Genoeg vir my – Marilé Cloete (uittreksel)

Een

  “Kan ek vars lemoensap kry, asseblief?” Alexandria het al agtergekom hier in Kroasië word Engels soms net vir selfverdediging gebruik, veral onder die ouer garde. Sy vorm dus die sinnetjie versigtig in Engels, spreek die woorde mooi stadig uit.
Die eienaar van die Konavoka Art Caffe kyk haar uitdrukkingloos aan. “Nô.” Hy skud sy kop ferm om klem aan sy weiering te verleen.
Sy is onverhoeds betrap en haar weerstand is buitendien vandag laag. ’n Dommerige “Huh?” ontsnap onverhoeds oor haar lippe. Met sweet wat op haar voorkop pêrel en haar kaal bene wat aan die kunsleer van die bank vaskleef, voel sy regtig nie op haar skerpste nie.
“No orange.” Sy grys hare is aan die yl word en sy gesig getuig van ’n lewe in die son. Hy was nie altyd die eienaar van ’n gesellige restaurant in Kroasië se mooiste stad nie, besluit sy in haar gedagtes.
’n Groot deernis kom in haar op, die deernis wat sy gereeld voel wanneer sy opnuut besef elke mens het sy storie, sy redes hoekom hy is wat hy is. Hierdie man is oud genoeg om Kommunisme plus die daaropvolgende oorlog te beleef het. Wie is sy, bevoorregte persoon, waarskynlik die helfte van sy ouderdom, om neer te sien op sy gebrekkige Engels? “Fanta, asseblief.” Om dinge makliker te maak, wys sy na die woordjie op die spyskaart. Sy probeer maar om die skrikwekkende prys mis te kyk; sy is te dors en te warm om regtig om te gee.
Solank sy wag, slaan sy haar skootrekenaar oop en kyk of daar ’n beskikbare Wi-Fi-netwerk is. Dankie tog, daar is. Sy moet nóú met haar susters praat of die eensaamheid gaan haar finaal oorweldig. “Wi-Fi password?” vra sy toe die bitter klein botteltjie Fanta voor haar neergesit word en wys vir duidelikheid na haar foon.
’n Papiertjie met ’n ellelange kodewoord word voor haar neergeplak. Sy reik daarna soos ’n drenkeling na ’n reddingsboei, gaan na WhatsApp en maak die groepie Ons vier oop. Waar is julle? tik sy met klewerige sweetvingers en sit terug om die peperduur koeldrank slukkie vir slukkie te geniet.
Esmeralda antwoord eerste: Ek borsvoed. Soos gewoonlik.
Alex se gemoed lig sommer. Sy kan hulle so sien: Essie en klein Robbie in die koelte van Essie en Henk se slaapkamer op haar grootworddorpie in die Karoo. Wanneer gaan jy eendag ophou? tik sy.
Beslis voor Robbie skool toe gaan, kom die antwoord blitsig. Dit het ’n grappie in die familie geword: deur-die-blare Essie wat so floreer as ma dat sy haar werk as die dorp se bibliotekaresse voorlopig opgegee het en glad nie skaam is om haar peuter nog te borsvoed nie.
Ek is pas amper deur ’n pasiënt gebyt, kom Cassandra by. Dit was so hittete.
Hond of perd? Cassie is ’n fisioterapeut vir diere en haar pasiënte verstaan nie altyd dat sy hulle beste belange op die hart het nie.
Groot, bang hond. Alex dink onwillekeurig aan Francois wat sy Lea na Cassie gebring het vir behandeling en op die ou end haar hardekwassussie se hart gewen het.
Ek maak kos. Huis vol gaste, kom dit van Desmond, hulle pa, wat net deur hulle Pa genoem word as hulle ’n spesiale gunsie van hom nodig het.
Die verlange na haar mense maak haar keel dik. Ek sit in Dubrovnik tussen hordes toeriste en kry warm en verlang na julle.
Kom huis toe, Alex. Van haar pa.
Ek wil nie sonder jou trou nie. Van Cassie.
Robbie moet haar tante leer ken. Van Essie.
