Iemand soos Zander – Elize Davies (Uittreksel)

Iemand soos Zander – Elize Davies (Uittreksel)

Een

“Ek dink ons moet so gou moontlik trou.”

Lori se hand ruk. Die kookwater wat bedoel was vir Hein se koffiebeker stort wild oor die rand. Haar hare swaai toe sy haar kop vinnig draai, maar Hein sien nie haar skok raak nie. Trouens, hy sien haar glad nie raak nie. Hy staan met sy rug na haar en bestudeer die almanak teen die kombuismuur.
’n Dikkerige wysvinger druk op ’n blokkie. “Wat van die Saterdag ná Kersfees? Ons kan die agt-en-twintigste trou en die laaste week van die skoolvakansie gebruik vir ons wittebrood. Ek moet terug wees as die skool begin. Ek kan nie skooldae misloop nie, nie noudat ek gaan waarneem as skoolhoof nie.”
Hy gloei behoorlik van trots en tevredenheid, en Lori se mond gaan oop in woordelose protes. Krummeltjie het ’n broodjie geword, dink sy bitter. Besef Hein nie hoe ongevoelig hy klink nie? Dis haar pá se plek as skoolhoof wat hy gaan inneem, vervlaks, haar pa, wat twee weke gelede in sy studeerkamer inmekaargesak het en wat hulle vanoggend in die dubbelgraf langs haar ma gebêre het.
Hein draai weg van die almanak. “Ek sal môre by dominee Venter gaan hoor of die datum hom pas. Onder die omstandighede sal dit vanselfsprekend ’n klein troue wees – jy wil tog seker nie ’n groot affêre hê met ’n vreeslike rok en ’n onthaal en alles nie? Ons sal natuurlik my ma en susters nooi, en ’n paar kollegas, en as jy wil, kan jy ’n vriendin of twee ook vra. My ma het gesê ons kan haar verloofring kry, so, ons moet net trouringe koop.”
Hy kyk darem nou na haar, maar hy sien haar nog steeds nie raak nie, dink Lori verontwaardig.

“Dan is daar jou pos vir volgende jaar.” Hein trek ’n kombuisstoel nader en plak homself neer. Sy oë vernou en hy tuur peinsend voor hom uit terwyl hy dinge beplan. “Dit sal dinge vergemaklik as ek en jy by een skool is en by dieselfde aktiwiteite betrokke is. En ons kan natuurlik brandstof bespaar as ons saam skool toe ry. Juffrou Vermaak tree die einde van Januarie af. As ons solank die nodige papierwerk afhandel, kan jy vanaf die eerste Februarie in haar pos aangestel word.”
Lori vat ’n vadoek en vee die water wat sy gestort het, sorgvuldig op. Sy sit Hein se koffiebeker voor hom neer.

“Dankie,” knik hy afgetrokke. “Daar is nog iets wat met jou pa se dood en die begrafnis agterweë gebly het, Lori, en dis die huis wat jy by jou oupa geërf het. Jou pa het vir my die twee aanbiedinge wat jy gekry het, gewys, en dit lyk billik, maar vir veiligheid sal ek môre met Henk Richter gaan praat. Hy is die beste eiendomsagent in die omgewing. Die huismark is nie nou waffers nie, maar ’n eiendom aan die kus behoort ’n goeie prys te haal. As ek en jy hier in jou pa se huis kom bly, kan ons die geld van jou oupa se huis belê. Dit kan ’n lekker neseiertjie wees. Hoe eerder ons die bal aan die rol kry, hoe beter.”
Lori leun teen die kombuiskas en bekyk Hein krities. Hy is lank, breedgeskouer en fris. Sy snorretjie is netjies geknip en sy perfekgesnyde ligblonde hare wys nog geen teken van grys nie. Maar sy hare raak yl en hy moet oppas, ten spyte van gereelde sportoefeninge saam met sy laerskoolspannetjies is hy besig om ’n boepie te kry, dink sy katterig.

