In sterre geskryf – Elsa Winckler (Uittreksel)

by Romanza
In sterre geskryf – Elsa Winckler (Uittreksel)

Een

Dankie tog, die hekke is nog oop. Uitasem val Tessa agter in die ry passasiers wat besig is om instapkaartjies te skandeer voor hulle deurstap vliegtuig toe. Agter haar hoor sy ook nog stemme, sy is darem nie heel laaste in die ry nie. Die OR Tambo-lughawe is ook so groot, sy moes hardloop om betyds te wees. Dis Woensdag, drie dae voor Kersfees, en die lughawe is omtrént besig. Vrolike Kersmusiek blêr oor luidsprekers en oral is Kersversierings aangebring.
Tessa verkyk haar so aan die versierings en mense, sy besef eers haar penarie toe die persoon voor haar sy instapkaartjie oorhandig. Haar kaartjie is op haar foon en haar foon is in haar oorgroot handsak wat oor haar skouer hang. Om dit vinnig in die hande te kry is nie so eenvoudig nie. Haar een hand hou haar naweektas vas en in haar ander hand is twee inkopiesakke met klere wat nie ook nog in haar tas of haar handsak kon pas nie. Terwyl sy nader aan die toonbank stap, trek-trek sy die tas en skuif die inkopiesakke oor haar pols sodat haar vingers los is om na haar foon te soek. Sy begin krap in haar handsak. Haar vingers kom met allerhande ander dinge in aanraking, maar nie met haar foon nie. ’n Boek wat Lelanie met ’n groot glimlag in haar sak gedruk het, lipstiffie, haar woonstelsleutels en . . . kant en satyn.
Gister se shopping spree het ook onderklere ingesluit, maar dié klein pakkie het sy amper vergeet. Sy was vanoggend al by die deur toe Lelanie die sakkie op die kombuiskas sien staan en in haar handsak druk. Dit is gelukkig klein genoeg. Maar iewers met die gegrawe op soek na haar foon moes die onderklere uit die sakkie geval het.
Voor haar word die ry vinnig korter en sy het nog nie haar foon nie. Gewoonlik is sy baie georganiseerd, maar sy het hopeloos verslaap en Lelanie het net alles wat rondgelê het in die kamer in haar handsak gepak terwyl Tessa teen die spoed van lig aantrek.
Ai tog, die persoon voor haar in die ry is klaar en sy het nog nie haar foon nie. Die passasier agter haar se tas kap ongeduldig teen haar kuit. Iemand het met die verkeerde voet uit die bed geklim.
“Um . . . jammer, ek soek na my foon,” beduie sy vir die grondwaardin. Sy sit haar tas en die inkopiesakke neer en haal haar handsak van haar skouer af sodat sy behoorlik kan soek.
Agter haar brom iemand, ooglopend baie ongelukkig oor die oponthoud. Uiteindelik vou haar hand om haar foon en met ’n groot glimlag haal sy dit uit en maak dit oop sodat die kode geskandeer kan word.
“Uit-flippen-uiteindelik.” Dié keer is die gebrom agter haar hard genoeg sodat sy dit kan hoor.
Sy neem haar foon, tel haar tas weer op en gee ’n breë glimlag oor haar skouer vir die grompot agter haar.
Blouselblou oë, kort bruin hare, breë skouers, stoppelbaard. ’n Moerige uitdrukking op sy gesig. Sy registreer alles binne sekondes.
“Jy hou die ry op,” byt hy die woorde uit.
Met groot inspanning kners Tessa op haar tande en stap vinnig agter die ander passasiers aan. Soos gewoonlik glimlag sy gou weer. Sy kon nog nooit lank kwaad bly nie.
Foeitog, die stomme man het miskien net ’n drukkie nodig. Wie weet, dalk was sy koffie vanoggend flou of het hy die liefde van sy lewe verloor. Of straks voel hy net eenvoudig nie lekker nie. Moontlik het hy ook mommy issues soos die meeste van die mans met wie sy te doen kry. Daar is altyd ’n rede hoekom iemand so knorrig is.
