Hart van kant – Didi Potgieter (Uittreksel)

by Romanza
Hart van kant – Didi Potgieter (Uittreksel)

Een

Amanda kyk subtiel op haar horlosie en moet ’n kreun onderdruk toe sy sien hoe laat dit is. Sy stuur ’n skietgebed op dat die onderhoud met hulle gesin nou einde se kant toe staan. Dit voel immers daar is niks wat die joernalis nog nie weet van Ben en Karin White nie.
Die man stem egter in vir nog ’n koppie tee en dit verg baie van Amanda om nie opsigtelik kriewelrig te raak nie. Miskien kan sy haarself verskoon?
Sy is besig om ’n plan in haar kop te beraam toe die joernalis na haar toe draai en vra of hy nog ’n paar vrae aan haar kan rig.
Genade, sy kan regtig nie dink watter bydrae sy moontlik nog kan maak tot die artikel oor haar pa se suksesvolle termyn as goewerneur van Tennessee nie. Sy het immers al genoeg kere vertel watter liefdevolle, betrokke pa hy was en hoe hy ten spyte van sy besige loopbaan altyd daar was vir sy kinders.
Sy blaas haar asem uit en fokus daarop om haar glimlag sag te hou. “Natuurlik.”
Haar moed sak verder in haar skoene toe hy homself van voor af gemaklik in een van haar ma se gunstelingleunstoele maak. “So Amanda, jou winkel, die White Boutique, doen baie goed en op nege en twintig het jy al ’n taamlike naam vir jouself gemaak. Jou pa se posisie het seker baie deure vir jou in die bedryf oopgemaak?”
Vir ’n sekonde of twee dink Amanda sy het dalk verkeerd gehoor, die vraag het immers niks te make met haar pa se loopbaan nie. Dan sink die vraag in en sy hou met moeite haar glimlag opgeplak. Voor sy vir die man ’n koel antwoord kan gee, vou haar pa se hand om hare. “My posisie as goewerneur het dalk ’n deur of twee oopgemaak, maar Amanda se talent het hulle oopgehou en nog ander oopgemaak. Deesdae is Amanda White ’n naam op baie bruide se lippe.”
Die duidelike trots in haar pa se stem laat haar effens ontspan, maar die volgende vraag maak dit egter ongedaan. “En jou verhouding met Matthew Jameson?”
Ergernis laat die vel om haar keel warm gloei. “Vra jy of my of my pa se naam die verhouding begin het, of my talent hom daar gehou het, want dit moet jy hom eintlik self vra. As jy my nou sal verskoon, ek het ’n belangrike kliënt wat môre in Colorado trou en ek sal nou moet ry as ek my vlug wil haal.”
Sy staan op en sonder om terug te kyk stap sy weg. Sy hoor haar pa laggend verskoning maak oor politikusse se kinders en sy glimlag self. Ben White is dalk die goewerneur van Tennessee, maar hy is haar pa en sy kan net hoop dat sy eendag met ’n man soos hy kan trou.
Hoekom die gedagte haar aan Clinton Anderson en nie Matthew nie laat dink, kan sy om die dood nie sê nie. Maar daar is nie tyd om te wonder hoekom haar gedagtes die beeld van die nors veearts van Ridgeway opgetower het nie; sy moet oor ’n uur op die lughawe wees en sy moet voor dan by die boetiek stop. Sy moet ’n trourok oplaai voor sy lughawe toe gaan.
Amanda byt haar lip. Sy weet dit is eintlik nie haar keuse nie, maar sy het nie vrede met die rok wat Christi gekies het nie. Eintlik ook nie met die bruidegom nie, maar dit het nog minder met haar te doen. Wat sy egter nie kan toelaat nie, is dat Christi met daardie plein rok trou terwyl sy wat Amanda is, weet presies watter rok vir haar bedoel is. Die hemel weet hoekom Christi nie eers die ander rok wou aanpas nie, maar in haar hart weet sy dat die jongste lid van die countrygroep bitter spyt gaan wees as sy nie eers probeer nie.
Gelukkig is Amanda se bagasie met die swart kantrokkie wat sy deur die loop van die week vir haarself vir die troue gemaak het, reeds in die kattebak en sy hoef nie eers by die huis te stop om dit te kry nie. Die onderhoud wat hulle met haar pa gevoer het omdat hy aan die einde van sy termyn is, het meer tyd in beslag geneem as wat sy verwag het. Amanda ry effens oor die spoedgrens om so vinnig moontlik by die White Boutique te kom.
Sy parkeer reg voor die boetiek en spring omtrent uit haar kar. Whitney, haar winkelassistent, kyk verbaas op van agter die toonbank. “Ek dog jy is al in Montrose.”
“Darem nog nie. Ek het die rok kom haal.”
Whitney se glimlag verbreed. “Ek is bly.”
Amanda knik en stap na die kleresak wat sy teen een van die relings gehang het, en vir oulaas trek sy die ritssluiter oop. Ja-nee, dink sy tevrede, hierdie rok is beslis Christi s’n. Sy tel haar naaldwerksak op vir ingeval daar enige verstellings aan die rok gaan wees, maar sy twyfel.
Dit is immers die prentjie wat sy van Christi op haar troudag het.


