Die verkeerde man – Alexa Steyn (Uittreksel)

Die verkeerde man - Alexa Steyn

 

“Tersia!” roep iemand haar naam en sy kyk op in die geskokte gesig van niemand anders nie as Braam Lategan.

“Wat maak jy hier in die reën en koue?” Hy klink ontsteld. “Jy is sopnat,” sê hy toe hy langs haar hurk. Sy sien die diep frons tussen sy oë in die strale van die motor se ligte.

Haar tande klap só opmekaar dat sy nie ’n woord kan uitkry nie en sy kyk hom net met groot oë aan. Haar reëndeurdrenkte wolmus hang soos ’n nat sak oor haar kop en die water loop in klein stroompies teen haar gesig af.

“Wil jy vir my sê . . . kom jy nóú eers van die berg af?” vra hy geskok.

Sy knik woordeloos.

“Ek . . . ek het my enkel seergemaak,” antwoord sy klappertand terwyl sy na haar linkervoet beduie.

“Liewe hemel, mens, ek het jou byna te laat in die pad gesien. Ek kon jou doodgery het!” sê hy met ’n stem hees van ontsteltenis. “Kom ek help jou op. Jy moet onmiddellik uit hierdie nat klere kom.” Hy steek sy arms onder hare in en lig haar moeiteloos op. Dan tel hy haar met een beweging op in sy arms terwyl sy aan sy nek vasklou.

“Ek sal jou kar sopnat maak,” protesteer sy toe hy die bakkie se deur oopmaak en haar op die sitplek neersit. Sy maak haar arms van sy nek af los en vou hulle voor haar bors om die bewende spiere te probeer beheer. Sy kan die warmte van sy liggaam deur haar deurnat klere voel en die sagte geur van sy naskeermiddel huiwer in haar neus.

“Bog!” sê hy bars terwyl hy haar stapstok ook inlaai voordat hy die deur toeklap en vinnig om beweeg om agter die stuurwiel in te klim.

“Wat het jou besiel om so lank op die berg te bly? Het jy dan nie die weer sien opsteek nie?” vra hy kwaad toe hy wegtrek.

“Ek het, maar dit was te laat.”

“En as ek nie nou toevallig hier verbygery het nie?” tier hy voort.

“Ek . . . ek weet nie,” stamel sy. Meteens is alles net te veel vir haar om te verduur. Braam Lategan se ongeduld met haar ontstel haar nog meer en sy probeer nie eens om haar deurmekaar emosies te beheer nie. Sy bars proesend en snikkend in trane uit. “Moenie . . . moenie so . . . met my raas nie!” roep sy emosioneel uit. “Dink jy vir een oomblik dat ek hierdie hele gemors beplan het?”

Sy sien uit die hoek van haar oog hoe hy vin­nig na haar kyk. Toe sê hy berouvol: “Ek is jammer, Tersia. Vergewe my. Dis van skrik dat ek so met jou raas. Behalwe vir die feit dat jy op die berg kon verkluim het, het ek jou boonop nog amper doodgery. Toe ek weer sien, was jy voor die bakkie in die middel van die pad. Ek het my byna doodgeskrik,” verduidelik hy en klink opreg spyt. Deur haar trane sien sy meteens die sagtheid van sy mond.

Sy antwoord nie, staar net vorentoe na die lig­strale wat deur die nag klief. As sy net die bewerasie kan beheer, dink sy ietwat desperaat. Sy voel heeltemal magteloos.

“Asseblief, sê jy vergewe my?” vra hy toe sy nie op sy verduideliking reageer nie. Hy sit sy een hand op haar bewende bobeen. “Dis maar my manier. Ek weet dis nie ’n goeie eienskap nie, maar ek is ge­neig om kwaad te word as ek so skrik,” verduidelik hy verder.

“Dis oukei. Ek is nie kwaad vir jou nie. Ek besef ek het ’n dom ding gedoen,” antwoord sy en probeer haar bes om nie te stotter nie. “Dis van pure ver­ligting dat ek aan die huil gegaan het.” Haar tande klap steeds opmekaar en sy sukkel om haar woorde uit te kry.

Ná ’n paar oomblikke van stilte vra hy: “In wat­ter rondawel bly jy?”

“No. . . nommer drie,” antwoord sy klappertand. Sy kan dit nie verdra om so magteloos te voel nie. Die onwillekeurige geruk van haar ledemate put haar net verder uit. “Die sleutels is in my baadjie­sak.”

KOOP Die verkeerde man HIER: https://lapa.co.za/die-verkeerde-man

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>