Soek steeds na ’n lang, aantreklike man, blits sy terug. Dis nog ’n grappie in die familie: haar soektog na ’n man wat haar in die oë kan kyk, wie se oë nie op die vlak van haar borsgleufie is nie. Op haar omswerwinge deur Europa het sy wel etlike lang mans raakgeloop, maar daar het altyd iets met hulle geskort. Te veel selfvertroue, of te min. Te arm of te ryk. Of getroud. Of lui. Of verbeeldingloos. Laasgenoemde was die ergste. Sy kan tog nie saam met ’n verbeeldinglose mens die lewe ingaan nie. As skrywer is haar verbeelding haar behoud, haar lus en vreugde. Selfs as tandarts het sy dikwels haar verbeelding nodig om iemand se glimlag effektief te kan herstel. ’n Man sonder verbeelding sal beslis nie deug nie.
Hoe lyk die talent rondom jou? Van Essie.
Alex kyk vir die eerste keer regtig na die ander mense in die restaurant. Kelnertjie niks ouer as twintig nie, tik sy. Eienaar lank genoeg, maar oud en moeg. Haar oog vang die man in die oorkantste hoek. Hy het ’n koppie koffie en ’n bottel water voor hom. Hy is verdiep in die boek langs sy koppie. Oorkant is een wat nie te sleg lyk nie, tik sy. Hy is ten minste ’n leser.
Gaan vra hom wat hy lees, blits Cassie terug.
Sê nou hy kan nie Engels praat nie? antwoord sy.
Wag, ek bel jou gou op WhatsApp, val Essie in. Robbie slaap eindelik.
Alex is nie regtig lus vir praat nie. Sy het gewoond geraak aan die veilige afstandelikheid van internetkommunikasie. As hulle haar stem hoor, gaan haar mense agterkom dit gaan nie besonder goed met haar nie. Sy het egter nie ’n keuse as om Essie se oproep te beantwoord nie. As sy moet weier om met een van haar familie te praat, is die hele klomp summier op haar nek.
“Hoe lyk die man met die boek?” is Essie se eerste woorde.
Alex probeer ongemerk na hom kyk. “Nie te sleg nie. Seker so vyf en dertig. Donker hare, bietjie uitgegroei, krullerig. Klam van die sweet soos almal hier rond.”
“’n Mens kan moeilik verkeerd gaan met ’n man wat lees. Lyk hy vir jou lank?”
Alex begin nou die speletjie geniet. Sy loer onder haar wimpers deur na die man. “Sy bene is te lank vir die ruimte onder die tafeltjie. En hy het ’n yslike paar voete, bruingebrande, harige bene.”
“O, ek is tog nie een vir haarlose mans nie. Loop vra die ou wat hy lees, toe man.”
“Essie, ek is darem nog nie so desperaat nie. Net oor jy en Cassie julle groot liefdes ontmoet het, beteken nie ek moet nou onmiddellik ook voor Kupido se pyltjies swig nie. Dalk moet ek julle kinders se interessante oujoungnooitante word.”
“Jy’s interessant genoeg, sussie. En jy kry nie meer oujongnooiens nie, net vrouens wat toevallig nie getroud is nie.”
“Wel, ek is toevallig nie getroud nie en doodgelukkig met die toestand van sake.” Sy weet egter voor haar siel dis nie die volle waarheid nie. Dit raak haar wel dat haar susters albei hulle groot liefde gevind het en sy is nog alleen. En sy weet dit raak hulle ook; hulle gun haar ook die geluk wat hulle gevind het.
“Ag, Alex, kom nou huis toe, man. Dis nie nodig om dadelik terug praktyk toe te gaan as jy nie lus is nie. Jy kan tog enige plek skryf – dalk kom jou groot deurbraak een van die dae. Ons mis jou.”
“Ek mis julle ook.”
“Gaan vra nou die man, toe?” Essie se laggie klink of sy sommer hier by haar is.
“Ek gaan nie die man vra wat hy lees nie. Koebaai, en liefde vir Henk en Robbie en my pa.” Ja, sy is tog ’n bietjie jaloers op haar jongste sussie. Veilig met haar gesinnetjie, net ’n klipgooi van hulle pa af.
Sy skakel die foon af, maak die dokument waarmee sy besig is oop. Sy staar lank na die woorde op
die wit skerm. Die storie wil maar nie sy loop kry nie. Dis al vir haar of haar karakters deesdae eendimensioneel en vervelig is. Haar reise en al die nuwe ervarings help nie meer nie. Dalk is dit werklik tyd vir huis toe gaan.
