beurtkrag het my lelik onkant gevang.”

Dalk is die man tog nie arrogant nie, dink Karla en bekyk hom skewekop. Dalk was hy nou die dag maar net opgewonde oor sy projek. Soos wat haar oupa ook nou oor sy nuwe sonpanele is. “Ja-nee, fase vier is nie ’n grap nie,” sê sy dan en staan terug. “Kom in.”

In haar sitkamer sien sy hoe hy na die kamer kyk. Hy lyk verras. ’n Paar kerse brand gesellig op die koffietafel, en oor haar skootrekenaar se luidspreker speel mooi musiek. Sy sit die lamp op die klein tafeltjie langs die rusbank waar sy gelê en lees het.

“Ek het kookwater vir koffie,” begin sy huiwerig. “Ek het dit nou net op die gasstoof gekook.”

Iets soos verligting flits oor sy gesig. “Ek het direk na werk in die dak geklim, koffie sal hemels wees.” Hy kyk vertwyfeld na sy stowwerige voorarms. “Kan ek dalk jou badkamer gebruik?”

Karla knik en tel weer die Coleman op. “My huis se badkamer is op dieselfde plek as jou huis s’n. Vat die lampie saam.” Die man het seker ook nog nie geëet nie, dink sy terwyl sy die lang figuur met die breë skouers agternakyk. Miskien moet sy van tannie Marié se lekker bredie uithaal en …

By die gang se deur draai hy skielik om.  “Ek moet net vir jou sê … Jy is regtig oulik …”

Haar oë vlieg wyd oop, maar dan skep hy asem en beduie om hom rond “… ingerig. Vir die beurtkrag.”

Karla weet nie of die lamp se lig so betroubaar is nie, maar nou lyk sy gesig vir haar nogal rooi.  Sy plant haar een hand in haar sy. “Al is dit met kerse en goeters uit die vorige eeu?”

Francois haal sy skouers verleë op. Dan glimlag hy en lig die lamp in sy hand effens. “Alles het seker sy tyd en plek,” sê hy voordat hy weer omdraai.

Hierdie man kan maar gereeld in die toekoms by haar ’n kers kom leen, besluit Karla terwyl sy koffiebekers uithaal. Hy kan sy drade nog ’n hele paar keer verkeerd meet, sy sal glad nie omgee nie. Toe sy draai staan Francois in die deur. Hy neem die beker uit haar hand en hulle vingers ontmoet, en dan hulle oë. Die kerslig flikker oor sy gesig. Ja, die ligte kan maar af bly.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>