Eindelik praat sy. “Hein, hoe lank ken ek en jy mekaar?”
Hy kyk fronsend op. “Seker omtrent drie jaar. As ek reg onthou, het jou pa my vir ete genooi net ná my aanstelling as adjunkhoof by Laerskool Koppieslaagte. Hoekom?”
“Want ek glo nie jy ken my hoegenaamd nie, Hein,” sê sy stil. “Ek het nie aspirasies om Bruid van die Jaar te wees nie, maar vandat ek klein is, droom ek oor drie dinge as ek die dag trou: ’n mooi ring, ’n mooi rok, en ’n droomman wat my liefhet aan my sy. Ek is bevrees jou planne vir ’n vinnige afskeeptroue geval my nie. Dit bring my by die volgende punt: Wat laat jou dink dat ek met jou wil trou, Hein? Ons het wel af en toe saam uitgegaan, maar jy het my nie lief nie, ek het jou nie lief nie, en wat meer is, jy het my nog nooit eens gevra nie.”
Hein staar uit die veld geslaan na haar. “Maar, Lori, ek en jy . . . Jou pa het gesê . . .” stotter hy. Dan ruk hy homself sigbaar reg. “Lori, moenie verspot wees nie,” beveel hy in sy skoolmeesterstem. “Ek en jou pa het lank voor sy dood hieroor gepraat. Hy het saamgestem: Jy sal ’n goeie vrou vir my wees. Waar kom jy nou aan jou lawwe idees?”
Hy staan op en stap nader, sy koffie vergete. Lori deins terug, maar sy groot hande beland swaar op haar skouers.

“Toemaar, my ding, jy is seker nog hartseer en geskok oor jou pa se dood,” paai hy. “Maar jy hoef nie jou mooi koppie oor enigiets te breek nie. Ek sal al die nodige reëlings tref.”
Woede stoot in Lori op. My ding? Sy is niemand se ding nie – niemand s’n nie. Sy beweeg rats onder Hein se groot hande uit, by die kombuisdeur uit, deur die gang en tot in die sitkamer. Hein kom soos ’n skaap agterna.
By die voordeur draai sy na hom. “Moenie moeite doen met troureëlings nie, Hein. Ek wil nie met jou trou nie. Ek stel ook nie belang in ’n pos by die laerskool nie. Ek gaan buitendien nie terug Hoërskool Koppieslaagte toe nie; ek het bedank. Wat my oupa se huisie op Skulpbaai betref – hy het sy huis aan my nagelaat, nie aan my pa nie, en nie aan jou nie. Ék sal besluit wat met die huis gebeur en ek wil definitief nie verkoop nie. Jy sien, Hein, ek trek oor ’n week Skulpbaai toe. Ek het ’n pos by Skulpbaai Hoërskool gekry en ek gaan in my oupa se huis bly.”
Hein se mond gaan oop, maar hy kry nie ’n woord uit nie. “Maar . . . Wat . . .? Hoe . . .?” stotter hy eindelik. “Wat van hierdie huis?”

“Hierdie huis is verkoop. Die nuwe mense trek ná Kersfees in.” Sy maak die voordeur oop. “Dankie dat jy my pa se begrafnis bygewoon het, Hein,” sê sy ferm. “Jy sal my nou moet verskoon. Ek het baie om te doen. Die huis moet ontruim en skoongemaak word vir die nuwe eienaars.”
Nadat sy die voordeur agter Hein se stywe, gebelgde rug toegesluit het, begin sy giggel. Hein se verstomde uitdrukking was ’n prentjie.
Dan verdwyn haar glimlag. Eintlik behoort sy nie verbaas te wees dat haar pa en Hein al lankal haar toekoms tot in die fynste besonderhede beplan het nie. Hein de Lange is nes haar pa – net so bekwaam, net so onverbiddelik streng, net so gevrees onder sy leerlinge. En net soos haar pa is hy ’n boelie: ’n oorheersende, manipulerende boelie wat dink hy kan mense se lewens skik soos dit hom pas.

Sy moes dit noodgedwonge van haar pa verduur. Sy kon nooit die moed bymekaarskraap om die juk van respek en gehoorsaamheid wat deur ’n leeftyd van onbuigbare dissipline op haar gelê is, af te skud nie. Maar sy hoef dit nie van sy opvolger te verduur nie.
Sy hoef dit van niemand te verduur nie. En sy sal ook nie. Nooit weer nie.