Die man oorkant haar het intussen opgestaan. Hy is inderdaad lank genoeg na haar sin. Hy gaan betaal by die toonbank en draai dan om na haar toe, hou sy boek vir haar om die voorblad te sien. Voor sy nog haar asem kan terugkry, draai hy terug en verdwyn met lang treë uit by die deur.
Alex voel of sy aan die brand kan slaan van verleentheid. Die boek wat die man na haar gedraai het, is Deon Meyer se Prooi. Nie ’n vertaling in een van die talle tale waarin Suid-Afrika se gewildste skrywer al vertaal is nie, nee, dis die Afrikaanse titel wat op die voorblad pryk.
Alex gryp verbouereerd na die laaste bietjie peperduur Fanta. Haar binneste is in beroering. Die man is Afrikaans. Hy het elke woord verstaan wat sy oor hom gesê het. En die mooiste bruin oë met die langste swart wimpers wat sy nog ooit aan ’n mansmens gesien het, het vir ’n oomblik in hare gelag.
“Wyn,” sê sy vir die eienaar wat haar effens vreemd aankyk. “Ek het wyn nodig.”
Vir ’n oomblik versag sy streng gesig. “Yes, Madame.”
Sy word nog ’n paar grade warmer. Selfs die restauranteienaar wat sekerlik nie ’n woord Afrikaans verstaan nie, het gekliek wat ’n yslike gek sy van haarself gemaak het.
Alex sak stilletjies op die bankie by die klein restaurant op die stadsmuur neer. Hopelik kom jaag die eienaar haar nie onmiddellik weg as sy niks bestel nie. Sy moet net ’n bietjie eenkant kom, uit die gedrang van die skare wat op die beroemde muur van Dubrovnik se ou stad aan die stap is. En sy moet ’n besluit neem oor die boodskap wat sy vanoggend uit die bloute via Facebook gekry het. Verbeel jou – haar jeugliefde is hier in Dubrovnik en hy wil haar graag sien. En volgens sy Facebook- profiel is hy nog net so aantreklik soos destyds. Maar wie sê hy is nie in ander opsigte ook nog dieselfde nie? Sy moet onthou van die minder aangename dinge, die dinge wat haar destyds bang gemaak het.
Sy strek haar bene en kruis haar enkels. Haar voete wys wit lyne waar gister se sandale haar gevoelige vel teen die kwaai son beskerm het. Sy gaan ná dese interessante patrone op haar voete hê. Hierdie plek se son laat speel nie met hom nie, al is dit al vroegherfs. Sy het gereken hier sal al meer sprake van die mildheid van herfs wees. Dalk
moes sy maar nog ’n bietjie in Skandinawië gebly het; sy is nou eenmaal nie een vir hitte nie. Dis een ding waarna sy nie verlang nie – die skroeiende somerhitte van haar tuisdorp in die Karoo. Maar sy verlang wel na die koel skemering van haar pa se huis wanneer die luike toegeslaan is teen die hitte en die pas van die lewe ’n bietjie stadiger word.
Die hoop dat sy ongemerk ’n bietjie kan sit, beskaam egter, want die eienaar staan reeds langs haar, ’n professionele glimlag op sy nogal aantreklike gesig. “You order?” vra hy. “Orange juice? Apple?”
Haar kop werk vinnig. Sy het alreeds ’n peperduur roomys asook ’n botteltjie water by vorige kafees op die muur gekoop, sy het nie werklik nog sap nodig nie. Maar hierdie man doen nie soveel besigheid soos die kafees wat vroeër op die roete geleë is nie. Die meeste mense het al genoeg verversings geniet as hulle hier verby kom. Haar sagte hart laat haar versmelt. “Orange, molim, asseblief,” probeer sy dapper ’n bietjie Kroaties te voorskyn haal. Van die bekende Europese tale het sy op haar omswerwinge die nodigste woordeskat opgetel om ten minste te wys sy probeer die betrokke persoon se taal respekteer. Maar hierdie taal sit haar ore aan. Daar is net mooi niks wat aan Afrikaans of Engels herinner nie. Die eienaardige kombinasies van konsonante laat haar nogal aan Pools dink. Sy moet onthou om te gaan google oor die tale wat in hierdie streek gepraat word.