’n Vriendelike vlugkelnerin by die ingang van die vliegtuig laat haar sommer beter voel. Soek-soek na haar sitplek, stap sy in die paadjie af. Die vliegtuig is al klaar baie vol. Sy kyk weer op haar foon om seker te maak van haar sitplek. Dis in die heel agterste ry teen die venster.
Dit is wat gebeur as jy jou instapkaartjie te laat bevestig. Gelukkig is die vlug George toe net sowat twee uur lank – hoe erg kan dit nou wees? En hopelik het haar broers haar boodskap gekry en sal een van hulle op die lughawe wees om haar te kom haal. Dan is dit son, see en saffier tot ver anderkant Nuwejaar. Vir die eerste keer in twee jaar sal al drie haar broers ook vir Kersfees by hulle strandhuis op Buffelsbaai wees; sy is al so opgewonde.
Dis net drie slapies voor Kersfees en haar hart begin sommer sing. Vandat sy kan onthou, is sy mal oor Kersfees. Haar ma gaan voluit. Op die eerste Desember word hulle hele huis op die plaas buite Durbanville omtower in ’n Kersfeeswonderland. Klokkies en glasballe en linte en strikke en Kersvadermannetjies en elke denkbare en ondenkbare versiering word op elke moontlike oppervlak uitgestal.
Kersmusiek weergalm van vroeg tot laat deur die huis. Sy is mal oor al die ou liedjies, die nuwes, dié oor sneeu en sneeuvlokkies, oor takbokke met rooi neuse, selfs oor die klein tromspelertjie, ’n deuntjie wat haar broers nie kan verdra nie. En daar word gebak en gebrou. Die koekieblikke is weke voor die tyd vol van almal se gunsteling-kleinkoekies, die gerookte varkboud word sorgvuldig gaargemaak en gevries, die skaapboud uitgesoek, en pakke en pakke vleis vir braai word netjies gevries vir die kuier op Buffelsbaai.
Sommer die eerste dag wat hulle op Buffelsbaai aankom, gaan soek haar pa en broers ’n Kersboom, en so met die geur van dennenaalde in die lug, versier almal wat die vakansie daar is, die Kersboom in hulle strandhuis.
Kersfees beteken vir haar lang, sorgvrye dae onder die Afrikason, lang geselse om die tafel, baie lag en luilekker dae op die strand. Sy kan nie wag om weer by haar mense te wees nie.
Die passasier voor haar in die gangetjie gaan sit en Tessa beweeg vinnig verder tot by die laaste ry. Net twee stoele, sien sy terwyl sy haar handsak op die sitplek teen die paadjie sit. Dalk is sy gelukkig en kom niemand langs haar sit nie. Die bagasierak bo hulle koppe is reeds oop en sy lig haar tas op om dit in te druk. Omdat sy kort is, is dit altyd ’n uitdaging, maar sy weet al wat werk. Sy staan op haar tone, lig die tas en spring, maar voor sy die tas in die rak kan inskiet soos wat sy gewoonlik doen, verskyn ’n arm voor haar en vat haar tas by haar.
“Van al die onnosel dinge, en dit lyk my jy spesialiseer daarin . . .”
Dis weer Grompie. Duidelik hoogs geïrriteerd met haar, druk die groot man haar tas hardhandig in die bagasierak.
Sy tel die inkopiesakke op, dit kan sy self inskiet, maar met sy kake stewig opmekaar, vat hy dit ook by haar en sit dit bokant haar tas in.
“Dankie.”
“Sit jy hier?” vra hy kortaf en beduie na die ry waar haar sitplek is.
Sy antwoord hom nie, skuif net in en gaan sit op haar plek. Oomblikke later sak sy lang, lenige lyf langs haar neer. Net betyds sluk sy ’n kreun in. Seriously? Dis ’n yslike vliegtuig, hy kan enige ander plek sit, hoekom beland die knorrige vent juis reg langs haar?
Binne millisekondes vul ’n subtiele muskusgeur die klein ruimte agter in die vliegtuig en sy sukkel om asem te haal. Sjoe, dis darem nou skielik baie warm. Sy steek haar hand uit en draai die luggat bokant haar oop. Heerlike koel lug spoel oor haar. Dis beter. Sodra die vliegtuig opstyg, moet sy by die badkamer uitkom. Dit is gelukkig net skuins agter hulle.