Dit was ’n lang en warm dag en Clinton wil regtig net op die stoep sit met ’n bier of twee tot die moegheid so ’n bietjie uit sy lyf is. Die drie nuwe perde wat hy ’n ruk terug gered het, het hom behoorlik besig gehou en met Richard aan die gang by sy nuwe huis, was daar nie die ekstra hulp waaraan hy gewoond geraak het nie. Hy sou nooit gedink het hy sou dit sê nie, maar hy gaan die bekende rockster se raakvatmanier met die perde mis. Met die winter wat voorlê en die stalle wat hy volgende jaar wil aanbou, is daar nie nou regtig geld vir ekstra hulp nie.
Dan is daar die gerugte van ’n merrie wat net buite Montrose onder haglike omstandighede aangehou word, wat nog die hele oggend by hom spook. Die hemel weet, hy het nie plek in sy begroting of stalle vir nog ’n perd nie. Oor twee weke, as Richard se stalle reg is en die drie daarheen geskuif kan word, is daar dalk plek, maar hy wil nie vir Richard geld vra vir die perde nie. Dit voel nie reg nie, nie ná alles wat hy gedoen het in die tyd wat hy hier op Mountain Valley was nie.
As Richard nie uit sy eie iets vir die perde gee nie, sal hy ’n ander plan maak. Hy het nog altyd.
Hy haal sy hoed af toe hy by die agterdeur instap. Berta kyk vlugtig op van waar sy besig is om pampoene te skil. “Daar is koue bier in die yskas en daar is steaks gemarineer wat jy vir ons later op die rooster moet gooi. Ek moet die pampoenpasteie vir die troue môre klaarmaak.”
Hy knik en maak die yskas oop. “Wil jy iets hê om te drink?”
“Appelsap sal nou heerlik wees, dankie.”
Hy skink vir haar voor hy sy bier oopmaak. “Ek het gedink om so ’n paar minute net te sit, maar ek kan jou gou eers help pampoen skil?”
“Nee, jy is te vuil, gaan rus so ’n bietjie, dan gaan was jy die reuk van perd van jou af. Ek het vir Richard genooi om saam te eet, maar ek kon sien dat hy nie in ’n goeie bui is nie, so ek glo nie hy gaan kom nie.”
Clinton skud sy kop en vat ’n sluk van sy bier. Hy hoef seker nie sy teorie met Berta te deel dat hy dink Richard se bui het te doen met die vrou wat môre die bruid is nie. Dit het niks met hom te doen nie, maar dit wat hy die afgelope tyd voor hom sien gebeur het met Richard, is presies hoekom hy glad nie van plan is om ooit ’n vrou te naby aan hom te hê nie – die hemel weet, as die liefde so ’n uitwerking op ’n geharde rockster soos Richard Barret het, hoe gaan hy lyk as hy die dag sy hart verloor?
Om die een of ander onverklaarbare rede kom die blonde modeontwerper se gesig by hom op en hy skud sy kop. Nee wat, hy het genoeg moeilikheid soos dit is, hy het nie die goewerneur van Tennessee se dogter nodig om dinge verder om te krap nie.