“Hvala, dankie,” prewel sy toe die piepklein botteltjie kunsmatig gegeurde lemoensap vir haar aangegee word. Dit kom nou van dink aan die gesin wat die man seker met die kafeetjie hier op die muur onderhou. Sy sit weer eens met onvoldoende lafenis teen die spreekwoordelike plaas se prys. Sy trek haar voete uit die son en laat haar oë gly oor die stroom jong mense wat verby haar gaan. Sy voel skoon oud teenoor die groepe jeugdiges wat laggend en skertsend selfies neem en roomys eet en sommer oor die algemeen sorgeloos lyk.
Meteens breek een van die jonges weg uit sy groep, smyt die houtbankie by die tafel langs haar klaterend op die klipvloer om en verdwyn laggend in die skare. Sy staar hom geskok agterna. Was dit nou nodig? Plein onbeskoftheid, dis wat dit is. Ledigheid, dalk. Of sommer net hormone.
“Ag nee, donner tog.”
Sy ruk amper haar nek af by die aanhoor van die Afrikaanse woorde. Sedert sy ’n paar dae gelede so sleg oorgekom het met die Afrikaanse man in die restaurant, is sy meer bedag op die feit dat jy nie oral in Europa so anoniem in die massas beweeg soos jy graag wil glo nie. ’n Volks- of taalgenoot dop alte maklik tussen al die vreemdes uit.

Dis waaragtig die man van die restaurant. Hy het van êrens gekom en maak nou die bankie weer staan. Sy donker hare krul sweterig in sy nek, groot hande vat sorgsaam aan die ou bankie, asof dit iets kosbaars is.
“Why you do that?” Die eienaar het hom na buite gehaas, staan nou hande op die heupe voor die man.
“Dit was nie ek nie,” antwoord hy verontskuldigend. “Dit was sommer ’n ledige toeris wat dink hy is snaaks.”
“You’re lying. Why are you lying?” Dis laat in die dag en laat in die toeristeseisoen. Die mense hier se lont is seker maar op hierdie stadium kort.
“Ek het nie gejok nie, ek het net probeer help.” Hy het ’n mooi, diep stem met ’n onmiskenbaar Afrikaanse aksent. Dis duidelik dat hy sy klein gebaar nou deeglik berou. ’n Frons keep op sy voorkop en laat die donker wenkbroue amper aan mekaar raak.
Alex se ingebore sin vir regverdigheid laat haar nie toe om die klein petalje passief te sit en bekyk nie. Sy lig haar moeë lyf van die bankie af en voeg haar by die twee manne wat nou lus lyk vir baklei. “Dit was nie hy nie. Dit was sommer ’n verspotte jong man in die skare. Onbeskof,” verduidelik sy in mooi, duidelike Engels.
“Jy ken hierdie man?” vra die eienaar nou ’n bietjie vriendeliker. Hy weet baie goed hy was gelukkig om die piepklein botteltjie koeldrank teen die astronomiese prys aan haar afgesmeer te kry.
“Ek ken hom nie, maar ek het gesien wie so simpel was. Dit was nie hy nie.”
Die eienaar se gesig versag, hy steek ’n hand na die Afrikaanse man uit. “Ek is jammer, Meneer. Toeriste is soms maar baie ongeskik, ’n mens raak later oorgevoelig.” Die man se Engels is goed. Hy is van die jonger geslag, tuiser in die toerismebedryf as die ouer garde.
“Dis niks.” Alex kan sien sy handdruk is stewig. Desmond sal van hom hou. Haar pa kan tog nie ’n man met ’n slap handdruk verdra nie.
“Kom drink ’n koeldrank saam met die dame,” glimlag die eienaar nou. “Op die huis.”
“Ja, dankie. Ek moet die dame seker bedank.” Hy kyk nou vir die eerste keer behoorlik na haar, sy ergernis iets van die verlede.
“Die meisie van die restaurant die ander dag.” Sy oë vonkel ondeund. Regte slaapkameroë wat die man het.
“Inderdaad,” prewel sy verleë.
Hy steek sy hand uit, glimlag breër. “Christiaan Beukes van die Boland, aangenaam.” Sy tande is wit, egalig, sy glimlag lyk opreg.
“Alexandria Mulder van die Karoo. Hallo.”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>